Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Familietwis en vergifnis

DEUR SIMONE GAUCHE

My ouers was destyds lief daarvoor om, as ek en my broer stry kry, vir my te sê dat my broer die vriend is wat Liewe Jesus my gegee het. Vandag het ek baie meer waardering vir hierdie stelling as toe, en ek en my broer het ’n baie goeie verhouding. Boonop het ek nou self twee boeties wat dikwels stry …

Die Bybel is vol voorbeelde van problematiese gesinsverhoudings. Dink maar aan Kain en Abel, Jakob en Esau, Ragel en Lea. O, en wat van Josef en sy broers?

Josef se storie 

Ek wonder hoe dit vir Josef gevoel het toe sy broers hom só gehaat het dat hulle onder mekaar gekonkel het om hom te vermoor. Gelukkig vir hom het hulle van plan verander en hom eerder as ’n slaaf verkoop. Hy is na ’n ander land weggevoer, en hy sou nooit weer sy familie sien nie. Of sou hy?

Die Josefverhaal is vol intrige en dit word uiteindelik een van die Bybel se mooiste verhale oor, onder meer, vergifnis.

God is genadig en barmhartig. Hy vergewe ons sondes onvoorwaardelik. Hy help ons om telkens ’n nuwe blaadjie om te slaan. Hy verwag wel dat ons ook ander moet vergewe. Paulus stel dit só: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het” (Ef 4:32).

Hoe kan ek vergewe?

  1. Deur selfondersoek. Deur jou emosies te ontleed. Vra jou af: Wat presies is dit wat my seergemaak het? Hoekom voel ek so?
  2. Probeer om dinge vanuit die ander persoon se perspektief te sien. Dink na oor hoe daardie mens grootgeword het. Was daar dalk trauma in hul kinderjare wat moontlik die manier waarop hulle die wêreld sien, kon beïnvloed? Vryf hul wêreld- of lewensbeskouing of hul verlede af op die manier waarop hulle jou behandel?

Om sake uit die ander een se perspektief te beskou … Dit is tog presies wat Jesus in sy laaste oomblikke op aarde gedoen het toe Hy gepleit het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:34).

  1. Weet dat God alles wat met jou gebeur ten goede kan gebruik. Hy is ’n God wat die goeie en die slegte dinge in diens kan neem. Paulus skryf: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom 8:28).
  2. Oordink wat jy alles uit jou negatiewe belewenisse wys geword het. Is daar ’n les of vaardigheid wat jy geleer het? Kan jy dit ná dese gebruik? Het dit deel van jou storie geword? Het dit jou sterker of dalk veerkragtiger gemaak?

Josef se avonture in Egipte het verseker dat die Israeliete ’n ellendige droogte kon oorleef. Hy het as ’n slaaf begin, hy was ’n tyd lank in die tronk. Hierdeur het hy baie van die lewe en oor mense geleer. Hy kon vaardighede bemeester wat hom later goed te pas gekom het toe hy onderkoning van Egipte geword het.

  1. Verskuif jou fokus na God se plan vir jou lewe. As God die fokuspunt in jou lewe word, as sy wil vir jou lewe jou prioriteit word, word die kwaaddoeners minder belangrik, en die plek wat seer en kwaad in jou hart opneem baie kleiner. Hoor wat sê Josef aan sy broers toe hulle weer bymekaar is: “Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red” (Gen 45:5).
  2. Jy moet weet dat diegene wat jou kwaad aangedoen het nie hoef te verander voordat jy hulle vergewe nie. Vergifnis gaan nie net oor jou nie; dit raak jou verhouding met God. Jesus sê: “Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie” (Matt 6:15).
  3. Aanvaar God se vergifnis. Bely die dinge waaroor jy skuldig voel en wat jou aankla, en vergewe jouself. Daarvoor het God sy Seun gestuur. Probeer insien dat selfs al het jy iets verkeerds gedoen, God dit kan gebruik en dit kan verander. Soos jy mettertyd leer om ander te vergewe, sal dit vir jou ook makliker word om God se vergifnis vir jouself te aanvaar. Die Psalmdigter skryf: “Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af” (Ps 103:10-12).
  4. Onthou dat wanneer jy iemand vergewe jy nie noodwendig daardie persoon weer dieselfde plek as voorheen in jou lewe hoef te gee nie.

Onthou ten slotte Josef se oortuiging: “God het my voor julle uit gestuur om lewens te red …”

Josef kon sy broers deur sy vergifnis bevry, want hy kon God se groter plan raaksien. Hy het geen bitterheid in sy hart gehad nie en geen wrok gekoester nie.

Ja, jy kán sê jou broer of suster is die vriend wat Liewe Jesus jou gegee het. Dalk is juis hulle die vriende waarmee die Here ons leer hoe belangrik sy vergifnis in ons lewe is. 

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF