DEUR MILANIE VOSLOO
’n Mens staan maar altyd onseker voor die deur van ’n nuwe jaar, want wie weet wat vanjaar vir ons anderkant daardie onbekende deur wag …
Dis in sulke tye wat die Woord ons opnuut help om met vertroue die deurknop te draai, omdat Hý daar agter is. Omdat Hý ons vooruitgaan.
Jesaja 40 gee aan ons drie sekerhede waaraan ons in 2021 kan vashou:
- “Moenie bang wees nie … Hier is jou God!” (40:9): Weet: God is in jou hiér. Hier waar jy nou lees. Hier in die seisoen waarin jy nou leef. Hier in jou omstandighede, in jou gemoed. Hier ín jou ís Hy en sal Hy heeljaar bly.
- “Die oppermagtige Here kom met krag.” (40:10): 2020 het ons geleer dat die mens toe nié so in beheer is soos wat hy gedink het nie. God ís. Onthou: Hy is die almagtige Een, ook in jou lewe. Daarom kan niks met jou gebeur waarin Hy nie ook sal wees nie.
- “Hy versorg sy kudde soos ’n herder. Die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en dra hulle teen sy bors.” (40:11): Visualiseer die prentjie van hoe God jou in sy arms teen sy bors dra. Hoe Hy met sorg na jou omsien. Jou met liefde teen sy hart hou.
Jy sal ook vanjaar gedra word deur die Een wat ín en om jou is. Wat die heelal in sy hand hou. En jou dig teen Hom vashou. Glo dit en weet: Dié Lam het jou sý lam gemaak.
Veilig is ek!
Ek is dankbaar, Here!
Dankbaar omdat U – Lam van God –
alles oorwin het.
Die wêreld in die palm van u hand hou.
My lewe in die holte van u hart het.
En my – onseker mens –
vashou.
Ek gee opnuut elke aspek van my lewe
vir U
in die diep wete dat U
Hére is.
Dat U in elke hiér is.
Dat ek teen u bors vasgehou word.
En daarom met vertroue kan lééf.
Skrif:
Moenie bang wees nie … Skaapooie met lammers versorg Hy (Jes 40:9b, 11c).
LEES OOK: Dagstukkie: Wat kan jy gee?