Waar Louis en Hettie Brittz hier voor my sit, is dit maklik om te dink dat hulle nog altyd die geheim van ’n suksesvolle huwelik geken het.
LiG gesels met hulle in die Paarl tydens hul onlangse besoek aan Suid-Afrika.
Dié huwelikspaar het onlangs ’n boek vir egpare geskryf – Kweek ‘n huwelik met karakter. Hulle dien die Here al jare lank, en hulle het duisende mense deur hul bediening beïnvloed. Hul raad oor ’n huwelik is vol wysheid en kom met groot oortuiging.
Maar wanneer hulle hul eie verhaal vertel, blyk dit dat hul huwelik nie uit die staanspoor só was nie. Dit was trouens wêrelde verwyder van die inspirerende voorbeeld wat vandag so sigbaar is.
Louis vertel: “Ons is in 1992 getroud; toe is ons huwelik gebore. Maar as ons eerlik wil wees, is ons huwelik eers in 2004 wedergebore.”
Soos baie gelowige paartjies was hulle daarvan oortuig dat hul liefde vir Jesus en liefde vir mekaar genoeg sou wees om hulle deur die lewe te dra. Hettie was 20 jaar oud toe hulle getroud is, en Louis 24. Hulle was verlief, idealisties en vol drome.
LEES OOK: ‘Ons huwelik is die bewys dat énige huwelik gered kan word’
Maar die werklikheid het gou gewys dat slegs liefde nie genoeg vir ’n suksesvolle huwelik is nie. “Ons moes eers grootword,” sê Louis.
Hulle het begin agterkom dat dit nie net hul onderskeie persoonlikhede is wat verskil nie, maar ook hul verwagtings oor wat en hoe ’n huwelik behoort te wees. Louis het sy eie prentjie gehad van hoe ’n vrou behoort op te tree, en Hettie het onder meer verwag dat haar man op ’n bepaalde manier geestelik leiding moet neem. Die botsing tussen verwagting en werklikheid het spanning geskep, iets wat hulle nooit voorsien het nie.
Vandag glimlag hulle daaroor, maar destyds was dit nie altyd maklik nie.
‘Dit gaan nie oor jou nie’
Die grootste les wat hulle geleer het, vertel hulle, was dat die huwelik nie primêr oor selfvervulling gaan nie. In ’n kultuur wat voortdurend daarop aandring dat ons ons eie behoeftes eerste stel, het hulle ontdek dat ware eenheid eers tot stand kom wanneer twee mense bereid is om hulleself neer te lê.
“Selfsug bring nie eenheid nie,” sê Hettie. “En eenheid is dit wat maak dat die huwelik beter voel as om alleen te wees.”
Hierdie insig het nie oornag by hulle posgevat nie; dit het trouens etlike jare geduur voordat hulle besef het dat die grootste bedreiging vir hul huwelik nie in hul onderlinge verskille geleë is nie, maar in hul selfsug.
In hul boek, Kweek ’n huwelik met karakter, gebruik hulle die beeld van verskillende boomsoorte om die uniekheid van mense se temperament te verduidelik. Hulle glo nie dat daar iets bestaan soos twee mense wat “nie bymekaar pas nie”. Sommige paartjies sal bloot harder moet werk as ander, maar verskille hoef nooit die einde van ’n huwelik te beteken nie.
Inteendeel, sê Hettie, groot verskille bied dikwels die grootste geleenthede vir groei.
Dan vra sy: “Wanneer laas is jy uitgedaag? Wanneer laas het jy gegroei? Wanneer laas moes jy aan jouself sterf?” Dis ongemaklike vrae in ’n tyd waar gemak dikwels belangriker geword het as karaktervorming.
Tog is dit presies hierdie ingesteldheid wat die Brittz-egpaar se boodskap so relevant maak. Hulle bied nie kitsoplossings of oppervlakkige motiveringspraatjies nie. Hulle praat uit ervaring oor die pynlike maar bevrydende proses van heiligmaking in die huwelik.
Jy kán jou huwelik red
Louis en Hettie is daarvan oortuig dat selfs net een van die maats ’n verskil in ’n huwelik kan bring. Baie vroue voel moedeloos omdat hulle reken dat hulle die enigste is wat nog probeer.
Hettie sê sy verstaan daardie gevoel goed. Sy vertel hoe dikwels sy vroue in ’n beradingsessie ontmoet wat slegs een wens het: dat hul man tog wíl verander. Haar antwoord op dié versugting kom soms vir daardie vroue as ’n verrassing: Fokus eers op die deel waarvoor jý verantwoordelik is. Sê vir jouself: “Die 50% wat ek in hierdie huwelik is, kan ek 100% verbeter.”
Dit beteken nie dat ’n mens jou huweliksmaat se foute ignoreer nie; dit beteken wel dat jy jou energie rig op daardie dinge wat jy kan beheer. En wanneer een maat (tydelik) swak is, moet die ander een ’n tyd lank sterk(er) wees.
Hettie sê: “Die Here kan ’n vrou of man wat alleen vir die huwelik veg se vennoot wees in daardie geveg.”
Hierdie vertroue op God vorm die hart van alles wat die Brittze aan egpare leer. Hulle glo nie dat mense mekaar se hart kan verander nie; slegs God kan dit doen.
Die rol van mentors
Nog ’n sleutel tot hul huwelik is mentorskap, vertel hulle. Sowel Louis as Hettie praat met groot waardering oor die invloed wat ouer paartjies op hulle gehad het, dié wat reeds die pad gestap het. Hulle sê hulle vra mense wat 50 of 60 jaar lank getroud is net een vraag: “Hoe het julle hier gekom?”
Die antwoorde wat hulle kry, is dikwels verrassend eenvoudig.
Louis vertel hoe sy skoonma haar huwelik met sy skoonpa bestempel het as ’n driehoekverhouding tussen man, vrou en God. Sy skoonpa se antwoord was nog eenvoudiger: “Dis net genade.”
Hoe langer Louis en Hettie getroud is, hoe beter verstaan hulle hierdie waarheid.
Miskien is die mooiste woord wat hulle in dié verband gebruik die Bybelse begrip “verbond”. In ’n wêreld waar verhoudings dikwels as bloot ’n tydelike ooreenkoms beskou word, herinner Louis en Hettie ons daaraan dat die huwelik veel dieper strek. Verbond beteken, onder meer: Alles wat ek het, behoort nou ook aan jou. Jou stryd is my stryd. Jou belange is my belange. Ek is heelhartig aan jou kant.
Dié soort toewyding skep veiligheid. Dit bied ruimte vir groei. Dit laat liefde floreer.
Ná meer as drie dekades saam het Louis en Hettie Brittz nie ’n perfekte huwelik om aan die wêreld te wys nie; hulle het wel iets veel waardevoller om te bied: die getuienis van twee gewone mense wat geleer het om mekaar weer en weer te kies, en om hul lewe vir die ander een neer te lê.
Wanneer hulle op alles terugkyk, klink hul slotsom opvallend baie na dié van die mentors wat hulle so bewonder: “Dit is die Here.”
Dit was nog altyd die Here.


















