DEUR SIMONE GAUCHE
Ons kan die lewe se keerpunte en draaipunte nie vermy nie, en dit sorg alte dikwels vir allerlei vrese en kommer. By elke nuwe afdraaipad doem daar gewoonlik ’n nuwe bangmaak-bekommernis voor ons op. Soms, wanneer ons ’n nuwe rigting inslaan, voel dit asof ons die Here agterlaat. Ons wonder of Hy steeds saam met ons is wanneer ons die onbekende betree.
Is dit die begin van jou kinders se nuwe skooljaar, wonder jy of hulle gou genoeg nuwe vriende sal maak. Of hul juffrou hulle met liefde en deernis sal behandel. Of hulle gelukkig sal wees.
Is dit jou eerste dag by ’n nuwe werk, wonder jy of jy die regte besluit geneem het. Is dit reg vir jou én jou gesin? Sal die finansies uitwerk? Sal jy lekker genoeg werk?
Trek jy na ’n nuwe dorp of stad of selfs ’n ander land, wonder jy of God ook daar saam met jou sal wees.
Die Bybel troos en bemoedig ons wanneer ons onseker of bang of bekommerd is. Die Here se seën, só leer ons in die Bybel, is nie beperk tot ’n vasgestelde tyd of plek of bepaalde omstandighede nie. Sy goedheid volg jou tot waar jy nou is. En dit sal so wees, waar jy ook al mag gaan.
Hoor hoe Moses die ou woestyntrekkers met die Here se woorde getroos en bemoedig het: “Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld. Jy sal geseën wees waar jy ook gaan” (Deut 28:3, 6).
En weer: “Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee. Die Here sal jou oorlaai met die goeie. Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie” (Deut 28:8, 11-12).
Asook: “Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan” (Deut 30:9-10).
Leef na aan Hom. Luister na sy stem. Dien Hom met jou hele menswees. Ontvang sy seëninge met ’n oop hart en klou daaraan vas. Kommer of vrees spreek nie die laaste woord in jou lewe nie.
Vind dan jou troos in sy goedheid, in die wete dat sy seën jou voorgaan én jou volg.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.