Die bekende en gewilde RSG-omroeper en stemkunstenaar Christelle Webb-Joubert gesels openhartig oor die talle uitdagings op haar pad: haar sig wat erg aan die verswak is, en haar seuntjie Lukas met sy spesiale behoeftes. Sy vertel ook van haar man Henry wat bankvas agter hulle staan. En sy sê sy bekommer haar nie oor môre nie, want sy weet God is vandag by haar.
DEUR DEONETTE DE KOCK
“Ek sou nie die verhouding met die Here gehad het wat ek vandag het as dit nie was vir my swak sig en vir klein Lukas wat verstandelik gestrem is nie. As ek kon kies, sou ek dit weer só kies.”
Só sê Christelle Webb-Joubert (46), reeds twintig jaar lank ’n bekende en geliefde stem op RSG, oor die struikelblokke op haar lewenspad.
“Die Here is deel van my asemhaling. Ek is elke oomblik van die dag bewus van sy teenwoordigheid. Hy is deel van my opstaan, deel van my gaan slaap. Ek is voortdurend met Hom in gesprek. Ek het nog nooit so ’n nabye verhouding in my hele lewe gehad soos wat ek met die Here het nie.”
Oor haar sig-probleem sê Christelle: “Ek het nog altyd probleme met my oë gehad, maar ek kon goed genoeg sien om my werk behoorlik te doen.
“Op 35 is ek met Stargardt se siekte gediagnoseer, ’n genetiese oogsiekte. Daar is progressiewe agteruitgang van die retina, wat beteken die selle in die retina gaan dood en daar word nie nuwes gevorm nie. Ek het dit baie lank heeltemal ontken, maar mettertyd het ek geleer om dit te aanvaar.”
‘Die Here het geweet om hom vir my te gee’
“Die agteruitgang is gelukkig ’n baie stadige proses – maar daardie dag toe ek gesukkel het om my toonnaels te knip en my man Henry moes ingryp, toe tref die werklikheid my.
“Ook toe Henry my op ’n mooi manier moes laat verstaan dat ek my nie meer goed kan grimeer nie. Dit was ’n groot skok, hierdie voorheen alledaagse dinge wat ek eensklaps nie meer kon baasraak nie. Dit het trouens gevoel asof ’n yskoue bak water oor my uitgegooi is.
“Henry grimeer my nou elke dag. Hy moes YouTube- en Instagram-video’s kyk om dit te kon regkry. Hy versorg nou ook my hare. En hy koop my klere én hy help my met die regte kombinasies. Ek moet sê hy doen ’n jolly goeie job!
“Gelukkig is hy baie kreatief en baie handig. En hy doen al die aankope vir die huis. Dan maak hy boonop skoon agter my en Lukas. As iets val, moet hy dit soek omdat ek dit nie kan kry nie. Ek probeer help deur die wasgoed te was, en ek pak die skottelgoedwasser in en uit.
“Die Here het geweet om hom vir my te gee.”
Henry is ’n visuele handelsware-beplanner vir ’n groot winkelgroep, en area-bestuurder in Pretoria. Christelle sê: “Hy is my beste vriend. Daarby het hy ’n dienende persoonlikheid.
“Hy is altyd in ’n boksie geplaas omdat hy nie die tipiese ‘man-dinge’ doen nie. En daar is etikette om hom gehang waaraan hy baie swaar gedra het. Want hy is ’n verfynde mens, hy trek baie mooi aan. En hy is knap agter ’n naaimasjien.
“Maar al daardie eienskappe wat hom in ’n boksie laat beland het, is deur die Here met ’n groot rooi lint toegebind en vir my as geskenk gegee. Al die dinge waaroor hy gekruisig is, is dit waarmee hy my en Lukas dien.
“Ek is nie meer die vrou met wie hy 19 jaar gelede getrou het nie. Dat hy te midde van dit alles steeds by my is en soveel vir my doen, spreek boekdele van wie hy is.”
Lukas, haar spesiale kind
Christelle praat van Lukas (11) as haar grootste geskenk ooit. Hy het breinskade opgedoen en is in ’n spesiale skool. Hy kan glad nie praat nie en het sy eie manier om te kommunikeer.
Sy ma sê: “Dis seker nogal ’n uitdaging as jy ’n kind is wat nie kan praat nie en jy het ’n ma wat nie lekker kan sien nie …
“Maar hy het ’n wonderlike persoonlikheid. Die hele buurt ken hom, hy is vriende met almal en helder mense se lewe op. Hy is nie bloot ’n spesiale behoefte-kind nie, maar ’n spesiale kind! Ons het ’n baie besonderse verhouding, ons verstaan mekaar.”
‘My identiteit het in RSG gelê’
Toegerus met ’n BA-graad in drama asook ’n diploma in hoëronderwys, word Christelle in 2003 deel van die RSG-span. Sy speel ’n karakter in die radio-vervolgverhaal Blinkwater en word omroeper en aanbieder van programme soos Geestesgesondheid. En sy is die regisseur van talle radiodramas en middagvervolgverhale. Dan was sy ook, saam met Renske Jacobs, een van die skeppers van die kinderprogram Poen en Toekie op RSG. Sy was ook twee jaar lank boekeredakteur by die tydskrif Lééf.
Met verloop van tyd het Christelle se sig verswak en sy moes aanpas om haar werk te kan doen. Sy het byvoorbeeld gesukkel om die nuus te lees, en die voorbereiding het al hoe langer geduur.
“Dit was sleg, veral toe ek boodskappe van luisteraars kry wat sê ek lees nou die nuus asof ek dit vir kinders lees. En dat ek soveel foute maak, en dat ek met hulle praat asof hulle ‘stupid’ is.
“Dit alles het ’n groot emosionele impak op my gemaak. Hier is iets wat ek so goed kon doen – en nou, skielik, kan ek dit nie meer doen nie.”
Christelle sê 2018 was vir haar ’n baie slegte jaar. Sy is genoodsaak om op te hou motor bestuur. Dit was ook die jaar waarin daar sprake was dat RSG haar sou aansê om nie meer uit te saai nie.
“Dit was vir my verskriklik, want my identiteit het in RSG gelê. Ek het vas geglo ek is Christelle Webb-Joubert as gevolg van RSG. Ek moes ’n diepgaande emosionele pad stap om te besef ek is méér as RSG. My waarde lê in die feit dat ek integriteit het, dat ek eerlik en betroubaar is, en dat ek bloot ’n diens by RSG lewer.”
’n Ontmoeting met die Here verander haar lewe
Christelle is aan die einde van 2018 Israel toe waar sy ’n ontmoeting met die Here gehad het wat haar hele lewe verander het. “Ek het Hom op die tweede dag van ons toer drie keer ontmoet. Ek het Hom so intens beleef, sy teenwoordigheid so duidelik gevoel en sy stem so duidelik gehoor.
“My verhouding met Hom het verander sodat Hy nou onlosmaaklik deel is van my lewe.
“Ek het met ’n baie ligter hart teruggekom Suid-Afrika toe, en ek het besef daar is ’n rede waarom ek hierdie pad moet stap. Ek het absolute vrede gekry.
“Maar dit beteken nie dat ek nie slegte dae beleef nie. Dit gebeur dikwels dat ek soggens sukkel om op te staan. My verlies is steeds ’n deurlopende besef. Maar ek gun my so vyf minute per dag om hartseer te wees – en dan staan ek op, want ek het nog te veel om voor te lewe.”
Die afgelope vier jaar werk Christelle by haar huis. “RSG was baie goed vir my en het my lank tegemoetgekom. Daar is baie wat ek nog kan doen; dit verg wel besonder baie moeite. En ek gebruik baie hulpmiddels.
In April 2021 het Christelle en die aktrise Juanita de Villiers die platform “Lekker Luister” bekendgestel, ’n webtuiste waarop kinders na oudio-stories kan luister.
Tans is Christelle ook vervaardiger en aanbieder van die radioprogramme RSG Kuns en Skuif nader.
“Ek leef een dag op ’n slag, soms selfs een minuut op ’n slag. Ek hoop die Here sal my sterk maak vir alles wat voorlê, en dat ek sy plan vir my lewe voor oë sal hou.
“Maar ek weet dat Hy my eendag met ope arms in die hemel sal ontvang. Dat ek dan sal kan sien, en dat Lukas sal kan praat.
“Daarom loof ons die Here in ons huis as ons swaarkry. Want ek weet Hy is vandag by ons. Dit is dus nie nodig om oor môre bekommerd te wees nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.