Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Beleef weer Kersfees deur die oë van ’n kind

DEUR SIMONE GAUCHE

My seuntjies het hierdie jaar vir die eerste keer ’n Kerssangdiens bygewoon. Soos met Kerssangdienste van kleins af, bly die hoogtepunt steeds die sing van “Stille nag” heel aan die einde van die diens.

Lomp kersies pronk in herwinde gaskoeldrankbottels. Vlammetjie vir vlammetjie verhelder die kerksaal. In die donker kerksaal beleef ek opnuut weer die wonder van Kersfees in my kinders se opgewonde gesiggies wat verlig is met kerslig.

Ek staan terug en kyk hoe die liggies versprei van persoon tot persoon soos kersies een vir een aangesteek word.

Die kinders is so opgewonde dat dit lyk of hulle vibreer! Instrumente begin speel en ons word meegevoer na die lig van ’n vuur wat knetter in ’n oop veld met skape wat blêr en ’n engelekoor wat sing.

Wanneer mense nie van jou hou nie

My seuntjies is in daardie fase van hul lewe waar hulle konstant vra hoekom en waarom. Hulle wil weet waarom ons dan kerse in die kerk aangesteek het.

Ek hoor Jesus se woorde: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12).

Soos ek aan my seuntjies begin verduidelik, besef ek dat ek opnuut self weer die betekenis van die kerse waardeer.

“LIG UIT LIG, UIT DIE VADER SE RYK, WORD UIT LIEFDE AAN MENSE GELYK!” weerklink dit uit die stampvol kerk. Die liggies wieg heen en weer en die teenwoordigheid van die Heilige Gees is tasbaar.

LEES OOK: My verwerking van Psalm 19

Daardie aand vertel ek my seuntjies dat Jesus aarde toe gekom het om die lig te wees vir die donker wêreld. Omdat Hy ons só lief gehad het, kan ons ook nou die lig vir die wêreld wees, want Jesus is ín ons. Ons lig is aansteeklik, letterlik en figuurlik. As ons ons liggies helder laat skyn kan ons ’n kettingreaksie begin en die mense om ons se liggies ook aansteek, net soos die kersies in die kerk aangesteek word.

“Julle is die lig vir die wêreld. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt 5:14-16).

Daar is geen onduidelikheid oor wat ons lig is nie. Ons moenie net Jesus se woorde hoor nie. Ons moet doen ook. Ons moet Jesus se lig laat skyn deur sy liefde uit te leef.

Wat ’n wonderlike voorreg om Kersfees deur die oë van ’n kind te kan beleef en om weer te dink oor tradisies wat ons eintlik al aan gewoond geraak het. My kinders help my om teenwoordig te wees in die oomblik en net te voel.

“VOOR U RYK MOET DIE DUISTERNIS SWIG; TOT IN EWIGHEID BLY U DIE LIG.”

Na “Stille nag” wil die seuns die kersies help doodblaas.

“Dis donker!” roep my jongste uit.

Hy is reg.

Die wêreld is ’n donker plek sonder ons lig. Die wêreld het meer lig nodig.

Ons moet soos kinders altyd bly wonder en vra: Hoe kan ons ons liggies helder laat skyn in hierdie donker wêreld?

Mag jou lig helder skyn en aansteeklik wees.

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.