DEUR NINA VAN LOGGERENBERG
Wil ek níks meer as drie kinders hê nie.
Ek gaan ’n soen spaar vir as iemand ’n eina kry en altyd ’n salfie en pleister in my handsak hê.
Ek gaan hulle nie met storie-kyk in die bed sit nie, maar met ’n soen en lekker storie soos Siembamba of Die prinses en die ertjie. Ek sal ook vir hulle ’n liedjie of twee sing, soos Liewe Maan.
LEES OOK: #merkwaardigema: ‘Soek éérs die koninkryk, hou jou kombuis skoon en respekteer ander’
Ek sal eerder my kinders laat gesond eet as te veel lekkergoed en gemorskos. Ek weet lekkergoed is lekker, maar ek verkies koolslaai sonder tamaties.
Ek sal as vergunning hulle dalk met pizza en ’n fliek bederf. En nie flieks wat oor magic gaan nie, maar eerder ’n dokumentêr van diere soos My Octopus Teacher.
Ek gaan streng wees omdat ek ’n rustige dag en huis wil hê.
Ek gaan hulle leer om tande te borsel na ontbyt en na aandete. Ek gaan hulle leer om toe mond te kou. Ook om maniere te hê.
Ek gaan op Wellington, my tuisdorp, bly en my kinders in ’n goeie skool sit. Maar ek dink nog daaroor, want met Covid-19 kan ek net sowel my kinders tuisskool.
LEES OOK: #merkwaardigema: ‘Sy gee nie op nie, sy is geduldig en ek kan altyd op haar vertrou’
As ek ooit by mense gaan kuier wil jy mos nie skaam kry nie. Jy wil opkyk en sê: Dít is my kinders daardie en ek is trots op hulle. Ek het hulle verskriklik baie lief.
NOTA: Ma’s mag swieties op Moedersdag eet! Liefde, Nina.
- Nina van Loggerenberg is ’n 9-jarige van Wellington wat tuisonderrig by haar ma Katie ontvang. Sy is een van vyf kinders wat óf aangeneem of onder pleegsorg by Katie en Hennie van Loggerenberg is.