Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Die goeie wedloop

DEUR SIMONE GAUCHE

Ek het onlangs die Two Oceans-halfmaraton voltooi. Duisende mense kom jaarliks van oraloor om aan hierdie wedloop in die mooie Kaapstad deel te neem. Ek het my verkyk aan al die mense om my. Hulle het my vlugtig laat dink aan Paulus wat ons aanmoedig om die goeie wedloop te hardloop.

LEES OOK: Die Here se lysie vir ’n gelukkige lewe

Soveel hardlopers, soveel benaderings

Ja, het ek gesien, almal om my fokus daarop om die wedloop te voltooi. Maar dit het my opnuut getref hoeveel verskillende maniere daar is om dit te benader.

Daar is hardlopers wat die besluit om ’n wedloop aan te pak baie lank oordink. Hulle oorweeg al die verskillende voor- en nadele en berei lank voor. Eers ná versigtige oorweging skryf hulle in.

Dan is daar natuurlik diegene wat halsoorkop besluit om te hardloop, wat in die laaste beskikbare minute ’n inskrywingsvorm in die hande kry, dit vinnig voltooi en dadelik ingee.

Daar is mense wat erg gefokus is. Jy herken die verbete trek op die gesig. Die ysere wil en selfdissipline in hul gespanne skouers. Wanneer hulle hardloop, kyk hulle nie links of regs nie; hul oë is stip voor hulle. Hul enigste fokus is die stophorlosie en die strewe na ’n goeie tyd.

Maar daar is ook diegene wat baie rustig hardloop, wat die natuurskoon om hulle geniet, wat met medehardlopers gesels, wat langs die pad foto’s neem so ver hulle gaan.

Opdraand en afdraand, gelyktes en keuses

Alle wedlope is vermoeiend, maar nie alle hardlopers kry ewe swaar nie. En nie almal sukkel op presies dieselfde tyd of plek nie. Sommiges hardloop byvoorbeeld teen ’n opdraand uit asof dit niks is nie. Maklik-maklik doen hulle dit, terwyl hul hardloopvriende erg sukkel, ent-ent stap, en soms ’n rukkie tot stilstand moet kom net om die lam bene ruskans te gee.

Daar is diegene wat teen die afdraand begin versnel; ander hou hulleself doelbewus terug. Dit lyk kompleet asof hulle rem trap.

Baie hardlopers is op hul beste wanneer die pad reguit en gelyk voor hulle uitstrek. Links, regs, links, regs hardloop hulle. Elke tree ewe lank.

Daar is mense wat verkies om alleen te wees met hul gedagtes as hulle hardloop; daar is ander wat in groot, gesellige groepe die wedloop aanpak, wat die hele ent pad gesels en lag en skerts.

Dan is daar die verskillende klubs. Baie hardlopers behoort aan ’n bepaalde klub. Hulle is baie lojaal teenoor die klub en hardloop in die klub se kleure. Daar is etlike klubs om uit te kies en elkeen het ’n eie karakter. Maar almal streef dieselfde doel na: dat hul lede die wedloop voltooi.

Daar is wel ook hardlopers wat nie aan ’n klub behoort nie, wat dalk nooit ’n klub gevind het waar hulle tuis voel nie.

Die wedloop van die lewe

Elke mens pak die wedloop van die lewe op ’n eie, unieke manier aan. Presies hoe jý dit doen, hang af van jou fisieke vermoë, jou persoonlikheid en jou omstandighede. Elke persoon het ’n eie aanslag, maar almal voltooi uiteindelik dieselfde wedloop.

In dié wedloop is ons tog so geneig om om ons te kyk, om goed te wil sien hoe die ander mense hardloop en wat hul aanslag is. Dikwels vergeet ons skoon om op die einddoel te fokus. Ons moet tog weet dat ’n ander mens se hardloopstyl minder belangrik is as die koers wat hulle kies.

Boonop kan ons ons Godgegewe talente gebruik om ander te help om die wedloop te voltooi. As jy goed vaar teen die lewe se opdraande kan jy ander aanmoedig en hulle selfs saam met jou boontoe trek. En as jy vinnig teen die afdraande is, kan jy die ander se vrees besweer en hulle aan die hand neem.

Dalk is jy die soort mens wat ander hul ritme kan help vind tydens die lewe se wagperiodes, daardie tye waneer die pad gelyk en selfs voorspelbaar is en dit voel asof niks wil verander nie.

Ons lewenswedloop verskil egter van alle ander wedlope daarin dat ons weet ons sal die podium haal. Ons hoef niemand verby te steek of uit die pad te stamp nie. Jesus het reeds die wenstreep bereik sodat ons almal uiteindelik by Hom kan aansluit, ongeag hoe ons die wedloop gehardloop het.

Mag jy hierdie week jou fokus rig op die wete dat ons almal in dieselfde rigting op pad is, ongeag ons persoonlike styl of die manier waarop ons die wedloop benader.

Hoor wat skryf Paulus aan sy jong vriend Timoteus:

“Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms” (2 Tim 4:7-8).

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF