’n Naweekprogram propvol sport- en ander aktiwiteite klink dalk ideaal, maar indien een of meer van jou gesinslede daaroor kla, of telkens die nuwe week sonder woema begin, is dit dalk tyd om dié sosiale program te hersien. Dis nie altyd maklik nie, maar hier is ’n klompie wenke om dit reg te kry.
Die skryfbord in jul kombuis wys dat die komende naweek wéér ’n bedrywige een gaan wees. Daar is sport (by twee skole), ’n gholfdag, ’n jeugbyeenkoms by die kerk, ’n Saterdag-braai by vriende.
Dit word gevolg deur Sondag se erediens en ’n wyk-braai. Dit sal, soos altyd, fyn beplanning kos om al dié sosiale verpligtinge na te kom.
Kwaliteit gesinstyd is die grondslag
Hoewel die verskillende samekomste etlike uiteenlopende voordele en geleenthede bied, kan dit gebeur dat jou gesin té besig is, dat julle heimlik na ’n bietjie rus en vrede hunker.
Die waarde wat gesinne en gesinstyd tot ons lewe (en die samelewing) kan voeg, moet nooit onderskat word nie. Die gesin moet ’n veilige ruimte wees waar jy voel jy “behoort”, waar jy gekoester word. Dis hier waar jy jou sosiale vaardighede kan oefen, en van waar jy die wêreld kan verken.
Lianna Morrison, ’n opvoedkundige sielkundige op Hermanus, sê dat ons almal die behoefte het om te sosialiseer en verhoudings te bou. ’n Gesin vorm die grondslag hiervoor.
“Ons gesin behoort die plek te wees waar ons leer om te sosialiseer, waar ons waardes en norme gevestig word, en waar ons self bepaalde tradisies en rituele vestig. ’n Kuier en ’n viering saam met ander gesinne versterk hierdie gewoontes en verhoudings, en dit skep ´n gesonde gemeenskap. Ons het mekaar nodig.”
’n Gesin baat dus beslis, en op vele maniere, by sosialisering met ander gesinne. Hierdie sosialisering bied ondersteuning en ontspanning. Ons kry die geleentheid om ander mense beter te leer ken, om nuwe vaardighede aan te leer en om ons vlerke te sprei.
Ons gesin, en ons gesinstyd, staan egter sentraal. Indien ons só besig is dat ons nie by mekaar uitkom nie, verloor ons iets kosbaars.
Sinvolle sosialisering vir besige gesinne
’n Gesin moet seker maak dat almal gelukkig is met die sosiale program. Lianna wys daarop dat enkelinge se behoeftes verskil, en dat ’n gesin in verskillende fases ook verskillende behoeftes sal hê. Al dié dinge moet in ag geneem word wanneer aktiwiteite beplan word.
“Gesonde interaksie beteken dat almal in die gesin positief voel ná so ’n byeenkoms, gretig om dit weer te doen. Indien een gesinslid dit baie geniet het, terwyl die ander die tyd omgewens het, sal julle dalk dié soort uitstappie moet heroorweeg.
“Daarom is dit noodsaaklik om oor jul onderskeie belewenisse te praat. Wees eerlik met mekaar. Was die uitstappie dalk te lank, of het sommige dalk uitgesluit gevoel?
“Dié soort gesprek is veral belangrik wanneer julle introverte én ekstroverte in ag moet neem. Probeer dan om ’n middeweg te vind. Kies dalk minder uitstappies, of besluit om slegs ’n uur of twee te kuier. Of om ’n dag lank, in plaas van ’n hele naweek, weg te gaan.
“Nie elke kuier sal perfek wees nie, maar daar moet méér lekker as slegte ervarings wees. Ken jou gesin, sodat jy weet wanneer iemand genoeg gehad het. Respekteer dit dan.”
Te veel van ’n goeie ding?
Die gevaarligte behoort te flikker wanneer verhoudings en verpligtings buite julle gesin prioriteit geniet bo die onderlinge gesinsverhoudings. Hieroor sê Lianna: “Die belangrikste is dat julle in voeling bly met mekaar. Ons staan tyd af aan dit wat vir ons belangrik is, en indien jy soveel tyd aan dinge buite jou huis en gesin afstaan dat jy jou huismense afskeep, sal dit jou gesin negatief beïnvloed.
“Gesinslede wat voel dat hulle nie raakgesien word nie, of nie tel nie, sal moontlik op ander, verkeerde maniere na aanvaarding en ondersteuning gaan soek.”
Wenke vir besige gesinne
- Beperk die aantal aktiwiteite waaraan gesinslede deelneem. Indien iemand regtig aan alles wil deelneem, vra eers: “Watter van hierdie dinge is regtig vir jou lekker, en watter doen jy bloot omdat jy bang is jy mis iets?” Indien jy self gedrewe voel om elke naweek iewers anders te wees, moet jy jou eerlik afvra hoekom dit vir jou so belangrik is. Het jy werklik ’n groot behoefte om te sosialiseer? Hunker jy na die uitdaging? Of is daar iets by die huis wat jy probeer vermy?
- Beplan minstens een aktiwiteit per week waar almal in die gesin kan saamkom. Dit kan beteken dat almal saans teen 18:00 tuis is om koffie op die stoep te drink, of tuisgemaakte pizza of hamburgers op ’n Vrydagaand te geniet. Of ’n Saterdag-uitstappie met die honde. Doen moeite om iets te kry waarvan almal hou. Indien almal van braai of bordspeletjies of fietsry hou, moet dit ’n deel van jul program vorm. Bevestig vooraf met jou gesin wanneer julle by geleentheid ’n ander gesin hierby betrek – maar sorg vir genoeg alleentyd vir die gesin.
- Beplan klein rituele wat almal veilig en gekoester laat voel. Koop weekliks malvalekkers vir die naweekbraai (as jou gesin daarvan hou). Of sorg vir tuisgebakte beskuit of varsgemaalde koffie. Skep gemaklike ruimtes in jou huis waar die ganse gesin kan saamkom en dinge kan doen wat lekker is.
- Eet saam aan tafel. Dit gaan nie elke ete, of selfs elke dag, moontlik wees nie. Maar doen moeite om gereeld om ’n gedekte tafel saam te kom en oor jul dag te gesels.
- Dit kan wees dat sommige gesinslede meer interaksie nodig het as ander. Vind die balans. Nie almal hoef byvoorbeeld die skool se sportdag of die fietswedren by te woon nie. Sorg egter vir genoeg aktiwiteite waar julle gesin en jul gesinstyd die fokuspunt is.
Help, ons gesin is eensaam!
Omstandighede soos die afgelope inperking, siekte, finansiële probleme of werkverlies kon beteken dat sommige gesinne afgesonder geword het of hul ondersteuningsnetwerk verloor het.
Indien jy reken dat julle te min sosialiseer en by die ondersteuning van ander gesinne sal baat, doen dan moeite om na ander uit te reik. Skep vir julle ’n gemeenskap.
Vind uit of jul kerk dalk aktiwiteite of uitreikaksies het waarby julle kan inskakel.
En as die gedagte aan sosialisering oorweldigend voel, begin dan klein. Indien jou kinders se vriende kom kuier, kan julle die ouers uitnooi om tee en happies by julle te geniet. Jou huis, of jou eetgoed, hoef nie perfek te wees nie.
Reik uit na nuwe intrekkers. Oorweeg dit om saam na die dorp se Saterdagmark te gaan.
Kyk of julle by ’n klub kan inskakel wat jul belangstelling prikkel. Bied hulp aan by ’n plek wat jul vaardighede nodig het.
Jy kan jou vriende kies, maar …
Daar is ’n bekende sêding wat lui dat jy jou vriende kan kies maar nie jou familie nie. Dis egter ook waar dat jou familie vriende kan kies met wie jy nie noodwendig goed oor die weg kom nie. Indien jou lewensmaat se beste vriend jou nie aanstaan nie, of jou kinders se beste vriende telkens amok maak, kan dit onenigheid in die gesin tot gevolg hê.
Soms kan dit nodig wees om aan kinders te verduidelik dat ander volwassenes en selfs gesinne keuses maak wat nie in julle gesin aanvaarbaar is nie. Net omdat dit by iemand anders se huis gebeur, beteken dit nie dat júlle dit goedkeur of sal toelaat nie. Indien iemand ’n slegte voorbeeld stel of ’n slegte invloed op julle gesin het, kan dit nodig wees om besoeke tot ’n minimum te beperk of, beter nog, heeltemal te vermy.
Lianna Morrison praktiseer as opvoedkundige sielkundige op Hermanus. Sy kan gekontak word by 028 313 1669.
Lees nog artikels vir die gesin.