Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Dis nie ’n goeie fliek as die good guy nie probleme het nie,’ is akteur se boodskap aan tieners

DEUR MARTJIE ROOS; Foto’s: Maryke Koekemoer

Die akteur Jacques Gombault is alombekend vir sy uitmuntende vertolking van skurke, bedrieërs, boewe en boelies. In 2003 en 2004 het hy byvoorbeeld kykers se nekhare laat rys toe hy die skarminkel Robert Gouws in die dramareeks Song vir Katryn vertolk het. Hy maak deesdae ook gereeld sy verskyning as die geslepe terroris Jonas in die hospitaalsepie Binnelanders.

LEES OOK: ‘God alleen bring berusting en vrede,’ sê vrou ná albei haar dogters sterf

Maar diegene wat dink Jacques aard hoegenaamd na die boosdoeners wat hy vertolk, maak ’n groot fout.

’n Groot teleurstelling verander sy lewe

Buiten toneelspeel, is Jacques passievol oor ons jeug. Hy beskou dit as sy roeping om jong mense toe te rus en aan te moedig om hul Christenskap ten volle uit te leef. Die afgelope paar jaar het hy talle motiveringspraatjies by laer- en hoërskole en jeugsaamtrekke dwarsoor die land gehou, waarin hy onder meer oor boeliegedrag en verhoudings praat.

Buiten toneelspeel, is Jacques passievol oor ons jeug. Hy beskou dit as sy roeping om jong mense toe te rus en aan te moedig om hul Christenskap ten volle uit te leef. Die afgelope paar jaar het hy talle motiveringspraatjies by laer- en hoërskole en jeugsaamtrekke dwarsoor die land gehou, waarin hy onder meer oor boeliegedrag en verhoudings praat.
Jacques en sy vrou Renate en hul oogappel, Vanya. Foto: Maryke Koekemoer

In 2005 het hy die produksiemaatskappy Flutterby Productions gestig en reeds vyf rolprente met ’n geestelike boodskap vervaardig. Sy produksiemaatskappy lei ook studente op in televisie- en rolprentwerk.

Jacques deel graag die lewenslesse wat hy as tiener geleer het met jong leerders, sowel as hul ouers. Hy vertel ook van die pad wat hy met die Here geloop het.

“Ek draai die horlosie terug na toe ek 12 jaar oud en in graad 7 was. ’n Rolprentvervaardiger het ons skool besoek om ’n gedeelte van ’n fliek te verfilm, en die onderwysers het ons vertel dat een seun in die skool gelukkig genoeg gaan wees om ook in die fliek te speel.

“Ek wou daardie seun wees.

“Ek het geweet ek sou moes bid soos nooit tevore nie. Maar toe kry die gewilde seun in die skool die rol, en ek was baie teleurgesteld. Ek het in daardie stadium gedink Christenskap is soos ‘magic’: Jy bid net – en dan kry jy waarvoor jy gebid het.

Jacques Gombault as die geslepe terroris Jonas in kykNET se sepie Binnelanders. Foto: KykNET

“Ek het God kwalik geneem omdat ek nie die rol gekry het nie.”

‘Dis die hantering van teleurstellings …’

“Ek gesels met die kinders onder meer oor verwagtinge wat jy in die lewe het wanneer jy jonk is, oor teleurstellings en oor hoe om terugslae te verwerk. Wanneer gelowige tieners ’n teleurstelling ervaar, werk dit soos ’n inenting: Hulle bou ’n weerstand op teen die evangelie.

“Maar dis die hantering van teleurstellings wat jou karakter bou.”

Jacques vertel dat hy sedert daardie destydse teleurstelling ’n geestelike groeiproses ondergaan het. “Sewentien jaar daarna het ek na my ou skool teruggegaan en my eerste rolprent met ’n geestelike boodskap, Lang Gras, daar verfilm. Ek het trouens al vyf my rolprente by dieselfde skool verfilm.”

Tydens sy praatjies vertel hy ook aan die jonges dat hul lewe eintlik soos ’n rolprent is. “Geen rolprent is ’n goeie rolprent as die ‘good guy’ nie probleme het nie. ’n Rolprent handel oor ’n ‘good guy’ en hoe hy sy probleme oorkom. Hoe groter jou probleme, hoe groter die heldedaad.”

Jacques vra dan aan die kinders wie van hulle probleme het. “Vir dié wat hul hand opsteek sal ek sê: ‘Fantasties, jy is reeds in ’n movie!’”

En vir dié wat nie hul hand opgesteek het nie sal hy sê: “Raai wat, daar kom probleme!”

Hierdie benadering, verduidelik Jacques, het ’n reuse-impak op sy gehoor. Want jong mense se verwagtinge moet, soos hy dit stel, gekalibreer word. Daar bestaan nie iets soos “gelukkig, vir altyd en altyd” nie – en as jou drome nie altyd verwesenlik word soos jy dit wou hê nie, moet jy jou vertroue in die Here stel.

“Nadat ek die groot teleurstelling op skool beleef het en God daarvoor kwalik geneem het, het ek skaam gekry toe ek later besef Hy was meer getrou aan my gebed in graad 7 as wat ek daaraan was.”

Hy haal Romeine 2:4 aan: “Besef jy nie dat die goedheid van God jou tot bekering wil lei nie?”

Boelies … ‘maar ons het ’n hemelse Pa’

Mettertyd het Jacques God se hand oral in sy lewe raakgesien. Sy graad 7-belewenis asook ’n insident waartydens hy in ’n erediens as Satan vermom is en in die kerk moes instorm en toe die koerant se voorblad gehaal het, het hom geïnspireer om ’n honneursgraad in drama aan te pak, met spesifieke klem op wat in ’n kerk opgevoer kan word.

Hy en sy vrou Renate het daarop ook besluit om films met ’n geestelike boodskap te vervaardig. Lang Gras (2008), Simson Het Nie Muscles Gehad Nie (2010) en Poppielariteit (2013) is van die films uit sy stal.

Simson Het Nie Muscles Gehad Nie, wat hy later ook in Engels verfilm het, handel oor ’n seun wat by die skool geboelie word. Dié film help tieners met identiteitsprobleme en is by verskeie laerskole vertoon as deel van ’n groter projek teen boeliegedrag.

Jacques sê: “Boeliegedrag neem toe, by seuns sowel as meisies. Ek gee aan die slagoffers wenke oor hoe hulle hulle moet bemagtig, en hoe karakterbou werk. Ek praat ook oor die boelies wat identiteitsprobleme het.”

Poppielariteit handel weer oor boeliegedrag by meisies, asook tieners se verhouding met die teenoorgestelde geslag. “Elke vrou wil ‘gedans’ word deur die lewe, maar nie elke man kan dans nie …”

Khumbula – I Will Remember (2014), die Engelse weergawe van sy eerste rolprent Lang Gras, is in 2015 deur die International Christian Visual Media Association (ICVM) in Orlando, Florida met die Silver Crown Award bekroon. Dié rolprent is ’n inspirerende Afrika-avontuur oor hoe ’n jong seun, Jamie (in Lang Gras heet hy Dirkie), en sy maats deur wilddiewe gevange geneem word. En hoe die seun dan alles wat sy pa hom geleer het moet toepas om te oorleef.

Jacques vertel hy het die idee vir Lang Gras gekry toe Rodney Seale, ’n jeugprediker, in 2009 langs hom in die kerk gesit en hom die ware verhaal vertel het van ’n groep seuns wat in die moeilikheid beland het. “Die een seun het vir sy maats gesê: ‘Moenie worry nie, my pa sal ons kom haal.’

“En hierin lê die boodskap: dat ons ’n hemelse Pa het wat ons geleer het hoe om probleme te oorkom. Met dié rolprent wil ons kinders leer dat jy nie van jou probleme moet vlug nie, of dat teleurstellings by jou ’n ‘whatever’-houding moet kweek nie. Vertrou op die Here.”

‘Die terugvoer is oorweldigend positief’

Of dit nou Ellisras, Pretoria, Kaapstad, Bloemfontein, Riversdal, Stilbaai, Potchefstroom of Rustenburg is waar Jacques motiveringspraatjies aanbied, die jong mense se terugvoer is oorweldigend positief.

“Daar is soveel kinders wat ná die praatjies met my kom gesels en my bedank dat ek onderwerpe soos boeliegedrag en verhoudings onder die loep neem. Veral omdat daar nog nie voorheen met hulle daaroor gepraat is nie.

“Talle ouers woon ook van my praatjies by en lewer ná die tyd positiewe kommentaar.”

  • Kontak Jacques by 083 300 7321 indien jy belangstel om hom vir ’n motiveringspraatjie te nader of van sy geestelike films wil bestel. Of as jy deur hom opgelei wil word in film- en televisiewerk.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF