Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Binnelanders se Kate Roothman: ‘Ek meet prestasie nie aan toekennings nie, maar aan geestelike groei’

Geloof is vir haar soos asemhaal. ‘Dis stil en onsigbaar, maar so noodsaaklik. Dis nooit net ’n stel oortuigings nie; dis ’n innerlike kompas wat my deur seisoene van stilte, verlies en onsekerheid lei.’ Foto’s: Annemarie Wichmann

Wanneer Kate Roothman by die koffiewinkel Paputzi’s in Linden instap, draai die koppe behoorlik. Dis nie slegs haar klassieke skoonheid en lang goue lokke wat die oog vang nie, maar ook die feit dat sy die afgelope paar jaar ’n bekende gesig op die kassie geword het.

As die ambisieuse dr Nicolette Nortjé in die hospitaalsepie Binnelanders het sy ’n rolmodel geword vir vroue wat hulle deeglik laat geld in ’n professionele wêreld wat oorwegend op mans ingestel is. En dan sonder om haar vroulikheid of sagtheid prys te gee.

Kate gesels graag oor die karakter wat sy vertolk: “Nicolette is ’n ystervrou. Sy glo in haarself en in haar vermoëns as dokter. Haar swakste eienskap is dat sy sukkel om ’n gesonde balans te handhaaf.”

‘Hou aan, dit sal oukei wees …’

Maar Kate Roothman is nie Nicolette Nortjé nie, nie naastenby nie. Sedert Kate agt jaar gelede die sepiewêreld amptelik betree het as die karakter Anna Redelinghuys in Getroud Met Rugby, het sy geleer om haar persoonlike en professionele lewe netjies te laat balanseer. Sy sê: “Ek probeer om doelbewus met my tyd om te gaan, met die manier waarop ek dit gebruik. Ek verkies gehaltetyd saam met mense by wie ek kan afskakel en werklik ‘teenwoordig’ kan wees. Almal se lewe is so gejaagd, en dit het tot gevolg dat ’n mens die mooi oomblikke misloop.

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Kate Roothman (@kateroothman)

LEES OOK: Jana Kruger: ‘Net God kan ons werklik vergenoeg laat voel’

“Ek beplan wel vooruit. En omdat ek weet dat ek ander mense altyd tegemoet wil kom, moes ek noodgedwonge leer hoe om nee te sê.”

Kate sê sy is empaties, kreatief en passievol. “Ek kan baie van myself gee en my glas is altyd vol. Ek het baie om te gee; ek kan egter ook baie druk op myself plaas. Ek kan dinge óóranaliseer, maar ek het hard daaraan gewerk om meer genade met myself te hê.”

Geloof is vir haar soos asemhaal. Dis ook die stem wat sê: “Hou aan, dit sal oukei wees, dit sal die moeite werd wees.”

“Geloof is om nie antwoorde te hê nie en om dan met oop arms in die misterie in te stap. Om te weet jy hoef nie altyd te verstaan om voluit te kan leef nie.”

Is dit vir haar moeilik om haar geloof in die vermaaklikheidsbedryf uit te leef?

“Soms is dit moeilik, ja. Dis nie omdat ek skaam is oor my geloof nie, maar omdat daar soveel uiteenlopende menings is in die omgewing waar ek werk. Maar ek het uit die staanspoor probeer om op liefde en deernis te fokus, eerder as oordeel. My ma sê altyd: ‘You take offense; you don’t give offense.’

“Solank jy op die regte dinge fokus, kan niks jou ontwrig nie. Dit bly wel ’n keuse of ander se menings of optrede jou gaan beïnvloed of nie.”

‘Hulle het my geleer …’

Kate vertel dat sy in haar 32 lewensjare etlike groot lewenslesse geleer het. Sy het op ’n plaas naby Sannieshof in Noordwes grootgeword. “Daar het my ma René en my ouma Gladys en oupa Paul my geleer dat karakter meer saakmaak as sukses.

“Hulle het my geleer hoe om ander mense te behandel, veral wanneer jy niks van hulle nodig het nie. En hoe om mens te aanvaar vir wie hulle is.

“Daarbenewens het hulle my van kleins af geleer hoe om met respek en deernis te leef. Én hoe om eerlik te wees, ook wanneer dit makliker is om stil te bly of toe te gee.

Hulle het my geleer hoe om sterk te wees op ’n sagte manier. Hoe om op te staan vir wat reg is, en hoe om nooit my menslikheid in dié proses prys te gee nie.

“En hulle het my geleer hoe om diep lief te hệ. Een van die grootste lesse wat ek by hulle geleer het, is dat jou geloof en jou waardes jou altyd sal dra selfs wanneer alles om jou verander. Daardie fondament hou my gegrond in elke aspek van my lewe en loopbaan.”

‘Twee mense wat mekaar ruimte gee’

Kate het van kleins af geweet sy wil eendag ’n aktrise wees, en sy het van jongs af presies geweet wat sy in ’n lewensmaat wou hê. In 2020 is sy met haar skoolliefde getroud, Willie Oberholster, ’n beroepsbokser en sakeman. Hulle het elf jaar lank uitgegaan en toe voor familie en ’n groepie intieme vriende ewig trou aan mekaar gesweer.

“Willie is ’n eerlike en opregte mens,” sê sy vrou. “Hy laat my altyd onthou wie ek is, ook wanneer ek aan myself begin twyfel. Hy herinner my gereeld aan waartoe ek in staat is.”

Kommunikasie, begrip, eerlikheid, vertroue. En om te lag en ’n diep vriendskap te koester. Dis die dinge in ’n huwelik wat vir Kate belangrik is. Kortweg: “Twee mense wat mekaar aanmoedig en ruimte gee om te groei.”

Kate en Willie deel ’n liefde vir geskiedenis. En vir die natuur en avontuur. “My happy place is iewers in die natuur, verkieslik met ’n kamera in my hand,” sê sy.

Kate en haar suster Marsel (37) neem graag foto’s. “Marsel neem dikwels troufoto’s, en ek sit graag hand by.

“En, glo dit of nie, die ander plek waar ek baie gelukkig is, is op stel. Ander akteurs mag dit dalk stresvol vind om daar te wees, maar ek beleef rustigheid wanneer die kameras begin rol.”

Om sag te bly

Die klein dingetjies in die lewe maak haar sielsgelukkig. “’n Koppie koffie saam met mense vir wie ek lief is, die rustigheid van die natuur, kreatiewe vryheid, en oomblikke waarin ek my werklik aan ander verbonde voel. O, en om saam met jou hartsmense uit jou maag te kan lag!”

Toe sy in haar twintigs was, sê sy, het sy met ander oë na die lewe gekyk en na die dinge wat haar trots maak. “Noudat ek ouer is, leef ek eerder na binne. Ek meet prestasie nie aan toekennings nie, maar aan geestelike groei.

“Ek is trots op die feit dat ek, te midde van uitdagings en sóveel onsekerhede, gekies het om met integriteit en geloof te leef. Ek is ook trots daarop dat ek geleer het om myself te vertrou, en om sag te bly in ’n wêreld wat soms hard is. En om tydens elke moeilike fase iets oor myself te ontdek, en oor die mense om my, en oor die lewe self.”

Toekomsdrome en dankbaarheid

Waar sien Kate haarself oor 10 jaar?

“Om steeds skeppend te wees, of dit nou voor of agter die kamera is. Ek hoop om ’n ateljee of ’n soort ruimte te hê waar ander mense hulle ook sal kan tuisvind. En ek hoop om ’n eenvoudige maar betekenisvolle lewe te lei, vol avontuur en liefde. Dalk is daar selfs ’n oorsese reis in my toekoms …”

Haar beker loop oor van dankbaarheid oor die baie seëninge in haar lewe. “Ek is dankbaar vir die onsigbare genade wat my elke dag dra, en vir mense wat my onvoorwaardelik liefhet.

“Ek is dankbaar vir seëninge wat nie lawaai maak nie, vir vrede in my gedagtes, vir hoop wat ongenooid na my toe terugkeer.

“Ek is dankbaar vir die pad wat ek loop, selfs die rotsagtige dele, want dit het my gevorm, geanker, en nader gebring aan wie ek vandag is.

“En bowenal is ek dankbaar vir God se teenwoordigheid in die alledaagse. Vir die wete dat ek nie toevallig hier is nie. Ek word vasgehou en raakgesien, en ek is geliefd.”

 

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF