Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

God sien self om na sy wingerd

DEUR SIMONE GAUCHE

Ek hou baie van my huisplante (oftewel, “plantbabas” soos dit soms genoem word). Daar is iets uiters ontspannend daaraan om die buitelewe na binne te bring en in jou eie huis so ’n bietjie nader aan die natuur te voel.

As jy ’n nuwe plantjie koop, is daar gewoonlik ’n lysie aanwysings by. Dit sluit in: inligting oor hoeveel sonlig die plantjie benodig; hoeveel water dit moet kry, en hoe gereeld; in watter grond dit uitgeplant moet word; wanneer en hoe jy dit moet uitplant.

LEES OOK: Die vrae wat ons in krisistye vra

Die veronderstelling is dat, indien jy dié voorskrifte volg, die plantjie sal floreer. En jy en die plantjie sal ’n lang pad saam stap.

Die werklikheid is egter nie altyd so eenvoudig nie. Daar is heelwat veranderlikes, en vir seker meer as wat op ’n klein pamflet pas …

Ek sal nie regtig sê ek het groen vingers nie. Ek probeer wel my bes, maar elke af en toe verloor ek die stryd en een van my huisplantjies sterf. Dalk het ek te min water gegee; dalk te veel. Een het waarskynlik te min sonlig gekry; ’n ander miskien te veel. Een plantjie moes vroeër uitgeplant word; ’n ander is te vroeg uitgeplant. Daar is plantluise op die een, en plantgif het ’n ander laat doodgaan.

Hoe ook al: Soveel van my plantjies het net een keer geblom: in die winkel toe ek dit gekoop het, en nooit weer daarna nie.

LEES OOK: Vertrou God met jou persoonlike oorlog

Probeer en tref – en met ’n goeie dosis geluk. Dit is ek en my huisplante …

In Jesaja praat God oor sy goeie wingerd, sy pragtige wingerd, en Hy sê: “Sing daaroor!” Reg gehoor: Hy is so trots op sy wingerd dat Hy wil hê sy mense moet daaroor sing. Verder sê Hy: “Ek, die Here, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie” (Jes 27:3).

Die Here sorg self vir sy wingerd. Hy het niemand anders aangestel om dit te doen nie; dis sý werk. Hy lei dit self nat – nie elke dag of elke uur nie, maar elke oomblik. Hy gee net genoeg water, oomblik na oomblik, om seker te maak die wingerd groei en dra vrug. Hy het nie, soos ek, ’n pamflet met aanwysings nodig wat sê hoeveel lig, watter soort grond en hoeveel water die wingerd nodig het nie. Niemand hoef Hom te sê wanneer om te snoei of uit te plant nie. Hy is die Skepper. Wie weet beter as Hy hoe om na sy wingerd om te sien?

Hy pas self sy wingerd op. Uit Jesaja 27 leer ons dat geen dorings of distels tussen sy wingerd sal groei nie; Hy trek die onkruid en struike uit en verbrand dit. Geen aanvalle deur insekte of voëls of ongediertes sal sy aandag en sorg ontglip nie; Hy waak dag en nag oor sy eiendom.

Nee, niks kan die Here se wingerd skade aandoen nie. Daar is geen klein jakkalsies in sý wingerd nie.

Hy versorg. Hy gee water. Hy beskerm. Ons het niks meer nodig nie. Ons hoef nie aan sy versorging te twyfel nie. Daar is niemand anders wat beter na die wingerd kan omsien as die Skepper self nie. Al wat ek en jy hoef te doen, is om sy beskutting aan te gryp.

Weer Jesaja: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes 27:6).

Mag jy hierdie week rus vind in die wete dat jy ’n loot aan sy wingerdstok is, en dat God self na jou omsien. Hy weet presies wat jy benodig, elke dag, elke oomblik. Hy pas jou op.

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.