DEUR FRANCINE PRINS
Ek hou nie van veg nie, maar ek kan nogal vasbyt.
Ek hou ook nie van baklei nie, maar vir vrede sal ek my moue oprol, en selfs my bokshandskoene aantrek.
Ek is gemaklik met oorvloed, maar wil niks te make hê met oordaad nie. Ek hou nie van sukkel nie, maar vir ’n uitdaging sien ek kans. Ek hou van eenvoud, maar ek hou ook daarvan om genoeg te hê. Ek hou van kennis, maar meer nog hou ek van wysheid.
Dis hierdie soort wysheid en vasbyt wat ek ook in Timoteus sien. Daarom dat ek so dikwels by die twee briewe in die Bybel opeindig wat Paulus aan hom geskryf het.
In die woorde aan Timoteus vind ek dikwels bemoediging en aansporing. Ek vang myself gereeld dat ek kop knik en sê, ja dis ook hoe ek hierdie wêreld en sy mense beleef. En ja, Timoteus, dis ook hoe ek graag wil wees en my lewe wil leef. Kom ons doen dit!
Deesdae haak ek veral vas by die laaste hoofstuk van 1 Timoteus. Hierdie versie het ek in geel gemerk: “In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal” (vers 12). Ek het later weer die vers gelees, en “al jou kragte inspan” gaan omkring.
Ek hou nie van baklei of veg of sukkel nie. Maar ek ondervind gedurig dat dít is wat geloof in God van my vra. Ek hou van kennis en goeters en gemak. Maar ondervind gedurig dat dít my lamlê in die goeie wedloop van die geloof. Ja, hierdie wedloop tot by die ewigheid is nie gemaak om ons voorkeure ongetoets te laat nie. Stadigaan, met groot deeglikheid, vorm God ons voorkeure sodat dít wat na aan die Here se hart is, ook vir ons belangrik sal word.
- Francine Prins is redakteur van LiG se gedrukte tydskrif en sosiale media. Volg haar skryfwerk by #weeslig en #francineprins.