DEUR MILANIE VOSLOO
God ken jou! Elke deel van jou menswees is in sy hart gegraveer en Hy koester jou met groot liefde en deernis.
Die vraag is: Ken jy Hom? Nie net jy “weet van Hom” omdat jy van kindsbeen van Hom gehoor het, na preke luister en die Woord lees nie. Die vraag is:
LEES OOK: Moenie moed opgee met mense nie
Ken jy Hom, soos in: Ek het ’n persoonlike verhouding met Hom. ’n Intieme verhouding waarin ons gereeld met mekaar praat, waar ek beleef dat Hy na my luister en waar ek tyd maak om sý stem te hoor. As jy so intiem saam met Hom leef, sal jy gedurig verras word deur hoe goed Hy jou verstaan en die manier hoe Hy jou persoonlik met Homself bederf.
God ken jou en wíl jou lewe saam met jou leef. Maar net JY kan seker maak dat jy Hóm ken en regtig sy hart hoor. As dit so is, sal jy wéét: Hy is regtig ook jóú Hoop onder alle omstandighede.
Een met Hom
Dis so amazing dat U mý ken.
Dat U, wat God is,
in my eenvoudige menswees belangstel.
Kiés om in ’n verhouding met my te leef.
Dankie daarvoor, Heilige God!
Vandag vra ek U:
Leer my om U te ken.
Leer my om tyd saam met U te spandeer.
Werklik stil te sit by U.
U stem te hoor.
U hart te voel.
U aanraking te beleef.
U is reeds hier.
Hier is ek.
Hier by U.
Een.
Jesus sê self:
“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape en my skape ken My” – Johannes 10:14.
- Milanie Vosloo is die eienaar van ’n bemarkingsmaatskappy, topverkoperskrywer van geestelike boeke en ’n gereelde rubriekskrywer in LiG.