Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Dozi vind innerlike vrede: ‘Ek is nie meer Dozi nie – ek is nou Hendrik Christoffel Opperman’

Hy het die roem geken. Die applous. Die partytjies. Die wilde lewe. Maar in die stilte van Covid-19 het Dozi begin ontdek waarna hy jare lank gesoek het – vrede. Vandag kyk dié geliefde sanger met nuwe oë na sy lewe en sê hy wil nie meer hê mense moet na Dozi, die vermaaklikheidster, kom luister nie, maar na Hendrik Christoffel Opperman.

Die huis is stil. ’n Vuur knetter in die kaggel. Okkie, die oulike Jack Russell-hondjie, lê knus langs sy baas op die bank. ’n Kitaar rus teen die kussing en ’n voosgevatte Bybel lê oop op die tafel, vol onderstrepings en notas.

Die Covid-19-inperking was vir baie mense ’n tyd van eensaamheid. Maar vir die geliefde sanger Dozi het dit die plek geword waar God stadig maar seker die geraas in sy lewe begin stilmaak het.

“Dit was net ek, my seun Storm, my hond, my kitaar en my Bybel,” vertel hy in sy hees rasperstem, hier waar ons in sy plaashuis in Hartbeespoort gesels.

“Ek het ure lank in daardie afsonderingstyd gesit en lees. Nie om kennis op te doen nie; ek wou verstaan. Ek wou uitvind wat God werklik vir my sê.”

Dit was die begin van ’n nuwe hoofstuk. Die man wat dekades lank net so bekend was vir sy sielvolle musiek as vir wilde partytjies het in die stilte iets ontdek wat hy nêrens anders kon vind nie: innerlike vrede.

‘Ek was nog altyd gelowig’

Dozi sê hy lag wanneer mense hom vra wanneer hy hom “bekeer” het. Hy wou immers, lank voordat hy as Afrikaanse sanger bekend geword het, ’n Zoeloe-gospelsanger word.

LEES OOK: Jan Blohm beweeg op 50 na die lig: ‘Sonder Jesus Christus sou ek nie ’n kans gehad het nie’

Maar sy antwoord vir sulke mense is eenvoudig: “Ek is bekeer daardie dag toe ek uit my ma Susan se maag gekom het. Sy was baie lief vir Jesus. Pa Theuns ook. Ek het so grootgeword, en ek was van kleins af gelowig. Ek het net nie regtig verstaan wat geloof beteken nie.”

Sy pa was nie ’n man van baie woorde nie, maar wel ’n mens met ’n diep wysheid. En vol waarhede, wat eers later vir Dozi begin sin maak het.

Een van daardie gesprekke onthou hy vandag nog. “Hendrik,” het sy pa hom gevra, “hoe toets jy ’n man se karakter?”

“Ek weet nie, Pappa,” het hy geantwoord.

“Jy gee hom geld. Of jy gee hom roem.”

Dozi ken albei, en hy het ’n renons in al twee. Hy het uitverkoopte vertonings beleef, derduisende mense se applous aangehoor en die druk van bekendheid aan sy lyf gevoel. Vir baie mense sou dit dalk die toppunt van sukses wees.

Hy ervaar dit anders. “Ek wil nie meer ander mense beïndruk nie. Ek wil nie ’n ster wees nie. Die enigste ster, die enigste ware celebrity, is Jesus.”

Hy het nog iets agtergekom: “Roem maak jou arrogant. Dit laat jou dink jy is belangriker as wat jy regtig is. Dit het my laat glo ek het alles self vermag. Maar eintlik is ek net ’n instrument.”

Ná ses dekades se lewensondervinding het Dozi besef ’n mens se grootste begeerte behoort te wees om ware liefde te vind, en om liefde uit te leef. “Jesus het immers gesê alles berus op liefde.”

En dit glo hy: “Jou hart moet so sag wees soos wol. Hoe anders sal jy by die hemelpoorte kan ingaan?”

Sy groot stryd

Dozi reken dat hy jare lank deur die publiek en die media óf geprys óf veroordeel en gestenig is, sonder dat hulle die ware hy leer ken het. Hulle het die verhoogpersoonlikheid beleef, die treffers gehoor, die koerantopskrifte gelees. Maar min mense het die man gesien met die groot worsteling in sy hart. Die ou wat een aand, nie so lank gelede nie, vir God gevra het: “Here, hoekom het U my so wild gemaak?”

Wanneer hy aan sy grootwordjare terugdink, onthou hy die onskuldige witkopseuntjie sonder letsels op sy hart. Hy sing daaroor in sy lied “Sibanyoni”, die naam wat sy Zoeloe-maats hom gegee het. Dit beteken “vlerke van ’n voël”. Dis ’n beeld van vryheid.

Dozi onthou die stofpaaie, die speel met draadkarretjies, kleilat gooi, die veld. ’n Eenvoudige tyd wat hom gevorm het.

“Tog,” voeg hy by, “het my ma altyd gesê ek het ’n baie sterk wil.” Wat sy daarmee bedoel het, was dat niks hom sou keer wanneer hy iets wou doen nie.

Die witkopseun het grootgeword, drooggemaak, en vandag sê hy, eerlik en sonder verskonings: “Ek het regtig wild geleef, maar dit was omdat ek so wóú leef.”

Die drank, die partytjies, die gedurige gejaag in die musiekbedryf, het vir lank soos vryheid gevoel. Vandag weet hy van beter.

“Ek het al gesê ek het die duiwel raakgedrink. Hy het my rondgepluk, maar ek dink ek moes hom leer ken om te weet hoe slu hy is.”

Sy stem breek as hy sê: “Deur dit alles het God nooit my hand gelos nie. Ek het ook nooit ophou glo nie. Selfs wanneer ek op my dronkste was, het ek steeds gebid.”

Terugskouend reken hy dat God daardie wilde jare toegelaat het “omdat Hy geweet het my karakter is sterk genoeg om weer anderkant uit te kom”.

‘Die Here het ’n plan met my lewe’

Vandag lê die krag van sy getuienis juis daarin dat hy donkerte ken. “As ek nog altyd ’n perfekte lewe gehad het, sou ek nie vandag mense kon verstaan wat swaarkry nie. Ek sou nie iemand wat te veel drink in die oë kon kyk en sê ek weet hoe dit voel nie. Ek sou nie iemand wat moed verloor het, kon moed inpraat nie.”

Maar nou kan hy. “En as ek eerlik oor my eie lewe kan wees, gee dit dalk iemand anders hoop.”

Hierdie oortuiging word versterk deur iets wat hom telkens verras het. Hy vertel: “Daar het deur die jare soveel vreemdelinge na my toe gekom.” Swart mense. Wit mense. Mense wat hom glad nie ken nie. En dan het hulle nie oor sy musiek gepraat nie, maar bloot gesê: Die Here het ’n groot plan met jou.

“Dit het oor en oor gebeur,” vertel hy. Aanvanklik het hy nie geweet wat om daarvan of daarmee te maak nie. “Ek het eenvoudig aangegaan met my lewe.”

Vandag beleef hy dit as die bewys dat God al lankal besig is met hom. Lank voordat hy die goddelike handewerk herken het.

‘Ek kan nie meer ligsinnig wees nie’

Hy wil nie meer ligtelik deur die lewe gaan nie, sê Dozi, en vertel dat hy reeds vyf jaar lank nugter is. Hy probeer ook hard om op te hou rook, ter wille van homself en ter wille van sy stem.

“Skielik voel dit vir my asof ek op ’n ander manier asemhaal. Ek is dieselfde mens, maar ek kyk anders na die wêreld.”

Daar is ’n Zoeloe-uitdrukking wat dit vir hom mooi omskryf, sê hy – umoya wakhe. “Dit beteken sy asem, sy wind, wat deur jou siel waai. Sy Gees wat in jou leef.”

Vir Dozi het dit ’n nuwe betekenis aan die skepping gegee. “God is in alles. Hy is in elke titseltjie lug, in elke asemteug. Soms dink ek: Here, dit het so lank geduur voordat ek dit besef het. Ek wil dit nie langer besoedel nie.”

‘My kerk is waar ek tussen mense sit en sing’

Dozi glo vandag, meer as ooit, dat musiek ’n gawe is wat met ontsag hanteer moet word. “Musiek het Jerigo se mure laat val,” sê hy. “Dit vorm ’n volk. Dit bou ’n kultuur. Dit gee kos vir die siel.”

Hy praat ook oor die invloed van woorde. “In die tagtiger- en negentigerjare van die vorige eeu het ons sommer énigiets gesing – “Highway to Hell”, “Hell’s Bells”, al daai dinge, sonder om te besef wat woorde doen of watter invloed dit op mense kan hê.”

Deesdae kyk hy met ander oë daarna. Musiek kan onrus saai, maar dit kan ook vrede bring. En dit is wat hy wil doen. “Ek sê nie almal moet gospel sing nie, maar ’n mens kan ook deur gewone liedjies dinge soos waarheid, hoop en skoonheid oordra.”

Ál wat hy deesdae wil doen, is sing en musiek skryf. En om te luister na wat die Here, deur Hom, vir ander wil sê. Nie noodwendig deur gospelmusiek nie, maar deur musiek met ’n boodskap. “Al wat ek het, is vandag.”

Gister is verby, en môre lê nog voor. Wanneer Dozi vandag op ’n verhoog klim en sing, is dit om Jesus aan mense te wys. Om hulle op ’n reis te neem, om Dozi-stories te vertel en om eerlik te praat oor die foute wat hy gemaak het.

“Ek is nou op ’n plek van vrede. En my stem is nóú eers waar ek dit wil hê.”

Dan voeg hy by: “Ek wil hê mense moet weet dat as hulle vandag na een van my shows toe kom, hulle nie meer na Dozi kom luister nie; hulle kom om vir Hendrik Christoffel Opperman te hoor.”

  • Dié sanger is ook beskikbaar vir privaat funksies, kleiner geleenthede en spesiale vierings. Kontak Bella by 082 824 7101, of info@dozimusic.com.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►