Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘By God is alles moontlik,’ vertel vrou wat swanger word ná chemoterapie, bestraling

DEUR MARIZANNE PIEK

In 2019 het ek uiteindelik die man van my drome ontmoet.

Voorheen was ek in ’n toksiese verhouding betrokke waar ek emosioneel mishandel is. My kêrel het my boonop rot en kaal besteel om te dobbel en te drink. Teen die einde van ons verhouding het ek niks van myself gedink nie. En daar was liggaamlik niks van my oor nie; ek was bitter maer. Ek was kwaad vir die Here omdat ek so moes swaarkry.

Ek het nietemin gebid vir ’n man wat my gesin eendag sou lei en wat Jesus in sy hart het. Toe ek Marthinus Piek ontmoet, het ek geweet Jesus het hom na my toe gestuur.

Ons het verlief en verloof geraak, en ons troue is vir September 2020 beplan. Maar in Maart 2020 ruk die Covid-19-pandemie die wêreld tot stilstand. Ons moes ons troue uitstel. My hart was swaar, maar ek het geweet God is in beheer.

Op 10 Augustus 2020 het my lewe ’n snaakse draai gemaak, een wat ’n mens nie dink op 28 met jou kan gebeur nie: Ek is met fase 3-borskanker gediagnoseer. Binne drie weke moes ons skielik groot besluite neem oor die inplanting van ’n poort vir chemoterapie, en vir die chemoterapie self. En om ’n eierselletjie te vries. Om ’n mastektomie en die daaropvolgende rekonstruksie te ondergaan. En bestraling.

Ek het nie geweet na watter kant toe nie. ’n Mens dink nie dat so iets met jou kan gebeur nie, en ek was dan so jonk …

Daar is vir my gesê dat ek dalk nooit ’n ma sal kan wees nie. Ek het van die oggend tot die aand gehuil, want ek het so alleen en seergemaak gevoel. Toe sê Marthinus vir my: “Ek gaan met jou trou vir wie jy is. Kinders of nie. Ek trou nie met jou oor wat ek by jou kan kry nie.”

Net daar het Jesus my hart aangeraak en ’n onbeskryflike rustigheid het op my neergedaal. Ek het toe die pad gestap en al die bogenoemde behandelings ondergaan. Ek het goeie én slegte dae beleef; meer goed as sleg. Ons het spesifiek vir twee dinge gebid: dat ek nie naar sal wees tydens my behandeling nie, en dat ek ’n mamma sal word. Dit het nie vir ons saak gemaak of laasgenoemde deur normale bevrugting, IVB of aanneming sou gebeur nie.

In Februarie 2021 kry ons die goeie nuus: Die kanker is in remissie. Ek was nie een dag naar nie. Op 6 Maart 2021 het ek mevrou Piek geword.

Met die wete dat ons dalk nie ’n baba gaan hê nie, het ons ons lewe as getroudes geniet. Marthinus het my na Jesus teruggebring. En gelukkig het dit voor my diagnose gebeur, want sonder die Here sou ek dit nie kon regkry nie.

In September 2021 kry ek die gevoel in my hart dat ek ’n swangerskaptoets moet doen, want ek bly gewig optel. Die wieletjie draai, en ná die langste drie minute in my lewe lees ek die woorde: Pregnant 3+ weeks.

“Dankie, Here!” is al wat ek deur die trane kon uitkry. Ek het swanger geraak te midde van chemoterapie, hormoonbehandeling en bestraling. By God is alles moontlik!

Op 13 Januarie 2022 is Chris-Jan gebore, ons perfekte, Godgegewe seuntjie. En in Maart 2024 sal hy ’n boetie of sussie kry. Nadat daar gesê is ek sal nie ’n mamma kan wees nie, is ek vandag ’n mamma van amper-amper twee kinders, en dit deur normale bevrugting.

Toe my biopsie-uitslae positief was, het ons elke dag gebid vir rustigheid, dat ek die doel in alles sou raaksien en sou begryp dat ek hierdie stryd moes deurmaak. Ná die pad wat ek geloop het, het ek ’n klompie seminare aangebied waarin ek met jonger dames oor my stryd teen kanker gepraat het. Toe het ek beter verstaan: Ek is ’n dissipel van God. God werk deur mense om ons te red.

Die Here se hand in ons lewe is onbeskryflik. Hy werk op raaiselagtige maniere. Ek en Marthinus het geleer om altyd na die Here te draai, in goeie én slegte tye. By Hom vind ons rus. En ons gesin – nou reeds byna vier – is ’n wandelende getuienis van Hebreërs 11:1 se woorde: “Now faith is the assurance of things hoped for, the conviction of things not seen.”

  • Marizanne Piek (31) woon in Klerksdorp en is ’n onderwyser by Laerskool La Hoff. Haar man Marthinus hou skool by Hoërskool Schoonspruit. Hul seun Chris-Jan is in Januarie 2022 gebore, en die egpaar verwelkom in Maart 2024 hul tweede kind.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF