DEUR SIMONE GAUCHE
Ons oudste seuntjie is ’n sensitiewe outjie. As ons gaan stap, sien hy die blommetjies langs die pad en sê: “Mamma, kyk hoe mooi is dit!”
Teen skemeraand sal hy sê: “Mamma, kyk hoe mooi pienk is die lug!”
Hy let fyn op en sien wanneer sy mamma ontsteld is. Sonder dat ek iets hoef te sê, sal hy dan na my toe kom en my ’n stywe drukkie gee en sê: “Mamma, ek is sóóó lief vir jou!”
Hoe kan jy dan anders as om op die plek beter te voel?
Skuld en skaamte
Dié seuntjie is ook baie sensitief vir woorde, en hy het ’n geheue soos ’n olifant. Daarom is dit vir ons belangrik dat hy die verskil tussen skuld en skaamte goed moet verstaan.
Wanneer ons hom vermaan, probeer ons om ons woorde baie versigtig te kies. Ons probeer in ons hart dié onderskeid tref: Hy het iets stouts gedoen, maar hy ís nie stout nie.
En dit is soos skuld en skaamte werk:
Skuld erken dat ek iets verkeerds gedoen het; skaamte sê ék is verkeerd.
Skuld erken ek het ’n fout gemaak; skaamte sê ék is ’n fout.
Skuld sê ek het iets gedoen wat sleg is; skaamte sê ék is sleg.
Skuld erken dat ek beter kan vaar; skaamte oortuig my daarvan dat ek nie beter kán nie.
Wanneer jy jou skuld erken, erken jy jou aandeel aan iets wat minder goed is – maar dit inspireer jou om volgende keer anders op te tree, om beter te vaar. Skaamte, daarenteen, vreet jou selfwaarde op. En jy gee moed op.
Ons wil hê ons kinders moet weet ons is lief vir hulle, ongeag …
Nee, ons is nie lief vir hul verkeerde optrede nie. Maar, ja, ons is lief vir hul menswees. En hierdie liefde stel geen voorwaardes nie. Ons het hulle lief, al maak hulle verkeerde keuses.
My woorde, en my Vader s’n
Omdat ons geleer het om ons woorde teenoor ons kind versigtig te kies, let ek deesdae ook op hoe ek met myself praat. Ek het agtergekom dat ek baie min genade vir myself het nadat ek foute gemaak het. Ek is veral meedoënloos oor my slegte gewoontes wat ek so moeilik vind om af te skud.
Ons hemelse Vader praat baie mooi met ons oor sonde. Dis nie sy wil dat ons in skaamte moet leef nie. Hy wil hê ons moet uit sy Seun se oorwinning leef.
Paulus skryf: “Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade” (Rom 6:14).
Hierdie Romeinevers bevat ’n pragtige belofte vir diegene wat met skaamte sukkel. Dit leer ons dat sonde nie ons baas kan wees nie omdat God se genade ons vrygemaak het.
Ja, my sonde mag my dalk verwond, maar dit sal my nooit oorweldig nie. Daarvoor is God se genade te groot en te sterk.
God se genade maak my vry, want dis deur sy genade dat ons die kettings van gewoonte breek.
Ons almal maak foute. Ons misluk gereeld. Ons stel God en ons medemens teleur. Maar deur sy genade is ons gered, en deur sy genade kan ons as oorwinnaars leef.
Ek hoop dat jy, nog in hierdie week, God se genade sal aangryp. Dat jy deur sy genade jou skaamte aan Jesus se voete sal gaan neerlê. Hy het immers reeds betaal sodat jy juis dit kan doen.
- Simone Gaucheis ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.