Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Dankbaarheid is ’n soort lofprysing

DEUR SIMONE GAUCHE

Soggens maak my alarm my presies vyfuur wakker. My oggendroetine is gewoonlik redelik voorspelbaar. As ’n mamma van twee peuters het ek baie min tyd vir myself en die uur tussen vyf- en sesuur is uiters kosbaar.

Dis verbasend hoe baie ’n mens in een uur se stilte uitgerig kry.

Een van my oggendgewoontes is om telkens 15 dinge neer te skryf waaroor ek dankbaar is. Sommiges is groot sake, soos my en my gesin se gesondheid en die bewustheid van my roeping. Ander is klein, soos die voorreg om ’n pragtige voëljie te kan sien of die see te kan hoor – of bloot \’n parkeerplek reg voor die winkelsentrum se ingang te kon kry!

Navorsing

Daar is tans heelwat belangstelling in dankbaarheidspraktyke en daar word baie navorsing oor die voordele daarvan gedoen. Kenners het begin wonder of dit nog ’n “wat was eerste, die hoender of die eier?”- debat is. Dit wil sê: Maak dankbaarheid ons gelukkig, of is gelukkige mense dankbaarder mense?

LEES OOK: Vreugde sonder vrees

Dit lyk asof die wetenskap wel ’n antwoord gevind het:

In een van die studies oor dankbaarheid is die deelnemers in twee groepe verdeel. Die eerste groep was dertig agtereenvolgende dae elke dag twee tot drie minute lank bewustelik dankbaar. Die ander groep het niks van die aard gedoen nie. Aan die einde van die studie het dit geblyk die eerste groep was 25% gelukkiger as die tweede.

Maar die interessante waarneming was dat eersgenoemde groep se geluk lank geduur het. Die eerste groep was nege maande nadat hulle hul dankbaarheidspraktyke gestaak het, steeds gelukkiger as die tweede groep.

Die ander insiggewende bevinding was dat die navorsers geen verskil kon sien tussen mense wat dankbaar was vir groot dinge en diegene wat dankbaar was vir klein dingetjies nie. Die blote dankbaarheid-“verskynsel” was genoeg.

LEES OOK: Beplan saam met God

Dit alles beteken onder meer dat jy, al dink jy daar is nie veel om voor dankbaar te wees nie, jouself gelukkiger kan maak deur bloot op die klein dingetjies in jou lewe te fokus.

Dis goed en dis gratis

Daar is mettertyd ook gevind dat dankbare mense makliker nuwe verhoudings vorm, en dat hul bestaande verhoudings beter vaar. Dit blyk dat buitestanders in die algemeen meer aangetrokke voel tot persone wat vol dankbaarheid is.

Dankbaarheid is ook goed vir jou gesondheid, aangesien dankbare mense beter na hulleself omsien.

Daar word ook beweer dat dankbaarheid jou meer energie gee, dat dit jou emosionele intelligensie laat toeneem en jou meer vergewensgesind maak. Dit maak jou na bewering minder depressief, minder angstig, dit verbeter jou veerkragtigheid. Jy slaap beter, en jy kry dalk minder hoofpyn. Dit alles lei daartoe dat dankbaarheid jou prestasie by die werk verbeter.

Dankbaarheid is gratis en dit hoef nie baie tyd in beslag te neem nie. Dit word in elk geval later ’n leefwyse.

Dis ook maklik om dankbaarheid in jou gesin se daaglikse ritme te integreer, of dit nou om die etenstafel is, of tydens jul Bybelstudie of in jul gebede.

Ons Here verwag dankbaarheid van ons – nie omdat Hy dit nodig het nie, maar omdat Hy weet hoe goed dit vir ons is om gedurig dankbaar te wees. Hoe nodig ons dit het om gelukkig te kan wees.

’n Soort lofprysing

Rabbi Lord Jonathan Sacks het gesê: “Wat medisyne nou oor individue weet, het Moses van volke geweet.” Dankbaarheid was vir seker nie ’n sterkpunt by die ou Israeliete nie. Moses moes hulle deurentyd berispe vanweë hul ondankbaarheid. Hy moes hulle sonder ophou herinner aan alles wat die Here vir hulle gedoen het.

Jesus se lewe op hierdie aarde het dankbaarheid teenoor sy Vader geadem. Daarom het Hy sy dissipels en almal wat na Hom kom luister het, geleer hoe om dankbaar te wees.

Ons het ook by Hom geleer dat dit baie makliker is om te dien en om jouself te gee indien jy dankbaar is vir wat jy ontvang het.

Dankbaarheid is ’n soort lofprysing, en dit bring jou nader aan God. Jy sien Hom nou oral om jou.

Dit het ook tot gevolg dat ons nie onsself met ander vergelyk nie. En ons geloofsreis ook nie met ander s’n nie. Só lê dankbaarheid aan die hart van ons getuienis.

DANKBAARHEID is een van daardie begrippe wat eie aan gelowiges is (of behoort te wees). Ons ken tog dié teksverse:

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag (1 Tess 5:18).

Wees altyd dankbaar (Kol 3:15).

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Fil 4:6).

Is jou geluk hierdie jaar ’n prioriteit?

Dan moet jy dalk begin deur daadwerklik dankbaar te wees. 

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.