Daar is feitlik nie meer ’n gesin in Suid-Afrika wat nie geraak word deur kinders en kleinkinders en ander familielede wat landuit is nie. Wanneer Kersfees kom, word hierdie situasie vir baie op die spits gedryf. Hoe besweer jy die verlange na jou mense – broers en susters, kinders en kleinkinders – wat in Anderland leef?
Emosioneel gesproke lewer emigrasie geen wenners op nie, sê dié wat ten nouste daardeur geraak word. Daar is slegs verlange, en ’n groot leemte.
Die leemte en verlange word veral tydens Kerstyd byna onhoudbaar. Om alleen in ’n winkelsentrum rond te loop en te hoor hoe “Stille nag” iewers gesing word …
Is daar iets wat hieraan gedoen kan word – behalwe om sak en pak in Australië te gaan kuier en Kersfees daar saam deur te bring? Of in die Verenigde Koninkryk, of Nieu-Seeland, of Kanada?
Twee LiG-lesers, een in Suid-Afrika met kinders in Australië, en een in Nieu-Seeland met familie in Suid- Afrika, vertel hoe hulle probeer om Kerstyd oor oseane heen spesiaal te maak:
Susan Scholtz se dogter en dié se gesin woon reeds byna twee jaar in Australië. “Die groetery was érg,” sê Susan, “en ons het gewonder wanneer ons mekaar weer sou sien. Toe kom die eerste Kersfees.”
Elana Froneman en haar gesin woon al ses jaar in Nieu- Seeland. Kerstyd, sê sy, is steeds vir almal moeilik.
Nuwe tradisies
Dié gesinne het met verloop van tyd ’n klompie moontlikhede ondersoek, en sommige as tradisies gevestig, ten einde die Kersfees-verlange ’n bietjie draagliker te maak.
LEES OOK: ’n Vars en sinvolle Kersfees
Susan sê hulle het geleer dat die kleinkinders-wat-ver-is slegs ’n betekenisvolle verhouding met die grootouers kon bou omdat daardie kinders se ouers intens daarby betrokke was. “Die ouers maak inderwaarheid ’n verhouding tussen jou en jou kleinkinders moontlik. Dis tog die ouers wat ’n video-oproep met ’n jong kind fasiliteer, of wat foto’s aan die grootouers stuur. Só maak hulle die oumas en oupas opnuut deel van die kleinkinders se leefwêreld.”
Elana laat weet dat die tydverskil tussen lande in ag geneem moet word wanneer ’n oproep gemaak word. “Veral ’n video-oproep kan nogal vir pret sorg wanneer iemand in pajamas betrap word!”
Video-oproepe met ’n verskil
’n Video-oproep het deesdae ’n staatmaker geword. Almal met familie oorsee, juis ook die oumas en oupas met kleinkinders-wat-ver-is, gryp dié stukkie moderne tegnologie met ’n dankbare hart aan. ’n Video-oproep bied wel ook meer as bloot ’n aangesig-tot-aangesig-gesprek. Hier is ’n klompie moontlikhede:
Maak saam kos
Besluit op een Kersfees-gereg wat vir julle spesiale betekenis het en skaf die bestanddele aan. Dit sal interessant wees om die onderskeie handelsmerke en etikette te vergelyk. Plaas die foon op ’n staander in die kombuis waar elkeen kan sien wat die ander doen.
Julle kan ook afsonderlike geregte maak, en dalk kan die emigrante die tuisblyers voorstel aan ’n tipiese gereg van die land waar hulle nou woon.
Bak vooraf (of koop) kolwyntjies en versier dit so saam-saam. Wat van pogings om unieke patroontjies te maak, en ’n (virtuele) prys aan die wenner?
Pak ook gebakte Kersversierings só aan. Maak byvoorbeeld iets wat aan elkeen se Kersboom gehang kan word.
Speel saam
’n Video-oproep kan ook ingespan word vir ’n Kersfees-vasvrakompetisie. Gee vooraf kennis en laat elke span (tuis én weg) ’n klompie vrae opstel. ’n Bordspeletjie soos Pictionary is groot pret wanneer dit virtueel gespeel word.
’n Skattejag
Veral die kleintjies in Anderland sal so iets geniet. Laat een van die grootmense daar ’n klompie lekkers toedraai en wegsteek en ouma en oupa vooraf inlig oor die wegsteekplekke. Wanneer die skattejag begin, kan laasgenoemde tydens die video-oproep die kleingoed met die soektog help (of op ’n dwaalspoor lei).
Sing saam
Stel vooraf ’n lys op met elkeen se gunsteling-Kersliedere. Wanneer die video-oproep begin, word ’n klompie kerse in elke huis aangesteek. Dit kan ’n mooi, gewyde geleentheid word. Wanneer die kerse brand, kan julle begin sing.
Versier die Kersbome
Spreek ’n geskikte tyd af vir die versier van die onderskeie Kersbome. Dit kan ’n lekker speletjie word wanneer die versier-proses, om die beurt, item vir item geskied. Die emigrante kan byvoorbeeld ’n klokkie ophang, en die tuisblyers kan daarop reageer deur ’n soortgelyke versiering aan te bring. Kyk hoe lank julle dié patroon kan volhou.
Tyd vir geskenke
Oumas en oupas wat hul sout werd is, sal sorg dat die kinders en kleinkinders se geskenke betyds in Anderland opdaag. Daar is talle maniere om dit reg te kry, onder meer deur internasionale besteldienste te gebruik wat sal sorg dat die geskenke tuis afgelewer word.
Spreek nou met die familie af wanneer dit oopmaaktyd word sodat julle deur middel van ’n video-oproep in mekaar se vreugde kan deel.
Nog planne teen die verlange
Maak ’n adventskalender
Maak ’n digitale adventskalender met daaglikse bydraes van al twee kante af – grappies, foto’s en lekker herinneringe. Julle kan ook ’n gesamentlike album op ’n internetplatform soos Google Photos begin en die afgelope jaar se foto’s daarop plaas.
Neem ’n storie op
Lees een van jou kleinkinders se gunstelingstories op video voor, of neem bloot die klank op. Daar is selfoon-toepassings wat jou hiermee kan help, juis met kinderstories. Die kinders kan, soos kinders maar maak, oor en oor na sulke stories luister.
‘Dis wat ons ook probeer doen’
Elana sê: “Ons skep geleenthede. Hoewel dit soms vir die kleintjies moeilik is om deur middel van ’n skerm saam met oumas en oupas te kuier, verhoed dit ons nie om gereeld te bel nie. Ons spreek ’n vaste tyd af wat almal pas. Naweke werk gewoonlik beter, omdat al die verpligtinge asook die kinders se program dan buigsaam is.
“Ons oproepe is nie tot verjaardae en ander ‘groot’ dae beperk nie. Dis vir ons belangrik om die klein, alledaagse dingetjies met die oumas en oupas te deel.”
Susan sê: “Dis vir ons bitter sleg om nie meer aktief deel van ons kleinkinders se lewe te wees nie. Ons kan nie meer ’n skoolkonsert of ’n wedstryd of ’n sportbyeenkoms bywoon nie. Maar ons onvoorwaardelike liefde vir hulle help ons om ons kosbare verbintenis met hulle in stand te hou en selfs uit te bou. Ons verskuif doelbewus ons fokus weg van alles wat ons mis, en probeer om kreatief te werk te gaan om te doen wat ons onder die omstandighede kan doen.
“Ons het ook begin om na mense in ons omgewing uit te reik wat in dieselfde bootjie as ons is.”















