DEUR SIMONE GAUCHE
In die tyd voor die hemelvaart dink ek altyd aan hoe Jesus se dissipels moes voel voordat hulle geweet het Hy het die dood oorwin.
Hoe hulle gedink het: Ons Messias is dood. Ons het alles opgegee om Hom te volg, Hy was die Een wat ons sou verlos en die stukkende wêreld weer genees …
Hulle was vreesbevange en het agter geslote deure in ’n bovertrek geskuil. Hulle het nie geweet wat om te doen of waarheen om te gaan nie.
Was alles dan tevergeefs?
LEES OOK: God se liefde pas nie in ’n boksie nie
Krisistye
Soms draai krisistye ons wêreld op sy kop – ’n familielid sterf; ’n kankerdiagnose tref ons of ’n geliefde; ’n verhouding word beëindig.
Eensklaps lê ons lewe aan skerwe – so voel dit.
Krisisse is ongelukkig ’n deel van die lewe, en daarom is dit deel van ons verhouding met God. Ons kan nie aan verlies en lyding ontsnap nie.
Dit is egter juis in sulke tye dat ons onsself beter leer ken en daar kragtige verandering plaasvind.
Hoor wat sê die Prediker: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd … ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans” (Pred 3:1, 4).
Wanneer die tyd vir ’n krisis aanbreek, wonder ons dikwels oor God. Ons vrae kry nie antwoorde nie. Ons vra onder meer vir onsself:
Is ek veilig by God?
LEES OOK: Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers
Waar is Hy dan? Waarom het Hy my alleen gelaat?
Wat doen Hy? Waarheen is Hy met my op pad? Hoe kom ons daar?
Wanneer is die lyding dan verby?
Is God werklik by my?
Soms is daar niks anders te doen as om te erken dat jy verwilderd is nie. Dat jy geen idee het waarmee God besig is nie; jy is kwaad en jy het seer.
Dis trouens ’n werklikheid dat ons die meeste van die tyd géén idee het waarmee God in ons lewe besig is nie.
Maar dis waar geloof sy rol speel: Ons kan maar glo dat ons veilig is by Hom.
Luister wat sê die profeet wanneer hy God aan die woord stel: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jes 55:8-9 – 1933/1953-vertaling).
Is God werklik goed?
Is God altyd en in alle omstandighede goed? Dit vra ek my gereeld af wanneer ek ’n krisis beleef.
Indien Hy werklik goed is, waarom gebeur slegte dinge? Hoekom laat Hy dit toe?
Is sy genade ooit genoeg vir my? Is Hy steeds lief vir my?
Is Hy nie dalk wispelturig soos sy skepsels nie?
Die probleem is dikwels dat ons nie God se goedheid verstaan nie. God se goedheid is nie ’n begrip wat ons kan omskryf, bemeester, besit of beveel nie.
Die ou kerkvader Augustinus het gesê: “As jy verstaan, is dit nie God wat jy verstaan nie.”
Die skrywer van Deuteronomium 29:29 stel dit so: “Die verborge dinge is vir die Here onse God” (1933/1953-vertaling).
En al kan ons nie sy goedheid verstaan nie, weet ons dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (vgl Rom 8:28).
Kan ek God vertrou?
Kan ek vertrou dat God se tydsberekening die beste is?
Kan ek Hom vertrou dat ek dit wat ek verloor het nie werklik nodig het nie? Kan ek Hom vertrou dat ek Hom uitsluitlik nodig het en nié dit wat ek verloor het nie?
Kan ek Hom volg op die pad na die onbekende?
Die psalmdigter het gesê: “Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker” (Ps 130:7).
En Jeremia: “Dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop” (Klaagl 3:22-24 – 1933/1953-vertaling).
Dis nie verkeerd om vrae te vra nie. Selfs Job, wat in die Bybel as voorbeeld gebruik word van hoe ’n mens verlies kan hanteer, het gehuil en getwyfel. Hy het sy emosies met God gedeel en allerlei vrae gevra.
En dink maar aan die gekla en gekreun in die Psalms …
Ons mág maar aan Hom erken dat ons sukkel om die nuwe lewe te sien wat uit die dood van die oue ontspring.
En ons moet weet ons sal nooit al die antwoorde hê nie.
Maar ons sal oukei wees as ons vrae ons lei tot die ontdekking dat God goed is. Dat ons op Hom kan vertrou.
Bid saam met my: “Here, gee ons die wysheid en moed om te leer uit die verlede sonder om daardeur vermink te word. Help ons om vas te hou aan wie U is wanneer ons krisisse beleef.”
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.