“Hallo, Francine,” sê die vreemde stem in die gehoorbuis.
Ek sit agter my lessenaar, dit is ’n doodgewone dag op kantoor. Maar die vrou begin haar storie vertel – en die dag kry ’n heel ander kleur.
Sy vertel: “Ek was deel van ’n sindikaat wat shoplifting in malls gedoen het.”
’n Oomblik lank kan my brein nie die woorde kleinkry nie. Shoplifting? Soos in diefstal?
Maar sy praat verder: “Een van die items wat ek gesteel het, was ’n LiG-
tydskrif. Hulle het my gearresteer. Ek bel jou uit die tronk uit.”
Ek luister sonder om behoorlik asem te haal.
“Ek het jou redakteursbrief gelees.”
Sy begin snik. Ek sukkel om haar woorde te hoor. “Vir die eerste keer in my lewe het ek besef dat God vir my lief is. Dat ek ook die ewige lewe kan hê. Ek glo nou in Jesus.”
Die hoendervel slaan oor my hele lyf uit.
Haar stem is nou vaster, duideliker: “Ek weet dat ek die gevolge van my dade moet dra. Maar ek weet ook dat God by my is.”
Te gou is die gesprek verby. Daar is nog soveel vrae wat ek haar wil vra. Al wat ek kan uitkry, is ’n dankie. Dankie dat sy haar storie met my gedeel het. Dankie dat sy my seën met die vreugde wat sy gevind het in die nuwe lewe wat sy nou saam met Jesus leef.
Ek het van my lessenaar af opgestaan om haar storie met die redaksielede te gaan deel. Ons was dankbaar én bly. Om te dink dat óns ’n klein aandeel in God se reddingswerk kon hê …
Vroeër daardie oggend het ’n kollega vir ons uit 2 Korintiërs gelees en ons daaraan herinner hoe belangrik dit is om vir mekaar te bid. Hoe ons gebede nie net oor onsself moet gaan nie. Hoe ons deel kry aan God se reddingswerk wanneer ons vir ander bid. Só skryf Paulus mos: “Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank” (2 Kor 1:11).
Daardie middag, op pad huis toe, bid ek vir die vrou wat Jesus se geklop gehoor en haar hart vir Hom oopgemaak het. Ek vra Hom dat Hy haar sal beskerm en dat haar verhouding met Hom sal groei.
En nou vra ek jou, liewe LiG-leser, om ook vir haar te bid. Vir haar en vir die duisende ander mense wat die Goeie Nuus hoor en besluit om Jesus te volg. Bid dat hulle sal deel word van ’n geloofsgemeenskap. Dat hulle God sal leer ken as hul Vader en Verlosser en Skild. Dat hulle ook die vrymoedigheid sal aanleer om hul Goeie Nuus met ander te deel.