Uiteindelik is ’n Covid-19-entstof ’n werklikheid. Maar wat van komplikasies? Is daar risiko’s aan hierdie entstof? Sal jy jou laat inent?
DEUR SALOMÉ DELPORT
17 Desember 2020 – Ons weet almal die kans om weens Covid-19 te sterf is taamlik klein: 997 mense uit elke duisend wat hierdie nuwe plaag opdoen herstel, terwyl rondom drie sterf – in ons land so min as een per duisend.
As jou keel egter skielik seer is klink selfs hierdie lae syfer té hoog. Gelukkig lyk dit of die nuwe entstowwe ’n uitkoms gaan bied. Pfizer sê nege uit elke tien mense wat met hulle entstof ingeënt is het vir ten minste drie maande daarna nie siek geword nie.
Dit ís fantastiese nuus, maar wat van komplikasies?
Kan die Covid-19-entstof jou siek maak?
Die byna vergete storie van die 1976-varkgriepentstof, wat sonder deeglike toetsing op die mark gesit is, bly tog spook.
In daardie jaar was daar ’n groot uitbraak van ’n taamlik ernstige varkgriep. ’n Entstof is blitsig daarteen ontwikkel en binne tien weke is 45 miljoen mense in die VSA ingeënt. Toe merk dokters op dat daar skielik baie meer mense met ’n baie skaars verlammingsiekte, Guillain Barré-sindroom, aanmeld. Ontleding van die syfers het gewys sowat een uit elke 100 000 mense wat ingeënt is, het hierdie toestand daarna ontwikkel. Die entstof is onmiddellik gestaak. Een uit ’n honderdduisend mense is gelukkig nie baie nie, maar ’n mens wonder oor die nuwe Covid-19-entstof wat ewe blitsig op die mark gesit word.
Kan dieselfde gebeur met die nuwe Covid-19-entstof? Waarskynlik nie. Hier is twee geldige redes:
- Die Pfizer-entstof is op ’n virusfragment gebaseer
Die splinternuwe konsep agter die Covid-19-entstof bied ’n skuiwergat wat ons potensieel kan beskerm. Die meeste bestaande entstowwe is gebaseer op volledige organismes. So word volledige maar doodgemaakte influenzavirusse in die griepentstof gebruik, terwyl die BCG-entstof teen tuberkulose lewende maar verswakte tuberkulosebakterieë gebruik.
Die nuwe Pfizer-entstof gebruik egter net ’n brokkie van die virus om jou immuunstelsel te prikkel. Die groot voordeel? Teoreties is dit onwaarskynlik dat so ’n brokstuk in ’n volledige, aktiewe virus kan ontwikkel.
- Die eerste vrywilligers is al drie maande lank sonder newe-effekte Komplikasies wys tipies binne ure en klaar teen die volgende dag of week op. Hoe langer na die inenting hoe kleiner raak die kans op komplikasies. Die kans dat ’n siektesimptoom wat na ses weke ontwikkel met die entstof verband hou is so te sê nul.
Daarby het Pfizer hulle Covid-19-entstof op meer as 40 000 mense getoets – oorgenoeg mense dat komplikasies nie misgekyk behoort te word nie.
Maar wat van risikogroepe, soos diabete? Was daar onder hulle ook nie komplikasies nie? Pfizer brei nog nie te veel uit nie maar hulle sê wel dat hulle allerlei groepe mense betrek het, soos diabete, bejaardes en kankerlyers.
Hoe algemeen is komplikasies na die Covid-19-entstof?
Ons weet nog nie werklik nie, maar ons kan ’n ingeligte raaiskoot maak deur dit te vergelyk met wat ons algemeen van entstowwe weet.
Hoe lyk jou risiko as jy ’n entstof sou neem?
Feit is dat komplikasies moontlik is – ja, selfs sterfte.
Daar is nog nie syfers vir die Covid-19-entstof nie maar die getalle vir ’n paar ander entstowwe lyk so, volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie (WGO). Ons gee die getal mense wat gesterf het teenoor die aantal dosisse van die entstof wat toegedien is:
- Na die OPV-polio-entstof: 1 persoon uit 750 000
- Na DTP (difterie, kinkhoes en tetanus): 1 persoon uit 750 000
- Na die maselsentstof: 1 persoon uit 1 miljoen.
As die Covid-19-entstof in lyn met hierdie entstowwe is hoef jy jou regtig nie te bekommer oor sterfte nie. Jou kans om weens Covid-19 self te sterf is baie, baie groter as jou kans om weens die entstof te sterf.
Watter komplikasies kan ’n mens ontwikkel na ’n inenting?
Komplikasies na ’n inenting word geklassifiseer as gevaarlik, ernstig of matig. Dit is wat jy kan verwag:
Algemene ligte komplikasies
- Swelling waar jy ingeënt is is die algemeenste komplikasie. Die kans op swelling wissel van entstof tot entstof. Byna almal het swelling na die BCG-entstof teen TB, terwyl net een uit elke tien mense na die HiB-entstof swelling het. Al is dit seer, teer en ongemaklik is dit nie gevaarlik nie. Moenie krap nie.
- Koors tref 1-20% van mense wat met ander entstowwe ingeënt is. Jy kan ’n parasetamol drink en sorg vir ekstra vloeistof. Gewoonlik is die koors binne ’n dag verby.
- Onwelheid soos moegheid of ’n uitslag pla ook sowat 1-20% van mense na ander inentings.
Ernstige komplikasies
As jy egter enige van die volgende ervaar moet jy dadelik terug dokter toe gaan – dit is ’n noodgeval. Hierdie komplikasies steek gewoonlik binne een tot 24 uur kop uit maar kan tot ’n maand later eers pla.
- Aanhoudende huilerigheid by kinders
- Epileptiese aanval
- ’n Episode waartydens jy pap voel, bleek is en nie reageer nie
- Ongewone neusbloeding en/of ’n lae bloedplaatjietelling.
Gevaarlike komplikasies
- Sterfte (baie seldsaam)
- Ernstige en permanente gestremdheid (baie seldsaam).
As jy dink jy het ’n komplikasie na ’n inenting
Jy hoef jou nie oor ’n swelsel, koors of moegheid te bekommer nie, maar ’n epileptiese aanval of enige episode waartydens iemand pap is en nie reageer nie verdien onmiddellike mediese aandag.
Gelukkig word die gebruik van entstowwe wêreldwyd gemonitor en alle komplikasies word aangemeld by VAERS . Elke geval word geëvalueer, en mense met ernstige komplikasies kan selfs vergoed word.
Kyk oopkop na jou risiko weens die entstof
Alles gaan oor jou relatiewe risiko. Die vraag wat jy moet beantwoord is: Wat is jou kans om te sterf as jy Covid-19 opdoen teenoor jou kans om te sterf weens die inenting?
Ons weet reeds in ons land sterf rondom drie uit elke duisend mense wat Covid-19 kry. As jy egter ’n diabeet is, bejaard is, oorgewig is of ander risiko’s loop is jou kans op sterfte weens Covid-19 baie hoër – en raak die inenting daarteen ’n beter keuse.
- Salomé Delport is ’n bekroonde gesondheidsjoernalis wat sowat 15 jaar gesondheidsredakteur van die tydskrif Rooi Rose was. Sy is tans ’n vryskutjoernalis en -inhoudskepper.