DEUR SIMONE GAUCHE
“Mamma, moenie die lig afsit nie; die donker maak my bang!”
“Mamma, die spinnekoppe gaan my opeet!”
“Mamma, die monster bly onder my bed!”
LEES OOK: Van karwag na winkelbestuurder: ‘Jy hoef nie in jou omstandighede te bly nie’
My jong kinders se vrese, alhoewel soms absurd, is konkreet en byna tasbaar. En ons, grootmense, weet dat ons vrese ons nooit regtig verlaat nie. Die monsters onder jou bed kry dalk net ander name. Dikwels kom skuil hulle in jou kop …
En dan praat ons dalk só daaroor:
“Sal ek dié maand al die rekeninge kan betaal?”
“Sal my kinders maatjies hê in hul nuwe skool?”
“Gaan ek my werk behou?”
“Gaan allerlei siektes my tref wanneer ek ouer word?”
“Sal ek ooit alles op my lysie gedoen kry?”
’n Mens se brein beskik oor ’n uitgebreide stelsel waarmee vrees en kommer herken word. Dié stelsel help ons om gevaar te herken en om daarop te reageer. Byvoorbeeld: Ek hoor voetstappe agter my – en allerlei veranderings vind eensklaps in my kop en lyf plaas wat my in staat te stel om toepaslik te reageer. Verskeie biochemiese en biologiese prosesse speel ’n rol om my teen gevaar te beskerm. En dit stel my in staat om vinniger en verder te hardloop ten einde myself te beveilig.
Kommer en angs dien dus eintlik ’n belangrike doel. Dit stel jou in staat om gevare te herken en betyds voorsorg te tref.
Maar dit kan ook jou geluk ondermyn, en dit vir jou moeilik maak om jou doelstellings te bereik. Wanneer vrees en angs voortduur in die afwesigheid van ’n werklike bedreiging, of buite verhouding is ten opsigte van die omvang van die gevaar, is die reaksie ontoepaslik. So ’n reaksie kan dan ’n ongewenste uitwerking hê en jou optrede minder doeltreffend maak.
Te veel angs en bekommernis is sleg vir ’n mens se geestelike en liggaamlike gesondheid. Dit word selfs ’n bron van siektes en emosionele lyding. Dit kan jou immuunfunksie onderdruk, hartkwale veroorsaak, gastro-intestinale probleme tot gevolg hê, asook moegheid en spierspasmas en pyn meebring. Chroniese angs belemmer jou oordeel en verhoog jou irritasievlakke.
Soms is daar biologiese faktore wat ’n mens meer vatbaar maak vir angs en vir siektes wat die gevolg van angs is. Angs kan wel ook aangeleer word, of die gevolg van kondisionering wees.
In erge gevalle moet medikasie gebruik word om angstigheid te behandel. Die meeste van ons kan leer om ons angs op ander maniere te bestuur. ’n Gesonde, gebalanseerde dieet en gereelde oefening help hiermee, soos ook kognitiewe terapie. Een van die tegnieke by laasgenoemde help ons om angsgedagtes te identifiseer, dit uit te daag en uiteindelik te vervang met goedgeformuleerde positiewe gedagtes en houdings.
Daar is etlike gedeeltes in die Bybel wat ons met ons angs help. Ons kan dié Bybelverse gebruik om ons vreesagtigheid teë te werk en ons gesindheid ten opsigte van uitdagings te verander. Kyk gerus na:
- “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:6-7).
Bid gedurig en wees dankbaar. Dankbaarheid is ’n teenvoeter vir angs. Dit herinner ons aan alles wat God reeds vir ons gedoen het. Hoekom sal ons dan die toekoms vrees?
- Jesus het gesê: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie” (Matt 6:19). En: “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt 6:24).
Ondersoek jou prioriteite. Is jou sekuriteit aan aardse besittings en materiële dinge gekoppel, of aan die veiligheid wat jou hemelse Vader jou bied?
- Fokus op God as jou Versorger. Jesus verseker ons daarvan dat ons hemelse Vader in al ons behoeftes sal voorsien (vgl. Matt 6:25-34). Ons hoef ons nie oor enigiets te bekommer nie. Kommer sal nie jou lewe met een uur verleng nie (vgl. Matt 6:27). ’n Mens bekommer jou oor dinge soos kos en klere – maar alles kom uit God se hand. Hy gee lewe, Hy sorg vir ons liggaamlike behoeftes én Hy versterk ons emosioneel.
- “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” (Luk 10:41-42).
Bring tyd saam met Jesus deur. Gaan sit by sy voete en laat Hy die wêreld en sy sorge van jou skouers verwyder.
- “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet 5:7).
Vertel God van al jou probleme. Hy wil dit hoor.
- “Bekommernis druk ’n mens neer; ’n vriendelike woord vrolik hom op” (Spr 12:25).
Ondersteun mekaar. Kyk mooi na jou medegelowiges – en as iemand met angs worstel, weet dat God ons aan mekaar gegee het om mekaar by te staan en te ondersteun. Jy kan vir iemand wat sukkel ’n Jesus wees …
- “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Op 21:4).
Hou die einddoel in sig. Ons lewensdoel op hierdie aarde is nooit om sonder angs en swaarkry te wees nie; ook Jesus was angstig en doodbenoud. Hy het selfs bloed gesweet. Maar ons kan berusting vind in die wete dat alles uiteindelik op heerlikheid en oorwinning uitloop.
Mag jy met die Bybel se hulp leer om jou angs en bekommernisse te bestuur. Hoor hierdie ou, ou belofte: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes 41:10).
- Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.