Deur Milanie Vosloo
Het jy al gesien hoe ’n piepklein brandende kersie wel in ’n groot donker saal raakgesien kan word? Hoe jou oë, wanneer jy in die donker vertrek inloop, outomaties op die lig fokus?
Wat vertel dit vir ons wanneer ons soms so onbelangrik klein voel dat ons wonder waarom ek dan tog op aarde is? Of ek enigsins ’n verskil maak aan die mense om my? Of die klein vlam van lig wat in my is, enigsins raakgesien sal word?
Dit bevestig aan ons dat die wêreld onbelangrike mense soos ek en jy bitter nodig het. Dat God óns nodig het om met die klein bietjie wat ons het, kersvlamme te wees waardeur ander Hom kan sien en waardeur hulle hoop kan vind.
LEES OOK: God word nooit moeg vir jou nie
In die Feestyd is daar so baie mense wat ’n stukkie lig nodig het: swaarkry-mense, hulle wat stoei met ’n klomp dinge … hulle wat bloot honger is na liefde. Dink daaraan: Vir wie kan jy in dié tyd ’n kers van hoop en vreugde bring? Dalk verlig die aangee daarvan jou eie hart.
Kers van Hoop
Here Jesus,
ons almal smag op dié stadium van die jaar na lig:
Na hoop, vreugde en vrede.
Veral na liefde.
Ook ek is honger daarna.
Vandag onthou ek weer dat U gesê het dat dit
saliger is om te gee as om te ontvang.
Daarom, Kind van die Krip,
sal ek in díé tyd
lig wil bring daar waar donker is,
hoop wil gee waar mense stukkend is,
vreugde wil uitdeel waar pyn stukkend maak.
En liefde wil gee.
Sommer vir almal wat my pad kruis.
Want Vader,
het ons nie almal diep behoefte
aan die liefde nie?
Amen.
“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis,’ het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” – 2 Korintiërs 4:6.