Deur Milanie Vosloo
Geskenke kan ’n wonderlike bederf wees. Of om baie redes in ’n vergeet-kas beland.
Kom ons kies om vanjaar iets anders as toegedraaide papierpakkies te gee: vir-altyd-geskenke wat lewensveranderend en verrykend kan wees. Dink dalk aan die volgende:
- Vir wie kan jy in dié tyd vergifnis gee? Kan jy dink wat dit vir hom/haar kan beteken?
- Is daar dalk iemand vir wie jy kan hoop bring wat hom/haar kan laat voel dat daar tog ’n lewe na vandag is?
- Dalk is daar ’n mens wie se lewe jy kan ophelder omdat jy ’n stukkie sonskyn van gee-net-goedheid kan bied?
- Jy ken dalk mense wat honger is na ’n paar goeie woorde en erkenning. Kan jy dink wat jou opregtheid vir hulle kan beteken?
- Daar sal altyd meer as genoeg mense wees wat smag na iemand se onvoorwaardelike liefde. Wat smeek om joune.
LEES OOK: Dís jou geskenke vanaf God
Onthou: Daar is geskenkskoene van die hart wat net jy kan vol staan. Doen dit en beleef hoe jou eie reis lig en verlig word.
Doeke van genade
Ons is almal so honger na hartsgeskenke, Vader.
Na korsies van vergifnis, omgee en liefde.
Maak my vanjaar die stiller van hierdie smagting.
Ja, laat ek die een wees wat die eerste tree gee
van uitreik na ander,
van gee wat binnemure verander
en wat iets kan wys van Wie U – Kripkind – regtig is.
Draai my in die doeke van u genade toe
sodat ek lig sal bring daar waar dit donker is;
hoop sal gee vir moedeloses,
sagtheid sal bied vir ’n klipharde wêreld.
Doeke van eenvoudige … liefde.
Skrif:
“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” – Hebreërs 10:24.