DEUR MILANIE VOSLOO
Kan die hemel vandag reeds in aksie wees? Hier waar ons in ’n gebroke wêreld leef? Of moet ons maar wag vir … eendag?
’n Teoloog met die naam van Dallas Willard is in ’n onderhoud gevra of die punt van Christenskap is om in die hemel te kom wanneer jy sterf. Sy briljante antwoord was: No, the point of Christianity is to get to heaven before you die.
Wanneer God in ons is, is die Alfa en Omega in ons. En dít maak dat ons, ongeag ons omstandighede, kan bly hoop. Kan aanhou om midde-in die donkerte om en in ons, die lig te bly soek. Die hemel nou reeds kan leef en dit kan uitdeel.
God het ’n ewigdurende nou geskep waarin Hy is. Die nou waarin ek en jy stoei met die lewe, waar ons oor ons eie gebroke menswees struikel, sukkel om die regte dinge te doen … is Hy! God se hemel lê daarin dat ons juis, ondanks die stukkend om en in ons, sy genade hier en nou kan ervaar. En daarom genade met myself kan hê en dit teenoor ander kan leef.
Die hemel is genade in aksie. Wanneer? … Vandág!
Kanaal
Ons almal wag vir eendag.
Vir die dag wanneer U kom.
Wanneer ons by U is.
Die hemel ’n werklikheid is.
Vandag besef ek dat die hemel
nou reeds hier kan wees.
Omdat U in ons is.
U redding, vergifnis en liefde
deel van ons is.
Here, suiwer my.
Vul my.
Ja, maak my vandag … en môre
’n kanaal van u hemelse genade
sodat ek stukkies hemel aan ander sal uitdeel.