DEUR SIMONE GAUCHE
Ná ’n koue winter en borde vol sielskos (en dalk met bloedweinig oefening) weet ek van min mense wat hulle nou op ’n skaal sal wil begewe. Ja-nee, die pannekoek, bredie en kerrie het vir seker hul tol geëis. Dan praat ek nie eens van warmpoeding met vla nie.
Ek klim op my skaal – en huiwer eers voor ek dit waag om te kyk. Ek skrik en begin om deur my klere se sakke te soek. Is daar dan nie iets wat ek kan afgooi nie? Ek voel kompleet soos ’n groot skip wat in die moeilikheid is, met desperate matrose wat alle swaar voorwerpe oorboord gooi. Ek vind in my sakke: my selfoon, sleutels, lipstiffie, ’n ou inkopielysie … Dit alles waai, maar die verskil op die skaal is minimaal. Ek maak my belt los, trek my skoene uit, ek gooi my jas op die grond.
Dit kan nie wees nie! Die skaal moet verkeerd wees. Ek klim af, laai ’n vyf kg-gewiggie daarop, kyk angstig na die venstertjie – 5.00. Die skaal is nie verkeerd nie. Nou wat nou?
Later, toe die ergste ontnugtering verby is, dink ek ’n bietjie dieper oor die saak. En ek besef: Ons weeg ons elke dag. Dis net dit wat op die skaal geplaas word wat telkens verskil.
Soms sit ons Besittings daarop. En soms Sukses. Sommige mense weeg graag My Kinders Se Prestasies. En sommige ander My Geloof.
Die dinge wat ons op die skaal plaas, verklap dikwels ons prioriteite. En ons kry net so dikwels ’n verkeerde lesing. Ons moet weet ons skaal kan foutief wees. Dit kan sekere dinge te swaar laat weeg en ander te lig.
Ons moet ook besef dat ons geneig is om die verkeerde dinge op die skaal te plaas. Dat dit ons uiteindelik nie veel in die sak bring om ons besittings, ons sukses, ons voorkoms, ons kinders se voortreflikheid of ons geloof te weeg nie.
’n Belangrike kwessie is wel die gevolg van die weegproses. Oftewel: Wat doen ek met die inligting wat deur die skaal verklap word? Reageer ek positief daarop of ignoreer ek dit? Heroorweeg ek my prioriteite of karring ek maar aan soos altyd?
Daar is ’n alternatief … en dit is om God se skaal te gebruik. Dié skaal is nooit verkeerd nie. Maar dit word altyd in afhanklikheid gebruik. Voor ons iets daarop plaas om geweeg te word, vra ons Hom: Here, help my met hierdie hele proses. En help my om die aanduidings wat die skaal my gee, eerlik te lees en daadwerklik daarvolgens op te tree, al vra dit moeilike keuses.
Hoor ’n bietjie dié klompie Bybelse interessanthede oor ’n skaal:
“Jy mag nie met gewigte werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie. Jy mag nie met inhoudsmate werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie. Jy moet billik en regverdig afweeg en afmeet …” (Deut 25:13-15).
“Die Here het ’n afsku van ’n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg” (Spr 11:1).
“Ag, was my verdriet maar goed geweeg en my ongeluk meteens in ’n skaal opgehef!” (Job 6:2).
“En ek het ’n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit” (Op 16:1).
- Simone Gaucheis ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.