Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

God se liefdesbriewe aan jou

DEUR SIMONE GAUCHE

My oudste het pas leer skryf. Letters, syfers.

Hy is nou versot daarop om syfers te teken. Hy doen dit oral, en wanneer ook al die geleentheid hom voordoen: Daar is syfers in bordkryt buite op ons stoep en op elke pilaar. Hy teken syfers op my kar se ruite in die wasem van ’n klein asempie. Daar is syfers in al die kleure van die reënboog op elke bladsy van sy inkleurboek.

As hy ’n stofbesmeerde kar sien, teken hy ’n syfer met sy vingertjie in die stof. As hy ’n stokkie kry, teken hy ’n syfer in die seesand. As hy Mamma se foon in die hande kry, tik hy kamma foonnommers in en lees dit vir my. As ons saans lees, verkyk hy hom aan die bladsynommers in die hoekie van elke bladsy.

LEES OOK: Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers

Ek kan my indink dat daar vir hom ’n nuwe wêreld aan die oopgaan is. Daar is immers allerlei syfers oral om ons – op verkeerstekens, op advertensieborde, op winkelvensters, op papbokse, op die televisieskerm, op ons motor.

Maar só, met my kind se nuwe  belangstelling, het dit gebeur dat syfers vir my niks anders nie as liefdesbriefies geword het. Elke syfer en elke nommer wat ek waar ook al sien – op ’n boek se bladsy, op my stoep, op my motor se toegewasemde ruite – laat my glimlag en laat my aan my seuntjie dink. As ek dit sien, kan ek sommer hoor hoe hy hulle lees. En as ek iewers groot syfers in ’n helder kleur sien, kan ek in my verbeelding sien hoe hy dit geniet.

Gewilde LiG-rubriekskrywer Simone Gauche is \’n mediese dokter van Mosselbaai. Foto: Emily Bunting

Dit laat my ook altyd dink aan die liefdesbriefies wat die Here vir ons skryf en iewers plaas. As ons tog net wil oplet, sal ons sien hoe die ganse skepping God se liefde vir ons verklaar.

Daar is ’n “ek het jou lief” in elke reënboog, in die druppeltjies dou wat in die son glinster, in die prentjies wat die wolke vir ons teken.

LEES OOK: God sien self om na sy wingerd

Die berge sê “ek bemin jou” in die pienk en pers en blou wat die skemer bring.

Daar is ’n liefdeslied in die geritsel van die blare in die wind; in die gekabbel van ’n waterstroompie; in die voëltjies wat die koms van die nuwe dag aankondig.

Die Here fluister troetelname in die reën wat saggies op ’n sinkdak val. Hy gesels in die gezoem van ’n by of die koer van ’n duif.

Hy plaas sy hand op ons skouer deur die wintersonnetjie wat op ons rug bak. Hy kielie ons voete met nuwe gras.

Die sterre flikker soos die glinstering in sy oë wanneer Hy ons sien of aan ons dink. Ons kan sy liefde ruik in die jasmyn wat oor die muur kruip, in die sproeireën van ’n lemoenskil, in die soutsmaak van die see.

En as ons in die spieël van ’n seepgladde wateroppervlak kyk en onsself in die weerkaatsing herken, sien ons sy grootste liefdesbrief. Dan weet ons opnuut dat ons na sy beeld gemaak is.

Ja, jy is die kroon van sy skepping.

Let dus op. Luister maar. Sy liefdesbriefies is oral om jou. Jy is sy beminde. Kyk om jou, glimlag, en eien daardie liefde vir jou toe.

Hoor hoe sing die Bybelse digter:

“Hy het die hemel met soveel insig gemaak.

Aan sy liefde is daar geen einde nie. 

Hy het die aarde op die waters gevestig.

Aan sy liefde is daar geen einde nie. 

Hy het die groot hemelligte gemaak,

Aan sy liefde is daar geen einde nie. 

die son om te heers oor die dag,

Aan sy liefde is daar geen einde nie. 

die maan en die sterre om te heers oor die nag.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

– Ps 136:5-9

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.