Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Die storie van God se Naam

DEUR SIMONE GAUCHE

Ons ry in die motor en uit die bloute vra my seuntjie: “Mamma, wat is God se naam?”

Ek en my man kyk na mekaar – en ons begin name opnoem. Een ná die ander ryg ons hulle in: Here; Jahweh; Ek is; Vader; Almagtige; Voorsiener; Rots; Geneser; Beskermer; Allerhoogste; Herder; Pottebakker; Skepper; Redder; Heilige; Koning …

My seuntjie lyk ’n bietjie verward en hy vra: “Hoekom het Hy dan so baie name, Mamma?”

LEES OOK: ‘God het m‎y seer gebruik om haar te help,’ vertel pleegma van die Springs-gruwelhuis se Landi

“Wel,” sê ek, “elke Naam beteken iets anders. Elkeen vertel ons ’n ietsie meer oor wie en hoe Hy is.”

“O,” sê hy. En hy lyk heel tevrede.

* * *

Soos dit moes wees, lees die dominee daardie Sondag in die kerk onder meer dié vers in haar preek: “En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here!” (Ps 9:11).

En weer sit en dink ek oor God se Naam. Daar is inderdaad baie name. Ken ek hulle almal? Is dit enigsins moontlik om dit te ken? Wanneer ons God leer ken, weet ons dikwels net van sommige daarvan. Gewoonlik is dit daardie name wat ons die beste verstaan, of dié wat die duidelikste tot ons spreek vanweë die spesifieke situasie of omstandighede waarin ons ons dan bevind.

Maar soos ons verhouding met Hom verdiep, so leer ken ons Hom ál beter. Die pad wat ons saam met Hom stap, het tot gevolg dat Hy Hom ál meer aan ons bekend maak. Deur altyd soekend te bly, leer ons meer oor sy aard.

Dis seker dié dat God se destydse antwoord aan Moses so aangrypend is. Moses wou mos ook weet wat hy moet sê as iemand wil weet wat God se Naam is. Toe antwoord Hy: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur” (Eks 3:14).

Ek is …

Jy kan self die leë ruimtes voltooi met een of ál die name wat jy van Hom ken. Jy moet wel weet dat Hy dit alles is – en oneindig meer. Ons kan Hom nie in ’n boksie plaas met ’n naamkaartjie daarop nie. Hy is veel, veel groter as wat ons ooit kan dink.

Hierin lê ook die misterie van God. Om Hom volledig te verstaan en te ken, is onmoontlik. Ons ken maar gedeeltelik en ons verstaan maar gedeeltelik. Ons sal nooit al sy name kan ken of volkome kan verstaan nie. Maar ten spyte daarvan ken Hy óns, en roep Hy ons op ons naam. My naam en jou naam is vir God belangrik.

Dis waarom Hy sê: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer” (Jes 49:16).

En: “Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort” (Op 3:50).

Ek besef daarom dat ek bloot kan hoop, en kan begeer, om Hom my lewe lank te soek. En sy beeldskone Naam in dié proses te leer ken.

Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys!

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF