Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

God se genade is groot. Kyk net op!

Simone Gauche foto1: God se genade is groot

DEUR SIMONE GAUCHE

Die verhaal van die Israeliete se jare lange trek uit Egipte na die land wat aan hulle belowe is, is een van ’n ondankbare en ongehoorsame volk, en van hul genadige en liefdevolle God. Keer op keer draai hulle weg van Hom; keer op keer vergewe Hy hulle. En red Hy hulle van hulleself.

Uiteindelik sondig hulle so gruwelik dat die Here daardie eerste geslag wat uit Egipte getrek het, verhoed om hul voete in die beloofde land te sit. Veertig jaar lank swerf hulle in die woestyn.

Wanneer mense nie van jou hou nie

’n Mens sou reken dat die daaropvolgende geslag uit hul voorouers se foute sou leer. Húlle sou immers die land van melk en heuning ingaan en hul Here se beloftes ontvang.

Maar in Numeri 21 lees ons weer oor afvalligheid. Ongeduld. En hulle onthou niks. “Die volk het teen God en teen Moses uitgevaar: ‘Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterf? Want daar is geen brood of water nie, en ons walg van die ellendige kos’” (Num 21:4-5).

Vergete is God se magtige dade wat hulle bevry het, en vergete die wonderwerke wat Hy gedoen het sodat hulle kon oorleef. Daardie nuwe geslag was maar soos die oue: Hulle het gesukkel met gehoorsaamheid en getrouheid, en met hul geheue.

Ons ken dit. Ja, ook ons. Elke geslag het ’n stryd met gehoorsaamheid, ’n  geskiedenis van struikeling. Ons vergeet alte gou hoe God ons in die verlede bygestaan het. Ons lewe vir nou, vir kitsbevrediging. Ons dink nie aan ’n groter plan nie.

Sulke afvalligheid kom ons duur te staan.

Luister tog hoe die Here destyds op sy mense se afvalligheid gereageer het: “Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur en hulle het die volk gepik. Baie mense van die volk Israel het gesterf” (Num 21:6).

Die volk se sonde lei tot groot ellende, en gou besef hulle hoe verkeerd hulle opgetree het. Hulle kom tot inkeer en vra Moses om vir hulle te bid sodat God hulle moet verlos.

Daarop leer die Here hulle op ’n baie praktiese manier wat hulle te doen staan wanneer hulle die pad byster geraak het: Hulle moet opkyk. “Die Here het vir Moses gesê: ‘Maak vir jou ’n slang en sit dit op ’n paal, dan sal elkeen wat gepik is en daarna kyk, bly leef’” (Num 21:8).

Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. En elkeen wat opgekyk het, is gered. God se kinders leer dat daar altyd uitkoms is vir dié wat opkyk …

Dit maak nie saak in watter diep moeilikheid jy jou bevind nie. Dit maak nie saak hoe groot jou sonde is nie. Kyk net op: Daar is jou hulp en jou redding.

Ons is sondaars. Ons maak foute en leer dikwels slegs op die harde manier. Maar God is goed. Sy genade is groot. Kyk net op!

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF