Jana Kriel van Porterville sal nooit die spesifieke oomblik in die hospitaal vergeet toe die mediese personeel weereens probeer het om hul enigste dogtertjie by te bring nie. Na ’n lang tydperk van kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is daar selfs so ver gegaan om haar oomblik van sterfte aan te kondig.
Jana onthou die dag: “Ek het met Leah-Beth se Bybel in my hande op die hospitaalvloer neergesak. Ek het die Here gesmeek om haar lewe te spaar. Die verpleegsters het om my kom staan en hul hande op my gesit en begin bid vir die miracle child. Van die dokters het kom saambid.
“Sy is weereens deurgehaal en het bly leef.
“En later daardie dag het my beste vriendin vir Leah-Beth babakleertjies gebring met die woorde miracle child daarop.”

Dokters voorspel ’n donker toekoms
Leah-Beth is op 7 April 2017 gebore. Sy was pers-blou, en kort voor lank het sy ’n hoë infeksietelling gehad. Die dokters kon nie die oorsaak daarvan vasstel nie.
Uiteindelik was klein Leah-Beth 33 keer in die hospitaal voordat ’n finale diagnose gemaak kon word. Jana vertel: “Haar lugpyp bevat nie voldoende kraakbeen nie. Dit beteken dat die lugpyp toetrek elke keer as sy asemhaal. En sy beskik nie oor voldoende longkapasiteit om dit weer oop te maak nie.”
Jana en haar man Jaco vertel meer van die dokters se voorspellings oor hul klein wonderwerk se toekoms: “Daar is voorspel dat sy moontlik nie ’n normale lewe sou kon lei, selfstandig asemhaal of soos ander kinders aan alledaagse aktiwiteite sou kon deelneem nie. Ook dat sy moontlik permanente ondersteuning en mediese masjiene sou nodig hê weens moontlike ontwikkelingsagterstande en fisieke beperkings. Sy sou in elk geval niks kon doen wat groot longkapasiteit geverg het nie.”
God se wonderwerk
Maar niks daarvan is bewaarheid nie. Vandag is Leah-Beth ’n sportiewe negejarige dogtertjie. Sy speel tennis en ryg die titels in. Baie onlangs het sy eerste geëindig in verskeie groot tennistoernooie in die o/10-groep. Sy is ook blitsvinnig en het reeds nege naellooprekords gebreek.
Jana sê: “Vir ’n dogtertjie wie se longe en asemhaling nie normaal is nie, is dié soort sportprestasies ’n wonderwerk. Ons glo dat sy ten volle genees is. Dokters het ná onlangse toetse gesê dat haar longe aangepas het, hoewel hulle nie gedink het dis moontlnik nie.
“Leah-Beth is ’n bondeltjie vreugde en energie. Verskeie kere as sy ’n naelloop voltooi, gooi sy haar armpies in die lug as sy eerste oor die wenstreep hardloop. As ek haar daaroor uitvra, sê sy: ‘Ek sê dankie vir Jesus, want ek was nooit veronderstel om te kon hardloop nie.’”
Jana en Jaco sê hul dogter is ’n lewende getuie van God se genade en krag. “Mense sien haar prestasies raak. Maar vir ons is haar grootste prestasie nie die medaljes of die rekords nie; dit is dat sy leef – ’n wonderwerk van God. Sy gee alle eer aan Jesus, en sy getuig oor Hom waar sy ook al gaan.”
Die Kriel-gesin leef vanuit dié heerlike waarheid: “God het die laaste sê. Hy maak die laaste skuif. Dit is nooit skaakmat wanneer Hy op die troon is nie. Die woorde in Numeri 6 dra ons elke dag, en ons bid dit steeds oor ons kind.”
Hulle het ook ’n boodskap aan ander ouers: “Ons wens is nie dat mense haar sal bewonder nie, maar dat hulle God sal sien. Ons bid dat haar getuienis hoop sal bring vir ouers wat ’n moeilike swangerskap deurmaak, of wat langs ’n hospitaalbed sit en wonder of daar nog hoop is.”
* Kyk die video met Leah-Beth se volledige getuienis hier.
*God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf. Jóú ondersteuning gaan ons help om ons getuienisvoetspoor te vergroot. Klik hier om te help.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.























