Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Jou beleggings: Stilte in die storm

Jou beleggings

Die wêreld het hierdie jaar met groot kommer die krisis in Israel aanskou. Die onsekerheid wat ’n konflik op hierdie skaal kan veroorsaak, lei dikwels daartoe dat mense paniekerig raak oor hul beleggings, wat vir baie ’n sentrale komponent van hul finansiële welstand is.

In tye van groot onsekerheid kan die vermoë om kalm te bly oor jou beleggings van onskatbare waarde wees. Daar is so baie gebeure wat tot vrees en onsekerheid oor ’n mens se beleggings kan lei, en denkwyses word definitief beïnvloed deur ekonomiese krisisse, politieke wanorde, of selfs ’n pandemie soos ons onlangs ervaar het. Hier is vyf redes waarom kalmte in jou beleggingsbenadering van uiterste belang is:

1 Emosies kan jou beleggings negatief beïnvloed

In tye van onsekerheid kan jou emosies jou besluite oor beleggings beïnvloed en meebring dat jy ondeurdagte of paniekerige besluite neem, omdat jy dalk voel jy móét iets doen om jou geld te beskerm. Emosionele reaksies soos vrees en gierigheid kan daartoe lei dat mense oorreageer en dat meer waarde deur emosionele besluite as deur markte uitgewis word.

2 Langtermynbeleggingsdoelwitte verg nie onmiddellike reaksie nie

As jou beleggingsdoelwitte op die langtermyn gefokus is, is dit dikwels die beste om ’n benadering van afwagting te volg in tye van onsekerheid. Markte kan oor die korttermyn wisselvallig wees, maar die historiese tendens is dat beleggings oor tyd groei, en daarom is geduld dikwels jou beste bondgenoot.

3 Diversifikasie bied stabiliteit

’n Portefeulje wat korrek gediversifiseer is, kan jou teen die wesenlike impak van wisselvalligheid beskerm. ’n Gediversifiseerde portefeulje het ’n mengsel van bates wat verskillend op markbewegings en rentekoerse reageer. Met portefeuljediversifikasie kan jy die impak van ’n enkele swak belegging beperk deur nie te veel blootstelling aan enkele bates te hê nie.

4 Risiko’s moet bemeester, nie vermy word nie

Risiko is inherent aan beleggings en kan nie volkome vermy word nie. Om kalm te bly, beteken nie om alle risiko uit jou beleggings te verwyder nie, maar eerder om deeglik bewus te wees van die risiko’s wat jy neem en ’n plan te hê om dit te bestuur. Dit sluit in om noodfondse tot jou beskikking te hê, skuld te verminder en ’n duidelike beleggingstrategie in plek te hê.

5 Professionele advies kan ’n waardevolle hulpmiddel wees

In tye van onsekerheid kan dit moeilik wees om ’n objektiewe siening van jou beleggings te behou. Daarom kan die advies van ’n professionele beleggingsadviseur ’n groot verskil maak. Beleggingsadviseurs het dikwels toegang tot inligting en navorsing wat jou kan help om ’n gebalanseerde en deurdagte beleggingsbenadering te handhaaf.

Lees ook die artikel, 6 wenke vir jou begroting en finansies.

In tye van groot onsekerheid is kalmte en geduld twee van die belangrikste eienskappe wat ’n belegger kan hê. Emosies en impulsiewe aankope of verkope oor die korttermyn kan jou finansiële welstand oor die langtermyn benadeel, terwyl ’n deurdagte, gediversifiseerde beleggingsbenadering sal bydra tot jou sukses as belegger. Die pad van ’n belegger is nie sonder spoedhobbels en slaggate nie … Somtyds ry jy op die snelweg en ander kere grondpad, maar die belangrikste beginsel is om op die pad, met jou hande op die stuur te bly.



Hierdie artikels is deur Jacqui Kruger geskryf. Sy is ’n finansiële adviseur by PSG Silver Lakes. Sy kan
gekontak word by jacqui.kruger@psg.co.za of 071 491 8004. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.