Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

God se troue liefde agtervolg jou

DEUR SIMONE GAUCHE

Soms voel ouerskap ná ’n paar jaar so ’n bietjie asof jy agtervolg word. Jou destydse skaduwee is nou asempies wat al agter jou aan kom. As jy oor jou skouer loer, is die agtervolgers daar. En hulle roep: “Mamma!”

My ouerskapreis het begin met ons sjokoladekleurige labrador wat my agtervolg het. Die mense sê honde kies hul baas, en Brno het definitief vir my gekies. Daar waar ek kosmaak, lê hy by my voete. Hy is ’n skaduwee wat my selfs tot in die badkamer agtervolg. Hy laat rus sy poot of kop op my voete as hy by my kom lê.

LEES OOK: Wat maak jy met jou onsekerheid en twyfel?

Brno is egter op ’n manier deur besige seuntjies verjaag, twee wat al agter my aan hardloop en uitroep: “Waarheen gaan Mamma? Ek wil saamkom.” Of: “Wat gaan Mamma nou doen? Ek wil sien wat Mamma doen.” Of: “Wat is dit? Ek wil ook so een hê.” Of: “Wat eet Mamma? Ek wil proe!”

Ouerskap is ’n buitengewone voorreg en ek geniet elke oomblik daarvan. Die keersy is egter dat privaatheid en stilte ’n luuksheid geword het wat net soms aan jou gegun word. En anders as in die bekende Peter Pan-sprokie, kan ’n mamma nie haar skaduwee verloor nie.

Die Bybel gee egter \’n ander blik op dit wat gelowiges agtervolg. In die bekendste psalm sê die digter: “Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae” (Ps 23:6 – 2020-vertaling).

Dalk is dit omdat ek verstaan hoe dit is om agtervolg te word dat die wete dat die Here se goedheid en troue liefde my volg my so opgewonde maak. Dit maak nie saak waar ek gaan of watter storm om my woed nie, sy goedheid agtervolg my. Dit maak nie saak wat ek doen of met wie ek dit doen nie, sy troue liefde agtervolg my.

Hy sorg vir my en gee my alles wat ek nodig het. Hy voorsien altyd. Ek kan Hom nie afskud of ontglip nie. Ek kan nie vir die goedheid en troue liefde wegkruip nie.

LEES OOK: Leef ligter-luisterreeks: Kyk met God se oë

Ek vergeet wel soms dat Hy daar is. Al wat ek dan hoef te doen, is om oor my skouer te loer en Hom raak te sien.

My hond en my seuntjies kan my baie goed agtervolg. Maar die Here doen dit verreweg beter. En as ek eers daarvan oortuig geword het, voel dit eensklaps nie meer na ’n slegte idee om agtervolg te word nie …

Mag jy hierdie week vashou aan die wete dat God se goedheid en troue liefde jou agtervolg tot op die dag wat jy tuis sal wees in ons Here se huis. En onthou tog: As jy alleen voel, loer net oor jou skouer.

  • Simone Gaucheis ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.