DEUR MILANIE VOSLOO
Voel jy ook, soos ek en duisende ander, soms na ’n mislukking? Of jy net niks goed en reg kan doen nie? Dit terwyl ander so in beheer, gelukkig en perfek “lyk”? Die waarheid is dat, ongeag die voorgee-prentjies wat ons vir ander skilder, niemand perfek is nie. Soos die titel van John Ortberg se boek sê: Everybody is normal till you get to know them.
LEES OOK: Wanneer hemelhoë branders woed
Ook die feit dat ons kinders van die Here is, beteken allermins dat ons altyd die regte dinge doen, die regte besluite neem, in immer-goeie verhoudings leef en van elke uitdaging ’n sukses maak. Ons bly stukkende en gebroke mense, máár ons kan ook anders daarna kyk, want dis mos juis waarom God sy Seun gestuur het. Om ons van onsself te red en elke dag te help om in hierdie gebrokenheid as sy verloste, begenadigde sondaarkinders te leef. 1 Johannes 1 vertel vir ons dat ons maar kan aanvaar dat ons almal stukkend is en ook dit vir Hom kan gee:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid – 1 Johannes 1:8-9.
Geloofsgroei is om jou eie onvolmaaktheid te besef en dan eerlik met God daarmee te leef. Wanneer dít gebeur, kan Hy ons in ons gebrokenheid toevou, help en … met sy lig na vrede lei.
Flentermens
Here Jesus,
dankie dat U my, flentermens, so lief het!
Dankie dat U lankal aanvaar het
dat ek maar ’n goeie droogmaker kan wees.
Dat U dit vergewe
en dat U my wil help om
op te staan en weer te probeer.
Werk asseblief maar weer
vandag die flenters van my lewe aanmekaar
tot heelmens.
U mens.
- Milanie Vosloo is die eienaar van ’n bemarkingsmaatskappy, topverkoperskrywer van geestelike boeke en ’n gereelde rubriekskrywer vir LiG. Milanie gaan ook tydens LiGter, ’n aanlyn tydskrifprogram, een van die gassprekers wees.