19 Maart 2021
“Dit was regtig ’n nederige oomblik toe ek my inenting gekry het. Juis omdat ek so na aan die dood was.”
Aan die woord is die 44-jarige Leonard Maschilla, ’n verpleegkundige van die Paarl, wat drie dae gelede (17 Maart) sy inenting teen Covid-19 ontvang het.
LEES OOK: ‘Of ek lewe of sterwe, ek behoort aan God’ – Covid-lyer
Omdat Leonard in die voorste linie teen die koronaviruspandemie veg, het hy al twee keer Covid-19 opgedoen. As programbestuurder van MIV/Vigs, tuberkulose (TB) en seksuele oordraagbare infeksies (SOI) vir 14 dagsentrums (klinieke) en ses tronke in die Bolandomgewing, kry hy elke dag met die publiek te doen.
Die eerste keer wat hy die virus opgedoen het was in Julie 2020. Die virus was ongenaakbaar en het byna sy lewe geneem. Die trane sit vlak toe hy sy verhaal tydens ’n Zoom-gesprek deel.
“Ek het teen koors van 40 grade en hoër geveg. My vrou het my eers self probeer versorg, maar toe gelukkig die ambulans ontbied. My suurstofvlakke was slegs 60%. Ek was vir twee weke in die intensiewe sorgeenheid. Die dokter het gesê as ek ’n dag later gekom het, het ek dit nie gemaak nie. My longe het glo soos dié van ’n persoon met TB gelyk.
“My geloof in God het my deurgedra,” vertel Leonard.
“Ek dink die ergste was die feit dat ek sulke klein kindertjies het. Hulle is kléin – twee, drie en vyf jaar oud. My vrou Porcha is my steunpilaar. Toe ek later uit ICU na ’n gewone saal is kon ons gereeld video call. Maar, al vermoed sy sy het self later ook Covid-19 gehad, het sy deurgedruk omdat daar niemand anders is om na die kindertjies te kyk nie.”
Volgens Leonard was hy so swak na hy ontslaan is, dat hy vir twee maande tuis moes aansterk. Hy het boonop tydens sy siekbed 20 kg verloor.
LEES OOK: Pediater met breingewas skryf kinderboek vir sy kleuter voor hy sterf
Leonard kon in September 2020 weer terugkeer na sy werk. En na sowat drie maande het die virus weer toegeslaan. Hy vertel: “Op 7 Desember het ek weer positief getoets. Maar dié keer het ek net ligte griepsimptome gehad. Ek was so dankbaar.”
Met Covid-19 wat nou reeds meer as ’n jaar ’n werklikheid vir Suid-Afrikaners is, vertel Leonard het Covid-19 deel van sy dagtaak geword.
Ons doen baie moeite om bewusmaking rondom Covid-19 te doen, verduidelik hy.
“Ons deel veral maskers in ons gemeenskap uit en benadruk die belangrikheid van voorsorgmaatreëls. Ons is op die oomblik bekommerd oor die derde vlaag, en hoewel niemand vir seker weet wanneer dit sal kom nie is ons bang vir die Menseregte-langnaweek en Paasnaweek omdat mense juis dan saam kuier.
“Ongelukkig kan ’n groot bymekaarkoms die virus laat opvlam. Dink maar aan die matrieks se partytjie (Rage) laasjaar in die Oos-Kaap. Dit het Covid soos ’n veldbrand laat versprei.”
Leonard gee nog wenke:
- Vermy binneshuise plekke waar jy noue kontak met ander gaan hê.
- Dra jou masker en beskerm jou lugspasie deur 1,5 meter van ander te bly.