Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Dit verg moed om ná ’n mislukking op te staan

Simone Gauche foto1: God se genade is groot

DEUR SIMONE GAUCHE

My oudste seuntjie het onlangs geleer om aan die klimraam by die parkie se dwarsbalke te swaai. Dis ’n groot mylpaal vir hom. As ons deesdae iewers heen gaan, wil hy onmiddellik weet of daar ’n plekkie is om te speel. En die volgende vraag is dan gewoonlik of daar ’n klimraam gaan wees. Daar gekom, hardloop hy voluit daarheen. Maar soos dit met ons almal gaan, is sy lyfie gewoonlik styf en sy spiere koud wanneer ons by die parkie stilhou en hy by die kar uitklim. So gebeur dit dan dat sy eerste probeerslag op die klimraam dikwels onsuksesvol is.

LEES OOK: Solank jy na Jesus toe stap, maak dit nie saak as jy begin sink nie

Dis hier waar ek opnuut besef het dat die vermoë om aan te hou probeer nie ’n aangebore refleks is nie; ’n onsuksesvolle poging gaan gewoonlik met groot krokodiltrane gepaard. My seun gaan sit dan op die grond en skree: “Ek wil nie meer nie!” Dit kos baie aanmoediging en mooipraat om hom sover te kry om weer te probeer. Ons, sy ouers, weet immers dat hy dit kán doen. Hy moet net eers ’n bietjie opwarm.

Navorsing het uitgewys dat jou intelligensie nie die belangrikste faktor in jou sukses gaan wees nie, maar eerder jou vermoë om te volhard. Oftewel, aanhouer wen. Maar dis makliker gesê as gedaan.

Hoe hanteer ’n mens mislukkings?

Dit verg moed om iets nuuts te probeer, en nog meer moed om weer te probeer nadat jy gefaal het. “Weer probeer” is egter ’n noodsaaklike lewensvaardigheid. Die meeste van die wêreld se suksesvolste mense het herhaaldelik misluk voordat hulle uiteindelik sukses behaal het.

As jy hieroor wonder, gaan lees gerus oor die lewe van ’n klompie beroemdes, onder andere Walt Disney, Stephen King, Thomas Edison, Albert Einstein.

Bestuur jou angs en kommer met dié Bybelse raad

Verskillende Bybelskrywers moedig gelowiges aan om enduit vol te hou. Volharding is dus nie net ’n voorwaarde vir sukses in die algemeen nie, dis ook noodsaaklik vir geestelike groei. Daar bestaan nie iets soos geestelike rypheid sonder volharding nie. Hoor wat skryf Jakobus: “Julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming” (Jak 1:2-4). En die Hebreërsskrywer: “… en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop …” (Heb 12:1). En weer: “Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het” (Heb 10:36).

Ouers speel ’n deurslaggewende rol daarin om hul kinders weerbaar te maak teen mislukking. Dis een ding om vir ons kinders te sê hulle moet aanhou probeer; dis iets heel anders om hulle te wys hoe óns aanhou probeer. Daarom maak ons ’n punt daarvan om ons eie onsuksesvolle pogings aan hulle uit te wys. Ons erken ons maak foute en ons faal (en val!) dikwels. Ons vertel hulle dat ons bly is oor die beproewings wat oor ons pad gekom het. Dat ons dan opstaan, die sand van ons gesig en lyf afskud en weer probeer.

Mislukkings is ’n leerskool. Ons leer om oor te begin. Ons bou die spiere wat ons vir uithouvermoë nodig het. Ons leer uit ons foute. Dis hier waar ons die ritme vind om van die een dwarsbalk na die ander te swaai totdat ons uiteindelik die klimraam se ander kant bereik. Ons probeer weer en weer. En nog ’n keer, as dit dan moet!

En so bevind ek my in die parkie waar ek entoesiasties hande klap terwyl my seuntjie aan die klimraam swaai. Hy dink ek klap hande oor sy sukses, maar ek weet ek klap eintlik hande omdat hy volhard het.

Mag jy leer om te volhard. Mag jy uithouvermoë inoefen terwyl jy die lewe se klimrame aanpak.

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.