Ná bykans 24 jaar in die kloue van verslawing erken Jan Blohm (50) vandag dat ware genesing in geloof lê. Hy is daarvan oortuig dat mense kan verander – maar nié alleen nie. Hier is sy verhaal.
Foto’s: CoolerBox Brothers
“Verslawing mag dalk van buite af lyk soos bloot ’n afhanklikheid van drank of dwelms, maar dit is selde net dit. Vir my was whisky en kokaïen die oplossing vir probleme wat ek nie verstaan het nie.
“Ek het desperaat probeer om die pyn in my stil te maak. Roem het dit vererger. Mense dink roem vul jou, maar dit tap jou eerder leeg. Jy verdrink in aandag, applous en eindelose partytjies. Bewonderaars drom saam om jou – en dan is jy skielik alleen, met ’n gat in jou siel.”
‘My reis met verslawing was lank en duur’
“Ek moes ook leer dat my probleem nie slegs die verslawing was nie. Dit was ook wat ek probeer wegsteek en stilmaak het.
“Dit was nie ’n kort reis met my verslawing nie; ek het bykans 24 jaar lank geval en opgestaan en weer geval. Ek dink mense het onrealistiese verwagtings oor rehabilitasie. Dis nooit ’n ‘netjiese’ proses nie. As jy terugval, kry jy wel hulp. Maar soms faal jy volkome.
“My reis was lank. En duur, op verskeie vlakke. Ek kan vandag met nederigheid oor hierdie pad met ander mense praat.

“Ek is nou halfpad deur my lewe. Die eerste helfte was rock en roll. Ek soek nou ’n meer sinvolle tweede helfte. Ek het 50 jaar se op en af en duisternis beleef. In my hart is daar nou ’n soeke na die lig.”
’n Nuwe album, ‘want ek is nog hier’
Jan Blohm se jongste album Tot waar die lig is karteer ’n poëtiese reis van sy diepste donker na die uiteindelike lig. Dié nuwe skepping is ’n belydenis, ’n gebed en vertel ook van die vooruitsig op ’n nuwe begin.
LEES OOK: Karlien van Jaarsveld: ‘Om op die Here te wag, het alles in my verander’
“Tot waar die lig is is ’n samevatting van my lewensreis. Ek dink dit is een van die eerlikste projekte wat ek nog ooit aangepak het.
“Vir baie jare was my lewe net musiek. Daar was chaos, donkerte, verdowing en ’n soeke na oorlewing. Daar was mooi tye ook – al die musiek, die mense, liefde en spesiale bestemmings. Ek het nie gesoek na musiek wat perfek was nie, maar wat eerlik is.
“Tot waar die lig is handel egter nie net oor my verslawing nie. Dit gaan ook oor liefde, oor my kind, oor plekke soos die Kaap, Gordonsbaai. Oor verlange, oor verlies en oor selfaanvaarding.
LEES OOK: Vrou maak haar hart oop ná 15 jaar op straat: ‘God het my van myself gered’
“Verslawing is wel deel van hierdie reis omdat dit vir so lank deel van my lewe was. Die lig waarheen ek beweeg, is nie ’n skielike oplossing nie, maar dis tog ’n plek van eerlikheid. Hier kan ek sê: ‘Ek is gebreek, maar ek is nog hier.’
“Dis moeilik om iets wat reeds stukkend is verder te breek. Ek kyk terug, maar ek wil nie daar bly nie. Ek wil vorentoe beweeg, nader aan die lig.”
Op soek na ‘die regte ding’
“Daar was baie pyn, en dit het my weerloos gemaak. Ek het nie die vermoë gehad om dit te hanteer nie. Ek het vir lank gedink die probleem is buite my. Ek het gereken dat alles sou regkom as ek net die ontbrekende element sou vind. As ek iewers die ‘regte ding’ sou opspoor – die regte maat, die regte drankie, die regte verhoog en die regte applous – dan sou die gat gevul wees. Maar die lewe werk nie so nie.
“Die dinge waarna ek gesoek het, was bloot tydelik. Dit maak jou binneste net ’n oomblik lank stil sodat jou siel kan asemskep. Dis ’n vlietende verligting wat vinnig verdwyn, en wat jou nie heel maak nie.
“Ek het telkens probeer om uit die donker te ontsnap. Ons brein is ingewikkeld, en dikwels verwar dit jou: Jy reken wat jy dink, is wat jy voel.
“Vir my het die reis na lig met volle oorgawe te doen. Om te erken dat jy nie die pad alleen kan stap nie. Dis ’n harde ding om te erken, veral as jy daaraan gewoond is om op die verhoog te staan en voor te gee dat daar nie fout is nie. Mense dink jy het alles onder beheer. Vir my was daar vryheid in die uiteindelike erkenning van die probleem.
“Ek is daarvan oortuig dat mense kan verander. Sonder geloof en Jesus Christus sou ek nie ’n kans gehad het om te verander nie. Dis nie iets wat ek ligtelik sê nie. Maar dié hemelse verhouding maak vir die eerste keer daardie gat toe.”
Die tweede Blohmhuis, plek van hoop
Jan het in 2023 sy galery Blohmhuis in die Strand gesluit. Hy is tans besig om ’n nuwe galery en kunsskool by die rehabilitasiesentrum Arise Restoration buite Pretoria te bou. Hiervoor het hy heelwat donasies verkry.
Dié sentrum dien hoofsaaklik as opleidingsplek vir haweloses, verslaafdes, en mense wat onder mensehandel deurgeloop het. By hierdie tweede Blohmhuis word beoog om aan diesulkes hoop vir die toekoms te gee.
Simon
Jan het ’n dogter, Simon (13), wat ’n groot deel van die lig in sy lewe is. “Ek wou lankal vir haar ’n lied skryf,” vertel hy, “maar ’n mens moet wag totdat die lied jou vind. Met die liriek van ‘Beautiful’ is ek nie bloot ’n pa wat vir sy dogter sê sy is mooi nie; dit gaan oor daardie unieke onskuld, daardie tyd voor die wêreld ‘gebeur’.
“Sy herinner my aan iets wat suiwer is. Sy is die ‘beautiful’ vir my.”
Simon vertel van die liedjie wat haar pa vir haar geskryf het: “My pa het my daarvan gesê, en toe ek dit hoor, was my eerste gedagte hoe spesiaal dit is. Dit het aan my siel geraak dat hy só aan my gedink het. Die liedjie is so simplisties en so eerlik. Dis baie spesiaal vir my.”
Oupa Harry en ‘Jan Blohm’
Jan onthou sy oupa Harry met liefde en deernis en dankbaarheid: “Hy was die stem wat musiek, poësie en gevoel in my lewe gebring het. Hy was ’n musikant en ’n digter. Hy kon baie instrumente bespeel. Ek was agt jaar oud toe hy sy eerste harmonika vir my gegee het. Ek het gevoel dat daar iets in klank, lirieke en in die besonder blues was wat dinge in my wakker gemaak het.”
Die verhoognaam Jan Blohm is ontleen aan een van Breyten Breytenbach se skuilname. “Breyten was nog altyd soveel meer as ’n digter. Daar is rebelsheid, gevaar en grenslose vryheid in sy werk. En ek wou altyd hê dat my musiek iets van sy digkuns sou weerspieël – Afrikaans, maar nie bloot veilig nie. Iets met die bloed wat in ons are vloei.”
Vorentoe, met oop hande
Jan Blohm se liefde vir musiek loop hand aan hand met sy liefde vir skilder. “Wat ek nie met musiek kan sê nie, sê ek met verf.”
Hy is ’n kunstenaar wat terugkyk sonder om terug te gaan, een wat sy wonde erken sonder om daarin te verdrink. Hy beweeg vorentoe, met oop hande. Na waar die lig is.




















