Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hoe gaan dit met jou skildklier? 

Werk jou skildklier so goed as wat dit moet? Wanneer laas het jy dit laat toets? En wat moet jy alles daarvan weet?

Werk jou skildklier so goed as wat dit moet? Wanneer laas het jy dit laat toets? En wat moet jy alles daarvan weet? Die waarheid is: Hoe beter jou skildklier (tiroïed) funksioneer, hoe beter voel jy. 

En niemand hoef daarmee te sukkel nie; dis maklik om reg te stel. Tog wys ondersoeke dat skildklierprobleme die afgelope vyf jaar toeneem in die Amerikaanse deelstaat Michigan, die Verenigde Koninkryk en Europa, en waarskynlik hier by ons ook. 

Gaan gerus deur die vraelysie hieronder. Kyk hoeveel het jy reg. Dit sal jou ’n idee gee waar jy jou bevind. 

Wat doen jou skildklier? 

a. Dit skei hormone af 

b. Dit skei glukose (bloedsuiker) af 

Jou skildklier is verantwoordelik vir drie hormone, naamlik trijodotironien en tiroksien (kortweg T3 en T4 genoem) asook kalsitonien. Hierdie hormone beïnvloed byna elke stelsel in jou liggaam, van jou hart tot jou skelet tot jou brein. 

Jou skildklier skei nie glukose af nie, maar dit het wel ’n groot invloed op die glukosevlak in jou bloed, en dus op jou gewig en hoe energiek jy voel. 

Waar vind jy jou skildklier? 

a. Agter jou neusbrug 

b. In jou nek, onder jou adamsappel 

Jy kan jou skildklier net onder jou adamsappel voel. Dit lyk soos ’n skoenlapper, en jy kan die twee “vlerke” voel deur só te maak: Plaas jou hand op jou slukderm en sluk. Die groot knop wat op en af beweeg terwyl jy sluk is jou adamsappel. Plaas nou jou duim en wysvinger net onder die adamsappel en skuif dié vingers na die sykante van jou slukderm. As jy nou weer sluk, sal jou vingers voel hoe die twee skildkliervlerkies op en af beweeg. 

Daar is ’n wel ’n klier wat min of meer regoor jou neusbrug sit, diep in jou skedel en by die basis van jou brein. Dis die pituïtêre klier. Dit lyk soos ’n rugbybal maar dis so groot soos ’n ertjie. Jou pituïtêre klier het wel met jou skildklier te doen deurdat dit ’n hormoon afskei, TSH of skildklierstimulerende hormoon. As die T3- en T4-skildklierhormone te erg daal, sorg die TSH dat meer T3 en T4 vervaardig word. Dis dus belangrik dat sowel jou skildklier as jou pituïtêre klier goed werk. 

Watter voedingstof sorg dat jou skildklier op sy beste werk? 

a. Jodium 

b. Sink 

Jou skildklier het al twee nodig, maar jodium is die noodsaaklikste. Ongelukkig is ons land se landbougrond arm aan jodium en daarom kry baie van ons te min daarvan in. Dit geld veral mense wat ’n veganistiese dieet volg, diegene wat ’n maagverklei-ningsoperasie ondergaan het, swanger vroue en vroue wat borsvoed. 

As jy tydens jou swangerskap te min jodium inkry, ontwikkel jou baba ook ’n tekort. Dit benadeel jou baba se breinontwikkeling en kan die kleinding tot tien IK-punte kos. 

’n Onlangse oorsigartikel oor jodium wêreldwyd wys dat tot 30% van die mense in arm lande ’n tekort daaraan het. In ons land het arm mense wat nie sout koop nie byna vir seker ’n ernstige tekort aan jodium. 

Nadat jodiumtekorte in die meeste ontwikkelde gemeenskappe byna uitgewis is, wys onlangse ondersoeke in Michigan, Europa en Brittanje dat ’n jodiumtekort weer kop uitsteek. Altesaam 17%-23% van die bevolking het nou lae jodiumvlakke, teenoor 2%-5% in die vorige dekades. 

Wat is daar in jou koskas wat voldoende jodium verskaf? 

a. Sout 

b. Gebottelde water 

Sout is ’n uitstekende jodiumbron, mits dit gejodeerde sout is. Sedert 1995 is dit in ons land verpligtend om alle tafelsout met jodium te verryk, en daarom is doodgewone tafelsout die beste jodiumbron. 

Sommige mense vermy sout, terwyl ander reken dat alternatiewe vir tafelsout – soos seesout, natuurlike sout en pienk sout – gesonder as gejodeerde sout is. Maar die meeste van dié alternatiewe bevat min of geen jodium. Gebruikers daarvan kan dus baie maklik ’n jodiumtekort ontwikkel, tensy hulle ander kos eet wat ryk is aan jodium, soos eiers en melk. 

’n Jodiumtekort is dus ook ’n probleem by welvarende, gesondheidbewuste mense wat sout uit hul dieet haal. 

Let wel: Al is gejodeerde sout goed vir jou skildklier beteken dit nie jy mag die soutpot leeg skud oor jou kos nie. Te veel is ook nie gesond nie. Die goue middeweg is om met ’n halfteelepel sout per dag te volstaan. 

Jy weet jy het ’n onderaktiewe skildklier as jy … 

a. Altyd koud kry 

b. Oorgewig is 

Al twee bogenoemde kan ’n teken van ’n onderaktiewe skildklier wees. Dit kan doodgewoon ook beteken dat jy te min beweeg of te veel eet. Ongelukkig is geeneen van die tekens by en simptome van ’n skildklierprobleem duidelik en spesifiek nie. Al sulke tekens kan ook op iets anders dui. 

Hier is die opvallendste simptome van ’n onderaktiewe skildklier: moegheid, gebrek aan eetlus, hardlywigheid, ’n droë vel, haarverlies, ’n gebrek aan sweet, spierpyne, gewrigspyne, depressie, vergeetagtigheid, swak konsentrasie, ongereelde menstruasie en probleme om swanger te raak. Jou hart kan besonder stadig klop en jou bloeddruk kan laag wees. 

Jy kan dalk ook opmerk dat jou vel grof lyk, dat jou gelaat bleek en selfs effens geel voorkom, dat jou hare grof voel en maklik breek. Die weefsel om jou oë kan opgeswel en pofferig wees. Sommige mense se stem word grof en hees. Jy kan ’n naalde-en-spelde-gevoel veral in jou hande en voete opmerk. Sommige mense hoor en sien ook slegter. 

Hoe gereeld moet jy jou skildklier laat toets? 

a. Elke jaar 

b. Wanneer jou dokter dink dis nodig 

Daar is verskillende riglyne. Die Amerikaners sê dat jy ná 35 jou skildklier elke vyf jaar moet laat toets. Die Britse riglyn is dat jy jou dokter moet vra vir ’n toets as jy ’n aantal simptome van ’n onderaktiewe skildklier opmerk. 

Beplan jy om swanger te raak? Laat toets vooraf jou skildkliervlak sodat jy en jou baba nie later probleme ontwikkel nie. As jy ná die bevalling moeg voel, kan jy dit gerus ook laat toets. Herhaalde miskrame is ’n verdere teken van ’n skildklierprobleem. 

Mense met ’n familiegeskiedenis van tipe 1-diabetes, outo-immuunsiektes, osteoporose en vitiligo (vlekke op die vel wat pigmentloos en dus spierwit is) moet ook hul skildklier gereeld laat toets. 

Is koffie goed vir jou skildklier? 

a. Ja 

b. Nee 

Jy mág maar koffie drink: vier koppies per dag as jy van sterk koffie hou, en tot ses koppies as jy jou koffie flou drink. Dis nou mits jy nie aan angstigheid of slaaploosheid ly nie. 

’n Onlangse ontleding van 2 582 deelnemers aan die bekende NHANES-opname het uitgewys dat koffiedrinkers se skildklier beter funksioneer by diegene met metaboliese siektes soos diabetes en hartkwale. 

Jou skildklier begin eers tydens puberteit funksioneer 

a. Waar 

b. Vals 

Teen die tyd dat jou ongebore baba vier weke oud is, het sy/hy reeds ’n skildklier, en teen elf weke kan die vlakke van haar/sy skildklierhormone al gemeet word. 

Jou baba is van jou afhanklik vir jodium. Daarom is dit belangrik dat jy, voor jy swanger raak en veral tydens jou swangerskap, genoeg jodium vir jou en jou baba het. 

Swanger vroue en mense bo sestig is meer geneig tot ’n onderaktiewe skildklier 

a. Waar 

b. Vals 

Dis waar. Daar is ’n groter risiko vir ’n onderaktiewe skildklier tydens swangerskap en in die jaar ná die bevalling. Dit raak ongeveer een uit elke tien vroue, en tot een uit elke vier vroue met tipe 1-diabetes. 

Dit waai meestal oor, maar jy kán permanent met ’n onaktiewe skildklier bly sit. Daarom moet jou dokter jou skildklier monitor. Sorg dat jy genoeg jodium inkry. 

Senior burgers is ook meer geneig tot ’n onderaktiewe skildklier. Teen sestig het een uit elke twintig vroue en een uit elke veertig mans so ’n probleem. Namate jy ouer word, word jou risiko groter. 

Vroue loop hul lewe lank ’n groter risiko as mans; ’n jonger vrou se risiko is vyf keer groter. Maar namate mans ouer word, verklein die gaping en met verloop van tyd is hul risiko byna so groot soos dié van vroue. 

Loer gerus op ons gesondheidsblad vir nog artikels oor jou liggaam en goeie gesondheid.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.