Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Familievrede in die Kerstyd: Dís hoekom dit jul ontwyk + vredemakerplanne

Daardie eerste Kersfees het beloftes van vrede en vreugde meegebring. Die engele het in die stil aandlug gesing: “Vrede op aarde.” Hoekom gaan baie gelowiges se Kersfees dan met spanning gepaard, met onvrede en vreugdeloosheid?

Al wat leef en beef het die behoefte om, aan die einde van ’n lang jaar, behoorlik tot rus te kom. In Suid-Afrika is die lang somervakansie en die Kerstyd die ideale geleentheid om juis dit te doen.

Dié tyd bring gewoonlik ook ’n familie bymekaar en hulle kry die kans om gehaltetyd saam deur te bring.

Hoe het dit dan gebeur dat die Feestyd vir vele nie ’n aantreklike vooruitsig is nie? Dat dit, inteendeel, iets is om teen op te sien en uiteindelik óm te wens? En dat verhoogde angsvlakke en selfs openlike konflik dan ’n nare werklikheid geword het?

Waar lê die knoop?

Dr Jaco Putter is ’n berader by eKerk, en hy is daarvan oortuig dat onvergenoegdheid en onvrede in die Kersseisoen ’n weerspieëling is van die dinamika en die onderlinge verhoudings binne ’n bepaalde gesin. Dié soort spanning kom veral voor by gesinne wat deur die loop van die jaar nie genoeg gehaltetyd saam kon deurbring nie, en/of nie betekenisvol gekommunikeer het nie.

Boonop, sê hy, is daar misplaaste verwagtings aangaande Kersfees wat die fokus wegstuur van wat werklik in dié tyd belangrik is.

Ook die media speel ’n rol. Kersfees-saam-met-die-familie word geïdealiseer en geromantiseer. Daar bestaan nie regtig iets soos ’n “ideale Kersfees” nie; ’n (vals) konsep soos dié skep verwagtinge rakende geskenke, etes en vakansies. En dit bring vir vele gesinne finansiële uitdagings mee, en gepaardgaande skuldgevoelens vir die ouers.

Jaco sê: “Ons moet seker maak dat ons ruimte laat vir mekaar se behoeftes. Ons moet die geleentheid aangryp om weer in voeling met mekaar te kom. Ware vrede is juis daarin geleë dat ons nie ons vrede in die materiële moet soek nie.

“Gesinslede wat deur die loop van die jaar verby mekaar geleef het, wat min tyd gehad het vir behoorlike interaksie en kommunikasie, ervaar dikwels dat die vakansietyd frustrasies meebring en probleme na die oppervlak laat borrel. Wanneer gesinslede verleer het om werklik na mekaar te luister, kan dié tyd vir ongemak sorg.

“En moet tog nie die rol van drankmisbruik onderskat nie. Die klem op oordaad tydens die Kersseisoen, wat uiteraard ook drankgebruik insluit, vervreem gesinslede van mekaar; dit kompliseer verhoudings.”

Só moet ons vrede verstaan

Die verkeerde fokus, swak kommunikasie en verhoogde frustrasie steel vrede en versuur kosbare verhoudings. Dalk het die tyd aangebreek vir almal wat hierdeur geraak word om opnuut na die Bybelse waarhede oor vrede te gaan kyk.

In die Bybel word veral die waarde en belang van vrede binne verhoudings beklemtoon – ons verhouding met God, ons verhouding met onsself, en ons verhouding met ons medemens. Vrede is dus nie iets wat na ons toe moet “kom” nie, maar eerder iets wat ons aktief moet nastreef.

Paulus se woorde in Romeine 12:18 is in dié opsig vir Christene ’n durende riglyn: “Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.”

LEES OOK: Ons vier Kersfees … en ons kinders is vér

Jaco sê: “Die Goddelike vrede is die lens waardeur ons vrede moet verstaan. Bybelse vrede is die milieu waarin God se vrede heers, waar mense met mekaar versoen word, en waar ons innerlike vrede ervaar. Vrede is nie bloot die afwesigheid van ’n bakleiery nie, maar ’n toestand van harmonie.

“Ons kan begin vrede soek deur onsself opnuut aan die Here oor te gee. Wanneer ons in vrede met die Here leef, kan ons al ons sondes en bekommernisse aan Hom oorgee. Ons kan dan aktief daaraan werk om vrede in ons ander verhoudings te bewerkstellig.

“Dit is belangrik om te onthou dat Jesus die Vredevors is. Hy het nie net vrede na die aarde gebring nie, maar Hy leer ons ook om in vrede met mekaar te leef. Hy beliggaam vrede, Hy bring versoening en herstel.”

Jesus belowe vrede aan sy volgelinge. Knap voor sy dood het Hy gesê: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Joh 14:27).

Om ’n vredemaker te wees

Dis ’n Jesusopdrag dat sy volgelinge vredemakers moet wees. Dis ’n dure opdrag, juis in die tyd wat Jesus se geboorte herdenk word. Om te moet vrede maak tydens die Feesseisoen, moet die volgende onthou en nagestreef word:

Luister met aandag en empatie. Toon begrip vir ander se verwagtings en behoeftes.

Moenie eiebelang en eie begeertes vooropstel nie. Vra die Heilige Gees om jou te lei om verhoudings te bou, en dit te herstel waar nodig.

Kies om kalm en rustig op kwetsende aanmerkings te reageer. Moenie kleinserig of oorsensitief wees nie.

Kies doelbewus teen konflik. Soek na ’n vreedsame oplossing.

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.

Leef met ’n hart vol dankbaarheid.

Beskerm jou hart en gedagtes teen verkeerde invloede.

Praktiese wenke vir ’n gesin

Doen moeite wanneer die Kersverhaal oorvertel word

Maak tyd om die Kersverhaal saam te lees en saam daaroor na te dink, om na Kersmusiek te luister en Kersliedere te sing. Praat met mekaar oor Jesus se koms en hoe Hy geleef en wat Hy geleer het. Beklemtoon dit wat regtig saak maak en wat nie, juis in die Kerstyd.

Rus. En speel saam

Nie almal het ewe lus of ewe veel energie vir allerlei aktiwiteite nie. Vind uit wat jou gesinslede se behoeftes is. Wil hulle tydens die vakansie baie lees of baie swem? Gun mekaar dan die ruimte om te ontspan soos wat elkeen se behoefte is. Sorg ook vir aktiwiteite wat almal saam kan doen – saam kosmaak, saam gaan stap, saam bordspeletjies speel. Sulke dinge bevorder ’n gevoel van samehorigheid, dit skep die geleentheid om mekaar beter te leer ken, en dit kweek nuwe herinneringe.

Reik uit

Kies om ’n buitestander of ’n alleenmens of ’n sieke op ’n praktiese manier te seën. Doen dit met ’n geskenk of ’n kuiertjie of ’n ete. In Lukas 10:5-6 beveel Jesus sy dissipels om ’n vredesgroet oor ’n huis uit te spreek wanneer hulle daar besoek aflê. “As die wat daar bly, dit waardig is, sal

die seën bly; as hulle dit nie is nie, sal die seën na hulle terugkom.” Oorweeg dit om vir ’n gesin te bid wanneer julle by hulle besoek aflê.

Wees realisties

Geen gesin of familie is perfek nie. Weet maar dat daar soms struwelinge gaan voorkom en dat daar ook ongemaklike oomblikke of moeilike dae sal wees. Aanvaar dit, en kies dan om jouself te vergewe, én jou familielid. Leer hoe om genade te betoon. Moenie ’n wrok koester nie. Moenie skinder nie.

Wees ook realisties wanneer julle die Feestyd se aankope, etes en geskenke beplan. Besluit vooraf op, byvoorbeeld, kleiner geskenke. Of beplan ’n uitstappie of reël ’n aktiwiteit as geskenk. Praat met mekaar oor die samelewing se verwagting dat alles in oordaad moet geskied. Kies om mekaar met liefde en tyd te bederf.

Stel gesonde grense

Om vrede te soek en/of vrede te maak, beteken nie dat jy noodwendig alles moet aanvaar of daarmee vir lief neem nie. Indien ’n gesprek ongemaklik raak, kan jy jou verskoon of die onderwerp verander. En gun jouself alleentyd wanneer jy oorweldig voel.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF