DEUR SIMONE GAUCHE; FOTO\’S EMILY BUNTING
Met Paastyd agter ons, dink ek steeds aan die opwinding daarvan. Een van die hoogtepunte vir die kinders was beslis die soektog na die versteekte paaseiers. Hul opgewondenheid was aansteeklik! Die tuin is noukeurig deursoek. Die kleingoed het ligvoets oor die grasperk getrippel. Elke bossie en elke takkie is opgelig. Elke hoekie en draaitjie is gefynkam.
En, o, die vreugde as hulle ’n eier ontdek! Die vonds is noukeurig bestudeer, aan almal in die omgewing gewys en in die fynste besonderhede beskryf voordat dit versigtig in ’n mandjie geplaas is.
En al die mammas het gewonder waarom hul kinders dan nie met nét soveel entoesiasme ’n kous se maat of ’n kosblik se weggeraakte deksel wil soek nie …
Dié speletjie het my laat dink: Stel jou voor jy vind die mooiste en grootste paaseier in die wêreld. Dis van jou gunstelingsjokolade gemaak, dis nie hol nie, dit smelt in jou mond. Jy weet sommer dat daar nog nooit in die geskiedenis só ’n buitengewone paaseier was nie.
Maar sê nou dié gesogte paaseier is in jou buurman se tuin versteek. Sal jy ál jou paaseiers prysgee vir hierdie een, hierdie heel, heel beste een? Sal jy dit dadelik doen, sonder om twee keer daaroor te dink? Sonder om eers te tel hoeveel van die gewone soort reeds in jou mandjie is?
As jy oor dié dinge wonder, luister dan na hierdie kort Jesusgelykenis: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land” (Matt 13:44).
Het jy mooi gehoor? Jesus vertel van iemand wat ’n waardevolle skat vind, heel per ongeluk. Dié mens het niks gedoen om die skat te verdien nie; dit was bloot sy gelukkige dag.
Maar daar is ’n kinkel in die kabel: Die skat is nie op sy grond nie. Dit skrik hom egter nie af nie en sonder om twee keer te dink, verkoop hy alles wat hy het. Hy het dadelik die waarde van die skat besef en hy gee alles prys ten einde die grond te kan koop om die skat in die hande te kry. En hy doen dit dadelik. Hy bel nie éérs die bank of ’n finansiële raadgewer nie. Hy vra nie sy vrou wat sý dink nie.
Dis hoe dit met die koninkryk van die hemel is. Ons het ’n skat gevind wat meer werd is as enigiets wat ons besit. Ons het niks gedoen om hierdie skat te verdien nie; ons is bloot oneindig bevoorreg.
Ons moet bereid wees om alles op te offer, sonder om twee keer daaroor te dink. Die skat moet vir ons meer beteken as enigiets anders.
Besef ons ooit hoe gelukkig ons is?
My vraag is: Besef jy die waarde van die skat wat jy gevind het? Is jy bereid om alles wat jy het daarvoor prys te gee? Dalk is vandag die dag dat jy en ek weer moet nadink oor die waarde van dié wonderlike skat.
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.