Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Sy berou moes dade word’ – vrou kies die moeilike pad van vergifnis ná haar man se ontrouheid

Die man vir wie Janelle Uys lief is en die vriendin wat sy vertrou het, het ’n geheim gehad wat Janelle se wêreld op sy kop gekeer het. In ’n oomblik van intense woede was sy baie na daaraan om ’n noodlottige besluit te neem. Maar God het ingegryp. Vandag getuig sy oor die moeilike pad van berou en vergifnis, en hoe sy en haar man steeds aan hul huwelik bou.

My hart het so vinnig geklop dat my slimhorlosie my gewaarsku het. Ek het op die mat gaan lê en probeer asemhaal, my hele liggaam het gebewe.

Ek het toe pas ontdek die man vir wie ek lief is en die vriendin wat ek vertrou het, het ’n geheim gehad wat my hele wêreld op sy kop sou keer: My man is die pa van haar jongste kind.

In my woede het ek my man BG se handwapen gaan haal. Vandag ys ek as ek daaraan terugdink, wanneer ek weer besef hoe na ek daaraan was om iets te doen wat bittere gevolge sou hê.

Albei ons kinders was in die bed. Toe ek verby hul slaapkamers stap, het dit my skielik getref: Jy gaan jou kinders verloor. Jy gaan in die tronk beland.

Ek het gaan stilstaan. Dit was asof God se stem deur my pyn gedring het. Ek het die wapen neergesit.

Die begin van ons storie

Ek en BG het mekaar as studente in Potchefstroom leer ken. Hy het vir die Puk rugby gespeel. Ons paaie het weer in 2010 gekruis nadat ek ernstig siek geword het terwyl ek op ’n passasierskip gewerk het. Ek moes vir ’n operasie na Suid-Afrika terugkeer. Ná my herstel het ek teruggegaan om my kontrak te voltooi.

Toe loop ek weer vir BG raak. Ons was albei enkellopend, en ek was nog altyd smoorverlief op hom.

Ons is in 2014 getroud. Sy rugbyloopbaan het ons na Port Elizabeth en later Bloemfontein toe geneem. In 2015 is ons seuntjie gebore. Ons het vyf eiendomme aangeskaf. Dit het gevoel asof ons drome begin waar word.

Oorweldig deur eensaamheid

’n Jaar later het ernstige nek- en skouerprobleme BG se rugbyloopbaan voortydig beëindig. Ons en ons baba het na sy ouers se plaas in die Suid-Kaap getrek. Ons finansies was beroerd.

Ek het niemand daar geken nie, en die eensaamheid het my oorweldig, Ons nuwe omstandighede was uitdagend en die versorging van ons baba het hoë eise gestel. Ek en BG het verby mekaar geleef. Ons het nie regtig geweet hoe om oor ons seer te praat nie. Ek het in ’n diepe depressie verval.

LEES OOK: ‘Dís waarom ek gestruikel het,’ vertel man ná ontrouheid

’n Sotho-vrou wat saam met ons van Bloemfontein af gekom het, het in daardie tyd soos familie geword, en sy het my deur die moeilikste dae gedra. Ek glo die Here het haar oor my pad gestuur toe ek haar die nodigste gehad het.

In 2019 is ons dogtertjie gebore. Haar koms het weer lig gebring.

Maar toe tref die pandemie ons. Ek het my werk verloor en ons kon nie meer my helper bekostig nie. Sy is terug Bloemfontein toe. Drie maande later het ek gehoor sy het in ’n huisbrand gesterf. Ek was verpletter.

Ek het baie vrae gehad, en ek het bly bid. In 2022 het ons ons seuntjie na ’n skool in ’n buurdorp gestuur. Dit was hier waar ek ’n vriendin ontmoet het wat ons later in ons lewe ingenooi het.

‘Hoe kon jy dit aan my doen?’

Teen die einde van 2023 het ek begin vermoed dat daar iets tussen ons nuwe vriendin en BG ontwikkel het.

Op ’n dag was BG nie tuis nie. Ek het bo in sy kas gaan kyk en sy splinternuwe slimhorlosie daar gekry. Ek kon nie verstaan waarom hy dit daar gebêre het nie. Ek het dit aangeskakel en deur die boodskappe gekyk.

Daar het ek die bewyse van die verhouding gesien. En boonop ontdek dat hy die pa van haar jongste kind is. Ek kon dit nie glo nie; ek het dan daardie baba opgepas …

Ek het begin huil, en die een vraag het oor en oor deur my gemoed gespoel: “Hoe kon jy dit aan my doen?”

My hele lewe het soos ’n leuen gevoel.

My woede, my vrae en my twyfel

Ek het met God geworstel. Ek het Hom gevra: “Waarom het U dit toegelaat? Wat het ek en my kinders gedoen om dit te verdien? Het U ons nie meer lief nie?”

Ek was skaam. En bang vir mense se oordeel.

’n Paar dae later het ek in ’n huisie naby die skool gesit en huil. ’n Vriendin wat ons Bybelstudiegroep gelei het, het onverwags daar ingestap. Ek glo die Here het haar daardie oggend na my toe gestuur.

Ek het deur die loop van etlike maande met haar gepraat. Ek kon eerlik wees oor my woede, my vrae en my twyfel. Sy het my gehelp om te verstaan dat ek nie al die antwoorde hoef te hê voordat ek na God toe gaan nie.

En ek het begin ervaar dat Hy my steeds hoor, selfs wanneer my gebede vol trane is.

Konfrontasie, hofsake, sielkundiges

Daardie aand het BG op sy knieë geval en na die Here geroep. Hy het gehuil en gesê hy kan nie glo wat hy gedoen het nie. Hy het verduidelik hoekom dit vir hom so moeilik was om die waarheid te vertel, dat hy bang was dat hy my en die kinders sou verloor.

Ek het sy berou gesien, maar ek het geëis dat hy verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar. Ons het daardie aand na die vrou en haar man gegaan sodat BG self kon vertel dat hy die pa van die kind is.

Hofsake het gevolg, en daar het sielkundiges in die prentjie gekom. Berading, moeilike gesprekke en, uiteraard, familiedrama. Die vertroue tussen my en BG is nie oornag herstel nie. Ek het geweet ek moes my man se berou in sy dade sien.

Waarom het BG se ontrouheid sulke afmetings aangeneem? Tydens die beradingsessies het ek meer van sy onverwerkte trauma begin verstaan, van die  verlies nadat sy rugbyloopbaan so skielik tot ’n einde gekom het.

Ek het geleer …

Een nag het ek ’n droom gehad waarin ek die indruk gekry het dat die mat onder BG uitgepluk word. Ek het dit verstaan as ’n beeld van iemand wat gedwing word om tot stilstand te kom en te besef dat sy identiteit nie in rugby, in prestasies of in ander mense se goedkeuring lê nie.

Ek het besef dat God nie die oorsaak van sy ontrouheid is nie, en dat BG volledig verantwoordelik vir sy keuses is. Deur dit alles is ek gehelp om te verstaan dat berou en verandering selfs uit die gevolge van verkeerde keuses kan voortkom.

Ons is steeds besig om van die trauma te herstel. Ons huwelik is nie meer soos dit voorheen was nie. En op ’n vreemde manier is dit deel van ons hoop. Ons is nou eerliker met mekaar, en ons leer ken mekaar opnuut. BG het nader aan die Here gekom en hy lei vandag ons gesin kerk toe.

Ek het geleer om my man se pyn raak te sien sonder om my eie pyn weg te steek. Ek het geleer om grense te stel, om hulp te aanvaar en my nie meer blind te staar teen wat ander mense van my dink nie.

Ons het geleer dat daar nie ’n kitsoplossing is vir dit wat ons deurgemaak het nie. Dit verg tyd, die aanvaarding van verantwoordelikheid, berading, moeilike gesprekke en volgehoue werk. Een mens kan nie alleen ’n huwelik herstel nie.

As ek iemand kan raad gee wat dieselfde moet deurmaak as ek, sal ek sê: Vind jou waarde in God. Aanvaar hulp. Moenie jou eie versorging afskeep nie. En as julle albei kies om die huwelik te herbou, wees ’n span. Praat eerlik met mekaar, luister aandagtig na mekaar, en gun mekaar genoeg tyd om alles te verwerk.

Ek en BG bevind ons steeds op daardie pad, maar ons leef met meer liefde as voorheen, met groter begrip en met groeiende hoop.

Ons is weer verlief op mekaar. Dit is die lekkerste gevoel. Geloof neem nie alle seer weg nie. Die Here dra ons deur die seer, en ons groei nader aan Hom in die seerste tye. Ons huwelik het diep seergekry, maar die Satan het nie die laaste woord gehad nie. God se liefde wen altyd.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►