DEUR ENGELA DUVENAGE
’n Drietal boeke, nie een dikker as 150 bladsye nie, word onlangs by my huis afgelewer.
Dadelik besef ek dat dié drie, elk uit kort skryfsels saamgestel, lekker Kersgeskenke sal wees vir alle gereelde LiG-lesers. Daarby is elkeen lig genoeg om saam te dra indien jy iewers ’n tydjie het vir lees. Die hoop beskaam mos nie . . .
Al drie word deur Bybel-Media uitgegee: Lizette Murray se My hart se baie punte – hartstories vir elke ma; Fourie Rossouw se Ligvoets – vir harte sonder heinings; en ’n Hand vol Hoop – die Here is my Herder, met Willem Pretorius as redakteur.
Bestel My hart se baie punte – hartstories vir elke ma hier.
Fourie Rossouw se Ligvoets bevat ’n keur uit sy gewilde rubrieke wat die afgelope drie jaar in LiG verskyn het.
Lizette Murray se bundel is saamgestel uit ouer rubrieke wat in die tydskrif Lééf – met hart en siel gepubliseer is; dit was voordat sy haar besonderse “Ek en my huis”-rubrieke vir LiG begin skryf het. Met ’n vinnige deurblaai sien ek dadelik soveel oor ma-wees en die ervaring daarvan raak. My oog vang opskrifte soos “My pa het vir ons sneeu gekoop by die werk”; “Ma sou as Ma kon” en “Jy is yster”. Elke rubriek eindig met ’n gepaste gebed. En so staan-staan wil ek al begin lees.
Bestel Ligvoets – vir harte sonder heinings hier.
Op die voorblad van ’n Hand vol Hoop staan die volgende geskryf, saam met ’n foto van ’n kokerboom: “Die Here is my herder – Troos dwarsdeur moedverloor se vlakte”. Dis ’n agt weke lange geloofsreis, waarin gelowiges gehelp word om ’n pad met hul vrese te stap. Die boek, so vertel die samesteller ten aanvang, het onder meer ontstaan uit die verhale van lidmate wat ongelukke en plaasmoorde beleef het. Daar is dagstukke deur skrywers en leraars soos Liesel Krause-Wiid, Johann Voges, Jan de Man, Thinus Benade, Danie Mouton, Roelf Opperman en André Botha.
Bestel ’n Hand vol Hoop hier.
Ek loer haastig-haastig deur die boeke; ek is op pad lughawe toe. Watter een sal ek saamneem?
Uiteindelik kies ek Ligvoets. Ek vertrek binnekort op ’n reis, en ek hoop om dit ligvoets af te lê …
En wat ’n luukse was dit nie! Om so in een sessie, al reisend in die kokon van ’n vliegtuig, van Kaapstad tot Johannesburg, die bundel van hoek tot kant deur te lees en te geniet. Gewoonlik moet ’n mens mos lank wag vir LiG om te verskyn sodat jy ’n nuwe Ligvoets-rubriek kan lees.
Fourie Rossouw skryf oor ’n verskeidenheid onderwerpe – sy werk as dominee, sy gesin, en ook sy kinderjare. Dié boek is beslis ’n goeie keuse vir ’n man se Kerskous, want daar is nie baie mans wat so helder en so wyd oor gesin- en geloofsake kan gesels soos Fourie Rossouw nie.
Hier is nog ’n klompie onlangse bundels met korter skryfsels (nie kortverhale nie) wat vir ’n Kerskous oorweeg kan word:
- Antoinette sê (Naledi, R250). Om stories vertel, lê in Antoinette Pienaar se murg. Dié geliefde stem op RSG noem stories ’n “kompas vir my Ware Noord”. In hierdie bundel gee sy lesers ’n dag tot dag-kykie in die ritmes van haar lewe op die plaas Theefontein naby Beaufort-Wes. Sy vertel hoe sy daar sonder baie dinge klaarkom wat deur dorpenaars as “onontbeerlik” bestempel sal word. Sy vertel hoe moeg ’n mens kan wees ná ’n dag in die dorp, en hoe haar hoenders beter vermaak bied as enige werklikheidsreeks op televisie.
- In die tyd van die gif. ’n Jaar en ’n half in stories (Tafelberg, R275). Dis klassieke Dana Snyman dié. Sy rugby- en kroegstories, sy wroeginge én dankbaarheid wanneer hy deur Suid-Afrika reis, en die diep menslikheid wat soos ’n goue draad deur sy vertellings loop, maak van hierdie boek alles wat jy daarvan verwag. Die titel verwys natuurlik na Covid-19, en die jaar en ’n half se stories vertel van die pandemie se impak op ons land en sy mense. Onder andere diegene wat sê: “Al my tools ek verkoop nou. What can I do? I must eat. Even Weet-Bix is fine for me.”
- Ritmes en rites – rubrieke vir drumpeltye (Naledi, R220). Die mens se gewaarwordinge in die Covid-19-tyd is ’n sterk tema in Cas Wepener se nuwe bundel. Dié teologie-professor skryf ook oor verhoudings, die ritme van tyd, oor identiteit en oor geregtigheid en versoening. Die meeste van hierdie rubrieke en langer artikels het voorheen by Beeld, Netwerk24 en Vrye Weekblad
- Curious Notions – Reflections of an Imagineer (Footprint Press, R420). Prof Mike Bruton is ’n viskundige wat onder meer navorsing oor die selakant-vis gedoen het. Op sy dag was hy die dryfkrag agter die Cape Town Science Centre. Sy nuwe bundel is nommerpas vir diegene wat dalk meer wil weet oor Suid-Afrika se bekendste uitvindsels; oor hoe plante en diere hul naam kry; hoe die fiets ontwikkel het; Afrika se Nobelpryswenners; watter lesse ’n mens by die uitgestorwe dodo kan leer. Daarby vertel hy ook oor die mees bisarre projekte wat deur die eeue deur navorsers aangepak is, en oor die bekendste uitvinders van ons tyd.
- Voetspore in Suid-Afrika 2 (Protea Boekhuis, R350). Vanweë Covid-19 is Johan Badenhorst en sy Voetspore-span se reise die afgelope tyd hoofsaaklik tot Suid-Afrika beperk. Maar dit het nie hul avontuurlus geblus nie. In reeds die tweede boek met dié plaaslike fokus sit die span hul gewilde Voetspore-resep voort. Dié keer vat hulle die pad van Pafuri na Letaba Ranch, van Witsand tot Badshoek, van Beaufort-Wes tot Gannabos, en van die Gantouwpas tot by Agulhas. Onder meer. Jy kan lees-lees saam met hulle reis, of jy kan die kaarte en inligting daarin gebruik om dieselfde roetes as Johan en sy span te volg.
- Floreer (Lux Verbi, R240). Op die voorblad van dié boek deur die bekende radiopersoonlikheid en skrywer, Ilse Salzwedel, skryf die resensent Phyllis Green só: “’n Belangrike boek oor veerkragtigheid wat jou voorberei om te oorleef in ’n veranderde en veranderende wêreld.” Sedert dit vroeg in 2021 verskyn het, het die praktiese wenke, verhale en geloofsvertellings daarin reeds vir baie mense die krag gegee om die jaar voetjie vir voetjie aan te durf. Ilse skryf onder meer: “Hierdie boek gaan dus nie oor hoe oulik ek was om soveel terugslae te beleef en te oorkom nie, maar my hoop is dat dit jou veral sal aanspoor om anders na die wêreld rondom jou én na jou lewe en die terugslae van jou lewe te begin kyk.”
- Herontdek jou selfvertroue: sewe stappe na ’n nuwe jy (Tafelberg, R290): Rolene Strauss, een van talle Suid-Afrikaanse vroue wat al oor die jare ’n Mej Wêreld-kroon gedra het, bied lesers in die eerste gedeelte van die boek ’n kykie in haar lewe, en vertel wat dit alles (goed én sleg, vreugde én vertwyfeling) van haar geverg het om nie net etlike skoonheidskrone te dra én ’n mediese graad te verwerf nie, maar om ook ’n sakevrou te word.
Dis ’n boek wat jy stukkie vir stukkie aanpak. Rolene verduidelik byvoorbeeld in sewe stappe wat selfvertroue vir haar beteken. En hoe veral vroue die lewe met meer selfvertroue, selferkenning en eiewaarde kan aanpak, en hul eie gedagtes kan herbedraad.
- ’n Sonneblom vir elke dag (Lux Verbi, R260). Die uitgewers som Susan Coetzer (wat as kind “Sonneblom” genoem is) se jongste boek só op: “Met hierdie 260 dagstukkies nooi Susan jou uit na ’n avontuur van sonsoek – al agter die Son aan. Die wêreld het baie meer sonneblommense nodig, nie nog giftige ivies, stinkafrikaners, stekelrige kaktusse, knieserige rosies of klaende hangkopwilgers nie.”
- 14 maal moord (Protea Boekhuis, R295). Daniël Lotter is ’n skrywer wat ’n moordverhaal kan vertel dat dit selfs lekker klink. In hierdie bundel belig hy 14 van Suid-Afrika se mees opspraakwekkende moordsake. Dié boek sal in die kraal (en die Kerskous) pas van diegene wat van intrige hou. Dit volg op die skrywer se 17 maal moord wat die afgelope jaar telkens op topverkoperlyste was.