DEUR SIMONE GAUCHE
Daar is ’n bekende Engelse liedjie wat ek uit my Kinderkransdae onthou wat só vertaal kan word: “God se liefde is so wonderlik – so hoog dat jy nie daar óór kan kom nie; so diep dat jy nie daar ónder kan kom nie; so wyd dat jy nie daar óm kan kom nie. O, wonderlike liefde!”
Ons almal bely dat ons in God se liefde glo, maar ek wonder tog of gelowiges besef hoe min ons van dié liefde begryp. Dat God se liefde so hoog is dat ons nie met ons verstand daar oor kan loer nie; so diep dat ons gedagtes nie ver genoeg kan daal om dit te begryp nie; so wyd dat ons nie ons kop daar om kan vou nie.
LEES OOK: Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers
Ons het probleme as ons reken dat ons God se liefde volkome verstaan, en dit selfs wil omskryf. Hierdie probleme lei onder meer daartoe dat ons God se liefde aan óns reëls en óns voorwaardes ondergeskik stel. Ons wil namens God besluit wie Hy mag liefhê, en wie nié. Of Hy mense met ’n ander geloof as ons s’n mag liefhê, mense van ’n ander kerk of ras of kultuur of seksuele oriëntasie as ons s’n.
Dis almal mense wat, soos ons, na God se beeld geskape is …
Ons kan nie sy allesomvattende liefde kleinkry nie; ons verstaan dit doodgewoon nie. En nou wil ons dit beperk. Ons wil hê dat God liefhê soos ons liefhet – met allerlei voorwaardes, binne bepaalde grense, onderhewig aan sekere beperkings. Ons maak sy liefde tot iets wat ons kan verstaan en wat vir ons sin maak. Dalk wel ’n liefde vir sondaars, ja, maar wat tog net op sekere sondes van toepassing is. Daar ís darem sondes wat onvergeeflik is …
As ons mooi daaroor nadink, is dit eintlik heel absurd dat óns reken ons kan namens ’n alwetende God besluit wie Hy mag liefhê en wie nie.
* Hoe sal ons ooit die soort liefde verstaan waarmee Hy sy Seun vir ons sondes laat sterf het?
* Of die liefde wat 99 skape alleen laat om die verlore een te gaan soek?
* Hoe kan ons die liefde verstaan wat sonder ophou vergewe?
* Die liefde van die verlore seun se vader?
* Die soort liefde waarmee Jesus ’n moordenaar vergewe terwyl Hy onskuldig aan ’n kruis hang?
Die bekende priester Richard Rohr het op ’n keer gesê: “God is altyd groter as die bokse wat ons vir Hom bou; ons moet dus nie te veel tyd mors met die beskerming van sulke bokse nie.”
LEES OOK: Met die hart van ’n kind
Ons is egter lief daarvoor om vas te klou aan ons boksies, ook dié waarin ons God se liefde geprop het. Dié liefde sal altyd vir ons onverstaanbaar wees, onmeetbaar groot. Maar wanneer ons Hom beter leer ken, verdiep ons verstaan daarvan. En ons groei in dié liefde.
Ons sal wel nou reeds die lewe vir onsself baie makliker maak as ons ons berus in die wete dat ons in ’n dowwe spieël kyk. As ons ons eerder daarop toespits om in sy liefde te groei.
Miskien wil jy ook hierdie week bid dat God sy liefde sal laat ontplof uit die boksie wat jy daarvoor geskep het!
Hoor dan Paulus se gebed vir die gemeente: “Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God” (Ef 3:19).
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.