DEUR THOKOZANI SIDLABANE
Vertel jou storie – skree dit, skryf dit. Sommige sal dit nie verstaan nie … Ander sal dit heeltemal verwerp. Maar baie sal jou daarvoor bedank.
LEES OOK: #covidkinders: Die hoop op ’n nuwe môre
Gebroke gesinne, onderdrukking, verlies, verwaarlosing en selfdood … Dít alles sal jy in my storie vind. Hierdie jaar was inderdaad vir baie van ons ’n moeilike, vermoeiende jaar … Pynlik. En soms het ons ook God bevraagteken oor hoekom juis nóú in hierdie belangrike skooljaar … Dit is belangrik dat jy jou storie moet vertel.
Ek weet hoe moeg jy is. Ek weet sommige van julle voel asof jou stem nie gehoor word nie. Jy vrees dat jy nie saak maak nie. EK het ook so gevoel, maar JY MAAK SAAK!
LEES OOK: #covidkinders: ‘Vertrou volkome op die Here’
Almal se ervaring is uniek en terwyl ons ons verhale vertel is daar soveel wat rondom ons in die wêreld gebeur.
In hierdie pandemie besef jy hoe belangrik jou familie is. Dit was so lekker om almal na ’n lang tyd in een vuurhoutjieboksie te hê.
Die isolasie van die buitewêreld, die kansellasie van ons matriekjaaraktiwiteite is vir my die moeilikste. As hoofseun weet ek ons wou so baie doen, maar als is tevergeefs. Jou houding sal in hierdie moeilike tye bepaal wat ons wel sal bereik. Hoe meer positief jy ingestel is, hoe meer sal jy van sukses verseker wees. Daar is soveel van ons wat die negatiewe kant kies. Die nuus is ’n 24 uur-herinnering van hoe die pandemie slag-na-slag verwoestende hartseer saai. Om te sien hoe swaar ons mense kry, finansieel, emosioneel en fisies … Dit is dus belangrik om visie, moed, toewyding en ’n tikkie geloof in jou mengsel van inspirasie te gooi om voort te gaan.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Ek gaan die toekoms goudgeel inkleur’
Ons leef vandag in ’n onvoorspelbare wêreld. Ek vrees radikale verandering! En hierdie vrees laat soms toe dat ek gulde geleenthede mis wat op my pad kom, en ek loop dus die gevaar om stil te bly, te stagneer as ek hierdie verandering vermy. Dit is ’n onvermydelike feit dat negatiewe dinge in jou lewe gaan gebeur. Die gevoel van eensaamheid, verwerping, mislukking, onsekerheid is dinge wat my bang maak en my wêreld soms tot stilstand bring. Maar my grootste vrees is om ’n geliefde te verloor in hierdie afgryslike tyd.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Ek kry iets waarna ek my hele lewe smag – ’n regte familie’
Ek vind hoop in aksie. Deur die nodige stappe te neem om na die lewe te beweeg wat my hart laat sing. Ek vind hoop in opvoeding, want kennis is sowaar mag! Ek vind hoop in liefde. Ek deel graag my diepste hartsbegeertes met dié vir wie ek liefhet en laat hulle toe om my te help op my lewensreis. Soms voel ons so hopeloos en elke keer wanneer ons ten gronde is, kom die hoop van God te voorskyn – al is dit net ’n glimlag wat jou hoop gee om aan te gaan.
LEES OOK: #covidkinders: ‘My Bybelstudiegroep gee my hoop om elke dag aan te pak’
Elkeen op ons planeet is uniek. Ons is almal anders aanmekaar gesit. Ons talente, vaardighede en drome verskil, maar die een ding wat ons in gemeen het, is tyd. Tyd gee my hoop. Elkeen van ons het dit al beleef … tyd … 60 sekondes in ’n minuut, 60 minute in ’n uur, 24 uur in ’n dag en 365 dae in ’n jaar. Hoe jy jou tyd aanwend, bepaal of jy jou drome gaan bereik. Dit gaan nie oor hoeveel tyd ons het nie. Die belangrikste is dat ons nie tyd moet mors nie. Elke minuut wat verlore gaan is vir altyd weg. Dis soos ongeslypte diamante. Gooi dit weg en die waarde daarvan sal nooit bekend wees nie. Benut dit reg en jy kry dalk die suiwerste diamante.
LEES OOK: #covidkinders: ‘Daar is baie maniere om jou seëninge te tel’
Vandag is die enigste kans wat jy het. Gister is verby en môre is nie verseker nie. Maak vandag die keuse, wees vandag die verskil. Vind jou geluk in hierdie moeilike tye.
Perfeksie is buite ons bereik, maar uitnemendheid is binne ons vermoë.
- Thokozani Sidlabane is hoofseun van Charleston Hill Sekondêr in die Paarl.
LiG vier #Jeugmaand deur leerders te nooi om bydraes vir ons #covidkinders-rubriek te lewer.