Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Die beste pad is ’n stil pad

DEUR SIMONE GAUCHE

Die lewe is dikwels so gejaag dat ons sukkel om tyd vir stil word in te ruim. En dit skep probleme. Trouens, die Franse filosoof Blaise Pascal het eens gesê: “Die mensdom se probleme spruit voort uit die mens se onvermoë om stil en alleen in ’n kamer te sit.”

LEES OOK: Die goeie wedloop

Daar is diegene wat beweer ons het “human doings” geword en is nie meer “human beings” nie. Dis dalk baie na aan die waarheid. Want ons wil deurentyd besig wees. Ons wil vermaak word, of dit nou is deur op ’n televisieskerm te kyk of op ons selfoon se skerm. Om stil te word, voel vir ons dieselfde as om onproduktief te wees.

Ons sukkel om bloot “te wees”. Om hier en nou teenwoordig te wees. Ons ruim nie tyd in om in ons eie gedagtes versonke te raak nie.

Die vermoë om te kan terugdink en lesse daaruit te leer, en om vir die toekoms te kan beplan, onderskei ons van diere. Diere kan slegs in die hede leef. Hulle is hier en nou teenwoordig. Maar juis daarmee sukkel ons. Daarom is dit so belangrik om doelbewus stil te word.

Hoor nou hoe help Psalm 1 ons hiermee:

“Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg, nie op die pad van sondaars gaan staan en nie in die byeenkoms van spotters sit nie, maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel. So iemand sal wees soos ’n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy” (Ps 1:1-3).

Psalm 1 nooi ons uit om stil te word en te dink oor hoe ons keuses ons vorm. Dié psalm se inhoud is goed bekend, maar die 2020-vertaling help ons om met nuwe oë daarna te kyk. Só sien ons hoe die mens “wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel” gevorm word tot ’n boom wat vrugte dra.

Hoe mooi, hoe beskrywend, is “mymerend prewel” nie! Die woord “mymer” roep die betekenis op van om in jou eie gedagtes verlore te wees. Om vol heimwee aan bepaalde dinge en situasies te dink. En om te prewel, is om iets op ’n feitlik-onhoorbare manier te sê. Om sag te praat, dalk selfs binnensmonds.

Ons kan dus sê mymerend prewel is om jou in God se Woord te “verloor” – terwyl jy dit saggies, oor en oor vir jouself sê. Boonop op ’n manier wat dalk onverstaanbaar is vir almal om jou. Dis ’n soort intieme meditasie. Dit fokus jou gedagtes. Dit maak jou stil.

En só word die Woord deel van jou menswees.

Ja, Psalm 1 beskryf twee maniere van leef: Die een manier maak jou soos ’n boom wat langs ’n watervoor geplant is, wat gesond is en vrugte dra. As ons tyd in God se Woord deurbring, dit oordink, dit oor en oor lees en ten volle daarin teenwoordig is, volg ons die pad wat van ons ’n boom maak wat baie vrugte dra. As ons sy Woord toelaat om op hierdie manier deel van ons te word, sal dit ons lewe oneindig verryk.

Die ander manier van leef maak jou soos kaf wat deur die wind weggewaai word. Wat ’n nuttelose bestaan is dit nie! Wat ’n noodlottige keuse …

Daar is sommige lesse wat ek oor en oor moet leer. Ek trap so maklik in die besig wees-strik. Daarom dat ek, wanneer ek terug kyk op die jaar tot dusver, sien hoeveel dinge in werklikheid gebeur het, maar terselfdertyd spyt is dat ek nie meer kere stil was nie.

My gebed vir jou is dat jy die eerste pad sal kies. Dis die beste pad. Die stil pad. Mag jy elke dag tyd inruim om God se Woord mymerend te prewel. En mag die boom baie vrugte dra!

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.