Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Erica Wessels: ‘Ons tweede dogtertjie is in ons harte en drome gebore’

DEUR CONETTE LE ROUX; FOTO\’S SALOMIEN SMAL

“Jy is in ons hart en in ons drome gebore.”Met dié woorde sal Erica Wessels haar en haar man Willem se aangenome dogtertjie Frida Olivia Boshoff eendag verseker dat sy hulle s’n is.

Dis slegs drie maande sedert Erica en Willem en hul driejarige dogtertjie Stella die jongste lid van hul gesin by ’n aannemingsagentskap op Wellington gaan haal het. Dit was die dag toe hulle drie eensklaps vier geword het. Die afgelope drie maande was wonderlik én woes, lag dié 44-jarige aktrise. Dis onder meer gekenmerk deur bitter min slaap.

’n Nuwe seisoen

Maar Erica lyk vars en vrolik toe sy by ’n koffiewinkel aan die voet van Tafelberg instap. Ook baie mooier en vrouliker as die speurder Fanie van Wyk wat Erica onlangs in die senutergende misdaadreeks Donkerbos vertolk het.

LEES OOK: ‘Ek is mal oor Frankryk, maar SA is my hartsplek,’ vertel Anet Pienaar-Vosloo van Mooi-reeks

Vandag het sy haar gemaklike speurderuniform (langbroek, T-hemp en stewels) verruil vir ’n helder, vloeiende rok en ’n groot sonbril.

Sy praat graag oor die uitdagings wat twee kinders meebring. “Ek en my man is tans soos skepe wat in die nag by mekaar verby vaar. As die een die een kind bad, is die ander een besig om room aan die ander kind se lyfie te smeer. Dan moet Willem vir Stella lees, en sorg dat sy aan die slaap raak. En ek is besig met Frida. Dis inténs, want jy het so baie praktiese dinge om te doen.

“Maar dis só amazing! Ek sal dit nie vir ’n oomblik vir enigiets anders wil verruil nie. En gelukkig is ek en Willem ’n besonder goeie span.”

Dié span se prioriteite lyk deesdae heel anders as voorheen. “Ons lewe is tans baie eenvoudig,” sê Erica. Vroeër het hulle graag die wêreld plat gereis. “Maar ons sal lank moet wag op ’n paspoort vir Frida. Gesinstyd is nou ’n stappie in die berg, ontbyt ná die tyd, of ’n braai saam met vriende.”

Aktrise Erica is ook vir die volgende klompie maande voltyds ma sodat sy en die klein, vrolike Frida ’n hegte band met mekaar kan vorm. “Dis baie belangrik, veral vir kinders se emosionele welstand.”

Soos alle ma’s haal sy vinnig haar selfoon uit en wys ’n klompie foto’s van die laggende Frida, wat dit reeds reggekry het om te sit.

“Ja, dis my seisoen vir tuisbly.”

Gelukkig, sê Erica, het sy en Willem reeds ’n groot biblioteek vol herinneringe opgebou waaraan hulle kan vashou terwyl hulle soos skepe in die nag verby mekaar vaar. “Ek dink ’n mens moet bloot kan aanhou kommunikeer, kan aanhou liefhê, kan aanhou aanhou … Foto: Salomien Smal

‘Die wete in my hart’

Wat Erica betref, was aanneming nog altyd ’n opsie. “Ek het altyd in my hart geweet dat ek ’n dogtertjie sal aanneem. Eers het ek gedink dit sal gebeur as ek eendag op 40 steeds ongetroud sal wees.

“Maar toe ontmoet ek my berg-man.

En ek en Willem het oor aanneming gepraat reeds voor ons getroud is.

“Ek het besonder baie respek vir my man, wat régtig ’n kind wou aanneem. Ek ken ’n hele paar vroue wat dit graag sal wil doen, maar die man in hul lewe is nie daarmee gemaklik nie.”

Erica en Willem se droom het ’n werklikheid geword ná ’n miskraam en ’n onsuksesvolle swangerskap. Om met Stella swanger te raak, was reeds ’n uitdaging. Erica vertel: “Stella was ’n jaar oud toe ek weer in vitro-bevrugting ondergaan het. Ek het ’n tweeling op nege weke verloor.

“Ons het toe ’n besluit geneem dat ons dit nog een maal sal probeer, maar dan is dit die einde van die probeerslae.

“Die volgende keer was toe ook onsuksesvol …”

Toe het Erica en Willem se jaar lange aannemingsreis begin. Sy kan nie uitgepraat raak oor dié positiewe ervaring nie, juis omdat al die betrokkenes so goed voorberei was. En nou is hul nuwe dogtertjie deel van hul huisgesin, en sy bring sóveel vreugde.

“Haar naam pas so mooi by haar. Willem was mal oor die naam Frida. Toe ek gaan kyk en sien dit beteken ‘vrede’, het ek geweet dis perfek. Haar tweede naam Olivia is deur haar biologiese mamma aan haar gegee. Dit beteken ook ‘vrede’, met wortels in ‘vryheid’, wat mý grootste waarde is. Ek kan nie asemhaal as ek nie vry is om met eerlikheid myself te wees nie.”

Erica sê sy wil ook vir Stella en Frida met ’n bewustheid van hul vryheid grootmaak. “Ek wil hulle leer dat hulle hul intuïsie moet vertrou. En dat hulle selfvertroue kan hê vanweë die beeld wat God van hulle het. Hulle moet weet hulle is genoeg.”

‘My kinders in dié wêreld’

Ons praat oor verskillende ouerskapstyle. Sy beskryf haarself as ’n ma wat “handson” is. “Ek en Stella sal soms gaan stap, en dan sommer langs die sypaadjie tot stilstand kom en tien minute lank ’n stukkie boombas of klippies of ’n paar blomme ontdek. Ek hou daarvan om die wêreld saam met hulle te verken.”

Dié intense betrokkenheid by haar kinders is in skrille teenstelling met die rol wat sy in Donkerbos vertolk het. Daar het speurder Fanie die kindermoorde in haar dorpie onverpoos ondersoek en sy het haar tienerseun Kallie slegs in die verbygaan gesien.

Een van die ontstellendste tonele in die reeks is dié van die nag toe sy na ’n grusame misdaadtoneel uitgeroep is. Die kamera volg speurder Fanie wat by ’n gehawende huis instap en op ’n vermoorde dogtertjie afkom. Erica vertel hoe sy gehuil het toe dié toneel verfilm is.

“Dis die een ooreenkoms wat ek en Fanie met mekaar het: ons vurigheid wat molestering, verkragting en kindermishandeling betref.”

Sy vertel dat sulke temas haar selfs erger omkrap sedert sy ma geword het. Dit het haar ook laat dink aan hoe sy haar dogters kan toerus om hulle teen dié soort misdade te beskerm.

“Dis ’n ontstellende situasie, want ek reken dat tot drie uit elke vyf vroue êrens in hul lewe die een of ander slegte ondervinding gehad het met iemand wat hulle nie met voldoende respek behandel het nie.

“My vraag is nou: Wat moet ons vir Stella en Frida hieroor leer? Ek dink oop kommunikasie is uiters belangrik. Hulle moet weet dat hulle ons altyd kan vertrou. Ek reken dat wanneer ’n kind, wat ’n slegte ondervinding gehad het, kan kommunikeer met ’n volwassene wat sy of hy vertrou, dit ’n sleutel verskaf wat die geheim sal oopsluit.

“Ek is ook daarvan oortuig dat ouers hul kinders vroeg-vroeg reeds oor seks moet inlig. Ons kinders moet weet daar is baie mense wat baie slegte keuses maak. Daar is ook mense wat jou doelbewus wil seermaak.

“Ons kinders moet weet dat as hulle met so ’n mens te doen kry, hulle dadelik daaroor moet praat. Hulle moet die vaste vertroue hê dat ons en hulle dié slegte ding saam sal uitpluis.”

‘Luister na die stil stem’

Erica sê sy gaan soek bewustelik na God se stem en na sy antwoord op moeilike vrae. In die natuur. In stilte.

“Ek hou daarvan om soms alleen musiek te luister, en om bloot oor die herhalende groot gedagte te mediteer dat Hy liefde is. Dat Hy in my woon.

“Ek dink om te leer luister is ’n gewoonte wat ’n mens daagliks moet beoefen. Luister na die stil stem in jou, die stem wat nie opdringerig of kwaai of angstig is, of skaamte dra nie. Dis ’n sagte, egte, liefdevolle stem wat my byna altyd verstom laat.

“Soveel genade, soveel vrede …”

  • Dié artikel is in die Winter-uitgawe van LiG wat tans op winkelrakke is.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.