19 Februarie 2021
Nadat die Covid-19 virus in Suid-Afrika muteer (verander) het, is dit tans amper 80% weerstandig teen onder meer die Astra Zeneca-entstof. Daar is egter groot hoop dat die Johnson & Johnson-entstof ons sal kan beskerm. Hier is meer inligting.
DEUR SALOMÉ DELPORT
Johnson & Johnson sê op hul webwerf dit is reeds getoets (kleinskaals) teen die Suid-Afrikaanse variant, en dat hul entstof ons sal kan beskerm.
Hulle sê ook dat hul entstof vier weke na die inenting 72% effektief is – met ander woorde drie uit elke vier mense wat die inenting ontvang sal ’n maand later nie Covid-19 kry nie.
LEES OOK: Watter Covid-19-entstof sal jy kies (as jy ’n keuse het)?
Johnson & Johnson het opgemerk dat immuniteit teen die virus met verloop van tyd tóéneem. Sewe weke na inenting het géén ontvangers siek geraak nie. Dit lyk dus potensieel asof ontvangers van die Johnson & Johnson-entstof wat kontak met die virus vir sewe weke kan vermy, heeltemal bestand daarteen kan raak.
Só werk die Johnson & Johnson-entstof
Die Covid-19 virus lyk soos ’n gholfbal oortrek met pennetjies. Die Johnson & Johnson-entstof (soos verskeie ander, ook die Astra Zeneca-entstof) fokus op hierdie uitsteeksels (spikes op Engels).
Hul navorsers het die stukkie DNA geïdentifiseer wat hierdie uitsteeksels maak. Hierdie seksie DNA word geplaas in ’n skadelose draervirus, spesifiek ’n adenovirus. Die meeste adenovirusse is skadeloos, maar party veroorsaak wel ligte verkoue.
Wanneer jy die entstof met hierdie virus ontvang, vermeerder die virus soos tipies gebeur. Al kan die draervirus jou nie siek maak nie, herken jou immuunstelsel die vreemde virus en sy uitsteeksels. Hy maak dus teenliggaampies daarteen. Wanneer jy later met die werklike Covid-19 virus met sy pennetjies in kontak kom, herken jou immuunstelsel dit dadelik. Hy onthou hoe om teenliggaampies daarteen te maak en produseer blitsig derduisende daarvan, wat die Covid-19 virus vernietig vóór dit jou siek maak.
Is daar probleme met die Johnson & Johnson-entstof?
Sover lyk dit nie so nie. Dit het nog twee groot voordele: jy benodig net één dosis, en dit is ’n meer robuuste entstof as die Pfizer-entstof. Dit hou sowat drie maande nadat dit vervaardig is, mits dit gestoor word by 2 tot 8 grade Celsius. Dit kan dus in ’n yskas gestoor word. Dit is egter steeds belangrik dat die verkoelingsketting nooit breek nie, want hitte soos ons dit in Afrika ken sal dit gewis vernietig.
LEES OOK: ‘Of ek lewe of sterwe, ek behoort aan God,’ – Covid-lyer
Wat van newe-effekte? Onder die sowat 45 000 mense wat getoets is, was ligte verkouesimptome vir ’n dag of twee nadat hulle die entstof ontvang het, die algemeenste. Dit was simptome soos hoofpyn, effense koors en lyfseer.
Vernaamste bronne
British Medical Journal, Januarie 2021 https://www.bmj.com/content/372/bmj.n86
The Lancet, Desember 2020 https://www.thelancet.com/journals/lancet/article/PIIS0140-6736(20)32623-4/fulltext
- Salomé Delport is ’n bekroonde gesondheidsjoernalis wat sowat 15 jaar lank gesondheidsredakteur van die tydskrif Rooi rose was. Sy is tans ’n vryskutjoernalis en -inhoudskepper.