Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Een Italiaanse tamatiesous – vier heerlike disse

Is jy op soek na iets wat ’n spesiale ete vir goeie vriende ’n gawe hupstootjie kan gee? Dan is jy nou op die regte bladsy. Met dié lekker Italiaanse sous sal jy vir seker jou gaste beïndruk én bederf.

Hier is ’n geurige tamatiesous wat regtig maklik is om te maak. As jy eers hiervan in jou yskas of vrieskas het, kan jy ’n hele spyskaart vol geregte blitsvinnig tafel toe bring. Berei dus sommer uit die staanspoor ’n dubbele hoeveelheid daarvan. Skep dit dan in gesteriliseerde glasflesse en bêre dit in die yskas. Of vries dit in die regte porsies vir nog etes. Jy kan dit as ’n pastasous gebruik, of saam met ’n stukkie vleis, of met pap en wors. Dit kan ook as basis dien vir ’n bredie of ’n eenpot-gereg. Kortom: Dis ’n veelsydige wenner!

Italiaanse tamatiesous

Lewer 6 porsies

30 ml (2 e) olyfolie

2 uie, fyngekap

1 selderystingel met die blare, gekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

1 mediumgrootte rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny

1 lourierblaar

2 x 410 g-blikkies gekapte tamaties

1 x 50 g (50 ml)-pakkie tamatiepasta

15 ml (1 e) balsamiese asyn

30 ml (2 e) gekapte vars basiliekruidblare of tiemie

30 ml (2 e) gekapte Italiaanse pietersielie

Sout en peper na smaak

1. Verhit die helfte van die olyfolie oor ’n matige temperatuur in ’n groot kastrol. Soteer die uie tot sag. Roer die seldery, knoffel en soetrissie by. Soteer dit tot aromaties.

2. Roer die orige bestanddele by (behalwe die res van die olyfolie) en bring die mengsel tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut dit 20-30 minute lank sonder ’n deksel, of totdat die sous begin verdik. Roer die sous af en toe deur.

3. Roer nou die res van die olyfolie by en geur die sous na smaak. Gebruik die sous op enige van die voorgestelde maniere hier onder. Volg bloot die aanwysings vir elke resep.

4. Alternatief: Skep die warm sous in gesteriliseerde glasflesse. Giet ’n dun lagie olyfolie bo-op en verseël dit lugdig. Laat die sous in die flesse afkoel en hou dit dan in die yskas. Wanneer dit op dié manier verseël is, kan jy die sous minstens twee tot drie weke in die yskas hou. Jy kan ook die sous heeltemal laat afkoel, dit dan in geskikte houers skep en dit vries totdat jy dit nodig kry.

Eiervrug-gebak

4 porsies

Melanzane is die Italiaanse woord vir eiervrug, en dié baie bekende gereg van skywe geroosterde eiervrug wat in ’n ryk tamatiesous met kaas bo-op gebak word, staan bekend as Parmigiana di melanzane. Die dik tamatiesous is perfek vir dié eiervrug-bygereg.

Maak een kooksel van die tamatiesous soos dit hierbo beskryf word, en volg dan die onderstaande aanwysings.

Wat het jy nog nodig?

200 g kersietamaties, gehalveer

2 groot of 3 mediumgrootte eiervrugte, gehalveer en dan in die lengte in dun skyfies gesny

Olyfolie waarin die eiervrug gebraai word

250 ml (1 k) grofgerasperde mozzarella

Vars basiliekruidblare

1. Berei die tamatiesous voor, en roer dan die kersietamaties tydens die laaste 10 minute van die sous se kooktyd by.

LEES OOK: Winterresepte | Warm en gesonde trooskos

2. Verhit intussen ’n groot braaipan tot ’n matige temperatuur en giet ’n dun lagie olyfolie in die pan. Braai die eiervrugskywe in sarsies tot dit gaar is, en goudbruin aan albei kante. Dreineer die eiervrug op kombuispapier indien nodig. Geur dit met sout en peper.

3. Verhit die oond tot 200 °C. Skep van die tamatiesous in ’n oondbak van ongeveer 30 x 20 x 5 cm. Pak ’n laag eiervrugskywe bo-op. Herhaal die proses totdat al die sous en eiervrug gebruik is.

4. Strooi die kaas bo-oor. Bak dit 25-30 minute lank, of tot dit goudbruin en deurwarm is. Garneer die gereg met die basiliekruidblare en sit dit as ’n bygereg voor.

Maklike hoender-parmigiana (oftewel, oondgeroosterde hoender met Italiaanse geure)

6-8 porsies

Amper almal ken daardie gewilde gereg van gekrummelde hoenderfilette wat met ’n geurige tamatiesous-bolaag en kaas in die oond gerooster word. Hierdie weergawe is ampertjies dieselfde, maar dis veel minder moeite. En dit is ewe lekker, met boonop dieselfde geurkombinasie.

Maak een kooksel van die tamatiesous soos dit hier bo beskryf word, en volg dan die onderstaande aanwysings.

Wat het jy nog nodig?

250 ml (1 k) fyngerasperde, wit beleë cheddarkaas

250 ml (1 k) panko-broodkrummels (kyk na die WENKE hier onder)

45-60 ml (3-4 e) gekapte Italiaanse pietersielie

6-8 hoenderfilette

1. Berei die tamatiesous en verwyder die lourierblaar. Verpulp die sous met ’n stokmenger tot ’n gladde mengsel. Doen dit sommer in die kastrol.

2. Meng intussen die kaas, broodkrummels en kruie saam in ’n bakkie.

3. Gebruik ’n rolstok en kap liggies op elke hoenderfilet om dit effens platter te maak.

4. Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit, of verf ’n oondbak liggies met olie.

5. Skep ongeveer 45-60 ml (3-4 e) van die broodkrummel-mengsel op elke filet. Druk dit liggies vas.

Plaas die hoenderfilette op die bakplaat (of in die oondbak).

6. Rooster 20-25 minute lank, of tot dit gaar is en goudbruin bo-op. Sorg dat die vleis nie te droog is nie. Die filette se dikte sal die gaarmaaktyd bepaal.

7. Verhit weer die sous indien nodig. Skep lepels vol sous in ’n plat bakkie en plaas ’n hoenderfilet bo-op. Sit dit voor met enige groen groente waarvoor jy lus het.

WENKE

1. Panko-broodkrummels is in die meeste groot supermarkte beskikbaar. Dis broodkrummels in ’n Japannese-styl, wat ’n baie ligte, bros eindresultaat lewer.

2. Sakpas-wenk: Gebruik oorskiet-ciabatta of -suurdeegbrood en kap dit in ’n voedselverwerker tot fyn krummels.

3. Rooster die hoenderfilette 15-20 minute lank teen 180 °C in ’n lugbraaier, of totdat dit net gaar is en goudbruin bo-op.

Wors-frikkadelle op pasta

6 porsies

Pasta en maalvleis is ’n immergewilde gereg. Die Italianers is veral lief vir frikkadelle in tamatiesous. Hier is ’n vinnige alternatief – as jy nie kans het om frikkadelle te maak nie. Gee die gereg boonop ’n Suid-Afrikaanse geur deur lekker boerewors te gebruik (of selfs varkworsies) vir kits-frikkadelle. Skep die vleis en sous dan op enige pasta waarvan jy hou.

Maak een kooksel van die tamatiesous soos dit hier bo beskryf word, en volg dan die onderstaande aanwysings.

Wat het jy nog nodig?

2 wortels, grofgerasper

5 ml (1 t) vinkelsaad (opsioneel)

30 ml (2 e) gekapte vars origanum

500 g topgehalte boerewors of varkworsies

300-500 g gaar linguine of spaghetti

Beleë wit cheddarkaas of pecorino, grofgerasper of met ’n groenteskiller in repe gesny

Vars origanum of basiliekruidblare vir garnering

1. Berei die tamatiesous in ’n groot braaipan. Soteer die wortels en vinkelsaad saam met die sous se seldery totdat dit sag en aromaties is. Volg dan die res van die sousresep.

2. Roer die origanum by die ander kruie in die sousresep en geur dit na smaak. Onthou om nie te veel sout by te voeg nie omdat die worsmengsel reeds heelwat sout kan bevat.

3. Druk die boerewors (of varkworsies) se inhoud uit die omhulsel. Rol die vleis in ongeveer 20-24 ewe groot frikkadelle.

4. Rangskik die frikkadelle in die pruttende sous en sit die deksel op. Laat prut dit 15 minute lank oor lae hitte, of totdat die maalvleis net gaar is. Draai die frikkadelle een maal in die sous om, en laat prut dit ’n verdere 5 minute indien nodig.

5. Skep die warm pasta op ’n opdienbord of -bak en skep die pastasous bo-op. Garneer dit met die kaas en vars kruie.

Mossels in tamatiesous-met-’n-bietjie-byt (oftewel’n arrabiata-sous)

4-6 porsies

Arrabiata is ’n tamatiesous wat met brandrissies gegeur is. Jy kan self besluit hoe “warm” jy die sous wil maak. As die rissies heel in die sous gebruik word, het dit ’n matiger geur as wanneer dit opgekap word. Die pitte self sal ook vir ’n skerper smaak sorg. Jy moet dit dus ontpit indien jy die sous enigsins matiger verkies. En hier is goeie raad: Stukke vars brood werk perfek om die heerlike sous mee op te vee.

Maak een kooksel van die tamatiesous soos dit hier bo beskryf word, en volg dan die onderstaande aanwysings.

Wat het jy nog nodig?

2 rooi brandrissies, heel. Of gekap, indien jy die “warmer” smaak verkies

400 g rou mossels, in halfdoppe. Of slegs die mossels se vleis, ontdooi en goed gedreineer

Vars origanumblare of tiemie of Italiaanse pietersielie, vir garnering

Vars brood, in growwe stukke geskeur

Suurlemoenwiggies om mee voor te sit

1. Berei die tamatiesous voor soos hier bo beskryf. Doen dit in ’n groot, wye braaipan of ’n wok. Roer die brandrissies by die kruie in die sousresep. Hoe langer die brandrissies in die sous prut, hoe skerper is die geur.

2. Roer die mossels by die pruttende sous. Laat dit nog 10-15 minute lank prut, met ’n deksel op, of tot die mossels net gaar is. Geur die sous met peper.

3. Skep die sous en mossels in bakkies en garneer dit met die vars kruie. Sit dit voor met die brood en suurlemoenwiggies.

WENK

Vervang die mossels met enige ander vleis wat jy verkies, dalk iets soos gaar spek of hoender of selfs repies steak. Laat die (gaar) vleis dan net vinnig in die sous warm word en sit dit dadelik voor. Enige seekosmengsel sal ook heerlik wees. Laat die mengsel in die sous prut totdat alles gaar en deurwarm is.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF