DEUR SIMONE GAUCHE
Ons lewe in ’n tyd van ontnugtering en onvergenoegdheid. Ons is teleurgesteld in onsself en in wat ons aan ons wêreld en aan mekaar doen.
Ons besef deesdae hoe ons die aarde besoedel en gaandeweg vernietig. Ons weet ons verbruik meer as wat ons werklik nodig het, tot ons almal se nadeel. Ons weet ons moet herwin. Ons besef ons moet wegbly van die sogenaamde gerief wat alles met die voorvoegsel “kits” ons bied.
LEES OOK: My verwerking van Psalm 19
Daarby is ons maar té bewus van wat ons mekaar aandoen. Maar om die een of ander rede is dit te moeilik om van ons ou denkwyse en handelswyse afskeid te neem. Dit ontnugter ons en lei tot onvergenoegdheid, wat allerlei afmetings aanneem: Ons word redeloos kwaad vir mekaar; ons bedink planne teen mekaar; ons skep ’n behae daarin om mekaar se foute en tekortkominge uit te wys.
En deurentyd besef ons dat ons eintlik ons hand in eie boesem behoort te steek. Maar dis moeilik …
Uiteindelik word God se beeld in ons verduister – en ons besef dit. Ons vind dit toenemend moeilik om God se beeld in ons raak te sien. Ons sluk swaar aan wat die Genesisskrywer sê: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep” (Gen 1:27).
Dit word, inteendeel, makliker om ons hiérmee te vereenselwig: “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief” (Gen 6:5-6).
Ons sien nou maklik raak hoe die mens ná die sondeval steeds faal en kort-kort in boosheid verval. Het die Ontwerper dalk ’n fout gemaak toe Hy die mens geskape het?
Die meesterplan
Ons moenie ons eie insig en gevoelens oorskat nie; daardeur onderskat ons God – en dit kán tog nie! Lees mooi wat die Genesisskrywer ook sê: “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed” (Gen 1:31). En die psalmdigter: “U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon” (Ps 8:6).
Ons moet weet dat God deurgaans sy kinders opsoek, ten spyte van alles wat hulle dink en sê en doen.
Die vraag kom dan by ons op: Wat is dit wat God in die mens raaksien? Luister wat antwoord Johannes: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh 3:1).
Ja, God kyk anders na ons as wat ons dalk dink. Ons moet weer by daardie punt kom waar ons na onsself en na mekaar en na ons omgewing kyk en kan sê: “Ek is baie goed; jy is baie goed; alles en almal wat God geskep het, is baie goed. Want God is goed.”
Gelowiges moet kan erken dat almal en alles op ’n wonderbaarlike en eintlik onverklaarbare manier deur ’n Skeppergod aan mekaar verbind is. En dan moet ons dit vier. Want ten spyte van wat ons doen of gedoen het, en hoe ons oor onsself of oor ander voel, beleef ons God se groot genade in ons lewe.
Hierdie verbintenis met God en met mekaar is op niks anders nie as liefde gegrond. Sy onvoorwaardelike liefde maak alle verskil in ons lewe. Dis ’n allesomvattende liefde waaraan daar geen einde is nie.
Deur ons geloof in hierdie soort liefde uit te leef, kan ons ons perspektief weer verander. Kan ons afskeid neem van die knaende ontnugtering en teleurstelling. Sy liefde gee betekenis aan ons lewe, juis in hierdie vreemde tye en deurmekaar wêreld. Juis wanneer ons aan onsself twyfel, en teleurgesteld is in wat ons dink en sê en doen. Sy liefde motiveer ons om anders na onsself te kyk.
Dis sy liefde wat ons leer om te vergewe, ook onsself. Nou kan ons Hom verheerlik deur sy doel vir ons lewe te soek en dit uit te leef.
Ons kan met vrymoedigheid sê: Liefde is God se meesterplan.
Luister weer na Johannes: “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes” (1 Joh 4:10).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.