Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Daar is nie iets soos ‘n probleem nie, slegs ‘n oplossing’ – ma Sarie se grootste les aan Willem

Hy dra vele hoede – sanger en liedjieskrywer, akteur en TV-aanbieder, fotograaf en grimeerkunstenaar, entrepreneur en boer. Sy lewe is vól, maar daar is altyd tyd om met die Here te praat, elke dag.

Willem Botha se volgepropte dagboek sal menigeen die hasepad laat kies. Die een dag skuif hy agter die kamera in om foto’s vir ’n glanstydskrif te neem, nadat hy vooraf ook die grimering en haarstilering hanteer het; die volgende dag bied hy ’n stylvolle skoonheidwerkses­sie vir sowat 300 vroue aan. En by dié Wil­lem Botha Make-Up Masterclass gebruik hy sy eie grimeerreeks, Willem Botha Beauty, om al sy grimeertegnieke te wys.

Die daaropvolgende dag reis Willem na ’n plattelandse dorp om daar te sing en op te tree. En die vierde dag skuif hy voor die televisiekameras in as mede-veldaanbieder van kykNET se weeklikse tydskrifpro­gram Kwêla.

Tussendeur al sy bedrywighede sal hy dalk ’n nuwe liedjie skryf, of telefoniese insette lewer vir sy pa Theuns op die skaapplaas of sy ouer broer Louis met die perde-onderneming.

Dis duidelik: Willem se geesdrif vir die lewe, sy kreatiwiteit en sy entrepreneur­skap ken geen perke nie.

Willem en sy uitgebreide gesin. Agter is sy pa Piet en broer Louis. In die middel is ma Sarie, Willem en sy broerskind Jaque. Voro is sy anders broerskind Juan en ouma Zirkea. Foto: Pat Stone

Bevoorreg, veelsydig, gedissiplineerd

Willem is op 17 April 1987 gebore, die jongste van twee seuns. Hy het op ’n plaas naby die prentjiemooi Riversdal grootgeword.

“Ek besef wat ’n groot voorreg dit was om op ’n plaas groot te word. En ek is terselfdertyd dankbaar dat ek deur sulke wonderlike ouers se hande gevorm is.”

Hy sê sy ouers, Sarie en Theuns Botha, het hom en sy broer, wat drie jaar ouer as hy is, “nooit gedruk om enigiets te word of te wees nie. Ons het as kinders soveel vryheid op die plaas gehad! Ek het soos ’n wafferse Zorro oral op my perd rondgery.”

Sy ma vertel hoe Willem reeds as kind sy groot deernis vir mense sowel as diere gewys het. “Wanneer hy ’n afvlerk-voëltjie of beseerde diertjie op die plaas opgetel het, het hy dit huis toe gebring om ge­sond te maak. Die mense op die dorp het geweet dat Willem graag diere rehabili­teer en het dikwels diere wat sorg nodig gehad het vir hom gebring.”

Maar buiten sy liefde vir diere, veral perde, het hy van jongs af graag “per­form”, vertel Sarie. Of dit nou by ’n eisteddfod was, ’n konsert by die skool of kerk, Willem was op die verhoog. “Dan het hy gewoonlik die hoofrol gespeel.”

Willem sê sy belangstelling in fotografie het reeds in die laerskool begin nadat sy ouers hom ’n kamera gegee het. “Ek het hoofsaaklik diere en plante op die plaas afgeneem, en nooit gedroom dat ek eendag bekende mense vir ’n tydskrif sou fotografeer nie.”

Hy het op skool ook sy kant op die sportveld gebring en in rugby, atletiek en veral perdry uitgeblink. In laasgenoemde was hy onder meer Victor Ludorum by die nasionale Arabierperd-kampioenskap. Sy pa vertel: “Hy het ook aan uithouritte deelgeneem en een keer selfs met ’n gebreekte sleutelbeen gery. Sodoende het hy die ‘Spirit of Endurance’-trofee tydens die bekende en uitdagende Fauresmith-uithourit ingepalm.”

Sarie vertel graag hoe haar jongste spruit van kleintyd af deur sport, en veral perdesport, dissipline geleer het. “En dié dissipline het deurgesyfer na al die ander fasette in sy lewe.”

Fondamente, en eerste treë

Die Botha-seuns se Christelike opvoeding het vir ’n stewige fondament gesorg. Theuns sê: “Ons het ons lewe lank ’n goed gewortelde Christelike oortuiging, en ons maak geen geheim daarvan dat ons niks sonder Christus kan bereik nie. Dat Hy die middelpunt van ons bestaan is. Mense is feilbaar, en daarom glo ons dat ons diep afhanklik van God se genade is.”

Toe Louis en Willem in die laerskool was, het Theuns op eie houtjie die kategeseonderrig behartig. “Omdat ek in die week, vanweë my werkverpligtinge, nie baie tyd saam met ons seuns kon deur­bring nie, was dit kosbare gehaltetyd. Die een tot twee ure lange godsdiensonderrig het goeie vrugte afgewerp, wat Louis en Willem se liefde vir Christus verdiep het.”

Willem was ’n leerling aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal, maar op skool het hy nooit drome van ’n loopbaan in die vermaaklikheidswêreld gekoester nie. “Ek was altyd lief vir sing, maar het eerder daaraan gedink om ’n veearts of ’n wildbewaarder te word,” vertel hy.

Maar toe, steeds op hoërskool, kry hy die eerste voorsmakie van die vermaak­likheidsbedryf toe hy as wenner van Die Burger Plus-ster-kompetisie aangewys word. Nadat hy gematrikuleer het, het hy drama aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer.

Hy vertel: “Op ’n dag het my pa my geskakel en my aangemoedig om vir kyk­NET se Idols-kompetisie in te skryf. Ek het nooit, nie in my wildste drome nie, gedink ek sou ook die geleentheid kry om aan Idols deel te neem nie. Ek het gereeld op skool na die Amerikaanse weergawe van Idols gekyk. Dis deur Ryan Seacrest aange­bied en ek het daarvan gedroom dat ek eendag ’n werklikheidsreeks sou aanbied.”

Hy was uiteindelik die naaswenner van die Afrikaanse Idols in 2006 – en dit was sy groot deurbraak in die bedryf. “Die Die Burger Plus-ster-kompetisie het my goed vir Idols voorberei, ook omdat ek die kans gekry het om drie weke lank saam met Kurt Darren te toer. Én, tydens my matriekjaar, by verskeie kunstefeeste te kon optree. In daardie tyd het ek aan ’n klompie televisieprogramme deelgeneem, onder meer Liriekeraai.

“Na afloop van Idols is ek terug Stellen­bosch toe om my tasse te pak. Ek het my studies opgeskop en Pretoria toe verhuis. Suksesvolle deelname aan Idols waarborg nie ’n suksesvolle loopbaan nie; wanneer die reeks ná vier maande verby is, begin jou harde werk eers.”

Die jaar ná sy deelname aan Idols is Willem met ’n Tempo-toekenning as “Nu­weling van die Jaar” bekroon. Hy het toe ook begin naam maak as akteur. In 2010 het rolprentgangers hom die eerste keer op die silwerdoek in die musiekrolprent Liefling gesien, waar hy “Katryn, Katryn” gesing het. Daarna was hy Hennie Hak­kel in Pretville.

Hy het die volgende jaar ’n rol in die musiekspel Tree Aan! vertolk en in 2014 die rol van JayDee in die TV-reeks Sterlopers losgeslaan.

Uitdagings en vervulling

Toe volg nog ’n groot uitdaging: Willem kry die geleentheid om ’n veldaan­bieder vir die tydskrifprogram Kwêla te word. Hy was daar dadelik so tuis soos ’n vis in die water.

En, vertel hy, hy is ook dol oor die verhoog. Een van die hoogtepunte in sy loopbaan tot dusver is die rol van Joseph wat hy vanjaar in die musiek­ blyspel Joseph and the Amazing Tech­nicolor Dreamcoat vertolk het. “Toe ek slegs gesing het, het dit later vir my soos werk begin voel. Sing is wel my grootste passie, maar dis vir my baie stimulerend en vervullend om verskillende dinge te kan doen – van aanbieding tot fotografie, van grimering tot toneelspel.”

Van grimering gepraat: Willem en drie vennote het verlede jaar die grimeerreeks Willem Botha Beauty ontwikkel. Entrepre­neurskap is vir hom ’n lekker uitdaging.

‘God se beplande tyd’

Willem vertel dat hy elke dag met die Here praat. “Voor ’n fotosessie, byvoorbeeld, sal ek Hom vra om my werk te seën.”

Hy sê sy ouers is sy grootste rolmodelle. “Ek het so baie by hulle geleer. By my pa het ek byvoorbeeld geleer dat ek alle mense, ongeag kleur, afkoms, status of beroep, met respek moet behandel. My ma het my geleer dat daar nie iets soos ’n probleem is nie, slegs ’n oplossing.

“Ek het by my ouers geleer om altyd nederig te bly. Ek probeer om al hierdie lesse elke dag toe te pas.”

Hy het ook talle waardevolle lewenslesse in sy loopbaan geleer, sê hy. “Die belangrikste is dat ’n mens baie hard moet werk. Dat jy daarby geduldig moet wees, want dinge gebeur altyd op God se beplande tyd.”

Buiten twee keer het Willem nog elke Kersfees van sy lewe saam met sy fami­lie op die plaas by Riversdal deurgebring. “Ons maak die feesgety altyd baie tradi-sioneel en spesiaal. Ons kies gewoonlik ’n kleurtema waarvolgens ons aantrek en die geskenke moet toedraai.

“My ma kook dan vir ’n vale! My gunstelinge op die spyskaart is gebraaide skaapboud, pampoenpoffertjies, koring en gebakte aartappels. Ek hoop regtig my ma gaan ons hierdie Kersgety weer daarmee bederf.

“Dis kosbare samesyn so saam met my familie. Ek kry ook die geleentheid om be­hoorlik te ontlaai op die plaas, om perd te ry, om lang ente te gaan stap.”

  • Foto’s Robert Cable

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF